Monday 19 November 2018

Wat as more nie kom nie?


As ons rondom ons kyk in hierdie tyd waarin ons leef, kan ons duidelik sien hoé Jesus se eie woorde aangaande die eindtye in vervulling gaan...dat dit sal wees soos in die dae van Noag of dan soos Paulus dit stel aan Timotheüs in sy twee briewe:

1Tim 4:1  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

1Tim 4:2  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,

2Tim 3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.

2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,

2Ti m3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,

2Ti m3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;

2Ti m3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Baie mense...en menige kinders van die Here ook...lewe asof daar nog 'n dag van môre sal wees. Daar is ook dan groot verdeeldheid onder die kinders van die Here oor wanneer Jesus weer gaan kom...sommige meen dat daar 'n “wegraping” sal wees, ander meen dat die ongelowiges weggeneem sal word en dat die heiliges hier op aarde gaan bly en ander meen weer dat die wederkoms nog baie vér in die toekoms is.

Afgesien van watter een van die gebeurlikhede jy voorstaan, wat van as die dag van môre vir jou nie aanbreek nie? Is jy gereed om jou Skepper te ontmoet? Ek het menige kinders van God in die laaste jaar bedien wie gemeen het dat hulle gereed is en daar was selfs een of twee wat só gely het as gevolg van pyn, dat hulle gebid en begeer het om dood te gaan. Uit gesprekke met hulle het ek afgelei dat daar egter nog onvergifnis en of bitterheid in hul harte was oor mense wie hul nie wil vergeef nie, omdat hulle só seergekry het.

Ek verstaan egter van die woord van God, dat as jy nog onvergifnis teenoor enige persoon het, jy die poorte van die hemel nie sal binnegaan nie. Toe ek dit met hulle deel, was almal van hulle eweskielik baie lus vir lewe en ook bereid om die ander partye vry te spreek. My oortuiging is na aanleiding van die volgende Skrifte:

1Joh 3:15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Mat 6:14  Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

Mat 6:15  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Afgesien van die heiliges wie nog nie heeltemal gereed is vir die poorte van die hemel nie, is daar 'n menigte mense rondom ons en in ons eie huise wie nog nie gered is nie! Jesus self het dit ook voorspel dat daar verdeeldheid in 'n mens se eie huis sal wees...man en vrou wat nie in dieselfde kamp is nie, kinders wat opstandig is, familie en vriende wat 'n bespotting maak van die gelowiges, ens.

Die vraag is of ons werklik genoegsaam vrug dra sodat die ander kan jaloers raak op dit wat ons het? 'n Vriend het my gister vertel van 'n kollega van hom wie hom onlangs gevra het hoé 'n mens kan word soos hy is. Tereg het my vriend ook dan gesê dat hierdie kollega natuurlik glad nie gereed was vir die antwoord nie en ook nog nie op 'n punt is waar hy bereid is om sy lewe vir Jesus te gee nie.

Tog sê die skrif duidelik:

Heb 4:6  Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,

Heb 4:7  bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Die realiteit is dat daar nog geleentheid is vir mense om te bekeer en tot inkeer te kom, solank dit nog vandag is. Môre is vir niemand gewaarborg nie!

Daar is slegs een manier om in die hemel te kom en dit is om Jesus Christus van Nasaret aan te neem as Redder, Verlosser en Saligmaker en om weg te draai van die sondige weë!

Ek en jy het nog geleentheid om ander na Jesus te trek deur die wyse waarop ons optree en lewe en ook om ons eie lewens reg te kry, sodat ons die poorte van die hemel kan ingaan.

1Tim 3:5  Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?

1Tim 3:7  Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.

Gebed:

Hemelse Vader, gee ons 'n dringendheid in ons hart om volkome oor te gee aan U en met 'n wederkoms verwagting, elke dag, heilig te lewe. Gee aan ons ook U liefde vir ander mense, sodat ons ook sal omgee vir hul redding en dat ons waardige getuies vir U sal wees in ons handel en wandel...amen

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys.

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...