Thursday 1 November 2018

Ek vertrou op die Here



Hoeveel keer het ek en jy nie al gehoor dat mense sê dat hulle die Here vertrou vir dit of vir dat nie...en baie kere het ons self ook daardie verklaring gemaak, maar wanneer die papaja die “fan” slaan, dan skarrel ons vinnig rond om self planne te maak vir die uitkoms wat ons graag wil sien of hê! Baie kere is hierdie planne dan tot ons nadeel en dompel dit ons soms ook in 'n spul skuld wat moeilik is om af te betaal.

Ek het ook al baie kere gehoor dat mense sê dat die Here vir hulle sekere dinge gesê het om te doen of nie te doen nie, en dan is die uitkoms daarvan ook nie tot hul voordeel nie. Ek het ook die afgelope week gehoor dat iemand sê dat die Here duidelik vir hom gesê het om al sy geld uit een belegging uit te haal en oor te plaas na 'n ander...en toe plaas hy net die helfte oor.

Die vraag in bogenoemde geval, is dus: “is ons werklik oortuig dat ons die Here se stem hoor ..en indien wel, hoekom doen ons dan nie wat Hy sê nie..of is dit 'n geval van die misbruik van die heilige Naam van God?”

Die ander vraag natuurlik, is: “hoekom sal ons eerder kies om te vrees en te kommer as om met geduld en geloof te wag op die Here se uitkoms...as ons dan beweer dat ons op Hom vertrou?”

Die Bybel sê tog duidelik:

Spr 3:5  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.


Spr 3:6  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Spr 3:7  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;

Ps 146:3  Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.

Jer 17:5  So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.

Waar staan ek en jy wat hierdie saak betref, want die Bybel sê tog ook duidelik dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal! En dan waarsku die Bybel ook dat as ons ons oor die dag van môre bekommer, dan is ons in werklikheid maar net soos die heidene.

Mat 6:31  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

Mat 6:32  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

As ons dan beweer dat ons op God vertrou, hoekom sukkel ons dan met die geloof -deel wat daarmee moet saamgaan? Die realiteit is dat die meeste mense só ingestel is op die dinge wat ons kan sien, hoor of aanraak dat dit ons meer laat fokus op die vlees as op die gees. God is egter getrou aan Sy woord en beloftes en sal ons nooit in die steek laat as ons kies om ons geloof en vertroue volkome in Hom te stel nie!

Ps 37:3  Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,

Ps 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Ps 37:5  Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;

Fil 4:19  En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Heb 13:5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

Heb 13:6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Geloof is egter nie 'n maklike saak nie en dit verg dat jy alles moet neerlê voor God en in totaliteit oorgee aan Hom met die wete dat jou hoop nie beskaam sal word nie. Dit bly egter 'n keuse wat net ek en jy kan maak!

Luk 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

Luk 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?


Joh 16:7  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;

Joh 16:8  en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

Joh 16:9  van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

GEBED:  Vader, vergewe ons kleingelowigheid en die feit dat ons meer op onsself en ander mense vertrou as om te bly hoop op U en te glo dat U 'n Waarmaker van U woord is. Help ons Heilige Gees om geloof te behou en te fokus op U woord instede van dit wat ons kan sien, hoor of voel...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...