Tuesday 29 January 2019

Die Eerste Gebod


In die evangelies lees ons waar die Skrifgeleerdes na Jesus toe kom om Hom met strikvrae te probeer betrap om sodoende 'n rede te kry om Hom dood te maak. Een van daardie vrae was dan ook wat die eerste gebod is... ons lees onder andere daarvan in
Markus 12:

Mar 12:28  En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?

Let wel dat die vraag in hierdie deel, spesifiek gaan oor wat die heel eerste gebod sou wees en dan antwoord Jesus hom baie duidelik in die volgende verse:

Mark 12:29  En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here;
Mark 12:30  en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.

Jesus maak dit dus baie duidelik in hierdie deel dat gehoorsaamheid die eerste en grootste gebod is en dan volg Hy dit op in vers 30 deur te sê: “EN jy moet die Here jou God liefhê...

Baie keer word hierdie belangrike punt van Jesus se antwoord misgekyk of net verbygelees om by die deel uit te kom dat om God lief te hê, die grootste gebod is. Tog as ons teruggaan na toe God vir Adam gemaak het, sien ons nêrens dat Hy aan Adam en Eva die opdrag gegee het om God lief te hê nie. Ek is van mening dat die mens dus van die begin af geskape is met die inherente begeerte om God lief te hê. Na die sondeval egter, het die mens willens en wetens begin kies om God nie lief te hê nie en ander gode te aanbid.


Was daar dan enige gebooie wat God aan die mens voorgehou het toe Hy hulle gemaak het? Ja verseker! Ons lees daarvan in Genesis 2:

Gen 2:16  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
Gen 2:17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Omdat God die mens met 'n vrye wil geskape het, moes Hy iets daar stel om die mens in staat te stel om daardie kenmerk van sy wese, te kon beproef. Al vereiste wat Vader toe daargestel het, was die opdrag van gehoorsaamheid.

Was daardie deel in Markus, die enigste plek waar Jesus na hierdie groot gebod verwys het, of is daar bewyse dat Hy dit op 'n ander stadium weer bevestig het?  Kom ons gaan kyk bietjie na die boek van Johannes:

Joh 14:15  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

Joh 14:21  Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

Joh 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat gehoorsaamheid direk verband hou met liefde vir God en sien ons dat Jesus dit hier nog drie keer beklemtoon het. In die tyd van die eerste koning van Israel, Saul, lees ons dat Samuel hierdie belangrike gebod ook bevestig:

1Sam 15:22  Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

Terwyl daar weer baie voornemes vir die nuwe jaar gemaak sal word vir die nuwe jaar van 2019, dink en weet ek dat die heel belangrikste en beste voorneme wat enige kind van God kan maak, is om weer radikaal gehoorsaam te raak en te wees aan die stem van die Here en Sy Heilige Gees!

Daarin is daar lewe en hoop!

GEBED: 
"Vader van genade, ons het in hierdie afgelope jaar weer baie verkeerde besluite geneem, omdat ons nie gehoorsaam was aan U stem nie...vergewe ons daarvoor en kom versterk ons met nuwe krag om terug te keer na U toe in radikale gehoorsaamheid... In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...