Monday 10 September 2018

Praktiese Christenskap


Image result for Jakobus 2:26


Jakobus 2:26 “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Jakobus word is Gal 1:19 beskryf: “en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.” Sy bynaam was “Die Regverdige” en hy het, uit sy heilige lewenswandel, respek afgedwing, baie wyer as die grense van die Christelike kerk. Terwyl Paulus met doktrines en lering gedeel het, was Jakobus besorg oor die praktiese toepassing. Paulus verduidelik die wonderlike betekenis van die dood en opstanding van Jesus Christus, Jakobus die betekenis van die lerings van Jesus en spesifiek die Bergpredikasie. Terwyl Paulus hamer op geloof as pad na geregtigheid voor God, lê Jakobus klem op die werke wat uit geloof moet vloei.

Dit lyk asof Jakobus die briewe van Paulus gelees het want hy maak gebruik van dieselfde frases en voorbeelde, en het homself opgestel om díe wat die leringe van Paulus verdraai, tee te staan. (Maar hierdie is deur die Heilige Gees aan hom openbaar aangesien sy skrywe lank voor die briewe van Paulus geskryf is.) Daar was in hierdie tyd baie wat aan Christus geglo het en geroem het in die tradisie en akkuraatheid van hulle geloof, maar Jakobus handhaaf die siening dat dit nie genoeg is om die siel te red nie.

So vêr as glo gaan kan geen geloof meer absoluut godsdienstig wees as die geloof van bose geeste nie. Herhaaldelik, gedurende die lewe van Jesus Christus, het hulle erken dat Hy die Heilige van God is, maar dit het geen invloed op hulle karakter gehad nie. Inteendeel het dit hulle gevul met vrees en siddering. Jak 2:19 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”

“Geloof sonder werke is dood.” Dit is goed om onsself te toets. Ons moet toesien dat ons harte suiwer is en ons weë absoluut deursigtig. In ons interaksies met diegene rondom ons moet ons altyd daarna streef om die hoogste vlakke van liefde en pligsbesef te realiseer. Selfs wanneer ons pogings van welwillendheid en omgee nie dadelik vrug af werp nie, moet ons nie die hoë vlakke van ons werke verlaag nie, maar moet ons gefokus bly op die lewe van Jesus in Nasaret. Wees genadeloos teenoor jouself maar barmhartig teenoor ander, dra die laste van díe om jou en pas jou aan by die pas van die swak en weerlose. Selfs Ragab was geregverdig deur ‘n geloof wat bewerk is in pragtige en onselfsugtige aksies.

Jak 2:25 “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” en in

Heb 11:31 “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.”

Onthou die woorde van Jesus Christus in Mat 7:20 & 21: “so sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

GEBED

“Here Jesus, help my asseblief. Voeg by my geloof die broederlike liefde, vergewe my elke harde woord en ongeduldige reaksie, elke harde en selfsugtige daad, die nalating om vriendelike hulp te verleen waar ek die geleentheid gehad het. Bekragtig my om sô te leef sodat ek daagliks iets kan doen om die behoeftes en pyn van mense te verlig en om tot die vreugde van die om my, by te voeg. AMEN.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...