Monday 8 April 2019

Wees nie bevrees nie!



Jesaja 43:1,2: "Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. "

Wanneer mens in 'n persoonlike verhouding lewe met die Skepper van hemel en aarde, dan is dit baie kere 'n groot avontuur om teksverse soos hierdie in Sy Woord raak te lees!

Een ding wat ek die afgelope twintig jaar in my lewe  op hierdie pad saam met die Here geleer het, is dat Hy altyd getrou is aan Sy eie Woord, en dat Hy ook 'n waarmaker is van Sy Woord.

En hier lees ons baie duidelik dat Hy sê ons hoef nooit bevrees te wees nie, want Hy is die een wat ons verlos en wat ons by die naam geroep het.


Maar verder lees ons ook die belofte raak dat selfs al moet ons by tye deur die waters van die lewe gaan, of deur die riviere en vure van ons alledaagse bestaan, hoef ons nie bang te wees nie, want daardie dinge sal ons nie onderkry nie.

Dit beteken nie vir een oomblik dat indien ek en jy kinders van God is, dat ons NIE deur die waters of die riviere of deur die vure en die vlamme van die lewe sal gaan nie. Inteendeel, ons is eintlik verseker daarvan dat daardie dinge teen ons SAL kom in die vorm van aanslae by ons werk, of in ons families, of in ons ouer-kind verhoudings, of in ons gesondheid, of in ons finansies.

En wanneer dit WEL kom, hoef ons nie vir een oomblik bang of bevrees te wees nie. Hoekom nie? Want God is BY my en jou, Hy het ons by die naam geroep, en ons behoort aan Hom as ons vir Hom gekies het en aangeneem het as ons enigste Koning en Here.

Mag hierdie woord jou hierdie week bemoedig, ongeag wat die waters of die riviere of die vure of die vlamme mag wees waardeur jy tans gaan...

GEBED:

"Vader, baie dankie dat ek in hierdie week nie hoef te wonder nie, maar dat ek kan weet U is by my. Dankie dat ek weet U het my ook by my naaam geroep en dat ek aan U behoort! Dankie dat ek kan weet U stap hierdie week tree vir tree saam met, ongeag wat dit is wat besig is om teen my te kom. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...