Wednesday 10 April 2019

Ons is wandelende Tabernakels



Die Wedergeboorte is ‘n Hemelse wonderwerk, ‘n geestelike gebeurtenis sonder weerga. Selfs die Engele in die Hemel Jubel van blydskap. Dawid het hom min gesteur aan wat mense oor hom dink. Hy wou altyd weet wat God van hom dink. So het hy ten spyte van foute, steeds nader aan God beweeg.

            Mens kom die eerste keer in ‘n Pinksterdiens. Die gelowiges sing en klap hande, ander met hulle hande in die lug, hulle harte en tonge jubel voor die HERE… en jy as vreemdeling staan daar soos ‘n strykplank… menssku.

            Maar as jy jou tone in jou skoene wikkel, is jy elk geval net so skuldig, so val maar liewer in, jou oë op Jesus gerig.

            Dawid se troon is die permanente troon wat Jesus op gaan sit. Dawid is ook van dieselfde bloedlyn as Jesus. Wat aanbidding betref, het God nie die tabernakel van Saul of die tabernakel  van Moses gebruik nie. God het die tabernakel van Dawid gebruik.

            Let op: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat al hierdie dinge doen.” Hand 15:16-17

            In Jerusalem het Dawid ‘n tent gehad met die flappe omhoog. Die heidene kon die tabernakel daarbinne sien. Daar was net een offer van diere. Al die ander offers was lof en aanbidding.

            Toe Christus op Golgota sterf, is die voorhangsel in die tempel geskeur, nie een steen het op die ander bly staan weens die aardskudding wat gevolg het nie. Dit was die einde van die aardse tempel era.

            Wanneer iemand Wedergebore word vind die grootste wonderwerk ooit plaas. Christus en die Heilige Gees word daardie oomblik inwonend in my en jou wat beteken die Tabernakel is nou in ons. Ons is inderdaad Nuwe Skepsels.. 2 Kor 5:17 en Gesante van God. 2 Kor 5:20.

            Jesus het voor die Kruisiging vertel die aardse tempel gaan afgebreek en in drie dae herbou word. Die heropbouing is nog steeds aan die gang. Ons elkeen wat gered word se liggaam is nou die Tempel en binne die besonderse Tempel is die Tabernakel wat Christus en die Heilige Gees huisves.

            “En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie.” Hand 7:47

            “Kom na Hom toe, die Lewende Steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom (hoekom?), om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 2 Pet 2:4-5

            Ons is wandelende Tabernakels . Ons stig nie kerke nie, ons laat toe dat ons soos lewende boustene inmekaar gemessel word tot ‘n geestelike huis (volk). Natuurlik mag ons vir onsself groot genoeg geboue oprig om onderdak te kan aanbid, maar ons bou nie kerke nie. Ons is die Kerk.

            As individu is ons egter wandelende Tabernakels. Ons beweeg tussen mense en hulle leer Jesus as Verlosser ken weens ons gedragspatrone en bediening.

            Let op: “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; EN 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

            “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16

            Wedergeboorte is ‘n buitengewone Goddelike geestelike wonderwerk. Jy is dan nie meer jy nie, jy is ‘n Nuwe Skepsel uit die hand van God, ‘n wandelende Tabernakel, ‘n pelgrim op pad na die Nuwe Jerusalem en jy kyk hoeveel mense jy langs die pad kan help en met jou saamneem.  – Wekroep

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...