Friday 21 September 2018

Wie luister na ons?


(1 Johannes 4:6-8): “Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”

Het jy as kind van God dalk al gewonder waarom luister sommige mense nie na jou nie, selfs al gee jy hulle goeie raad? Want die Bybel sê die wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Maar die wat self ook uit God is, luister wel na ons, want hulle gees getuig dadelik saam met my en jou gees oor die waarheid. En juis hierdeur onderskei ons die Gees van die waarheid of die gees van die dwaling.

Tog hoor ek God se uitroep in die woorde dat ons mekaar moet liefhê, want die liefde is uit God en elkeen wat liefhet is uit God gebore en ken God. Daarom wil Hy hê dat ons mekaar moet liefhê, juis omdat liefde uit Hom uit is. En as ons uit Hom is, sal ons ook na mekaar luister en by mekaar kan leer rondom die waarheid van God se Woord.


Maar, as ek nie liefhet nie, kan ek nie aanspraak maak daarop dat ek God ken nie, want God is liefde. En tog is so baie van ons geneig om te verklaar dat ons uit God is, maar tog wil ons nie na mekaar luister nie, en sukkel ons om liefde te betoon, selfs teenoor die mense die naaste aan ons. Kom ons vra die Here om ons te leer om Sy liefde te betoon aan ‘n stukkende wêreld rondom ons, sodat die wêreld kan sien dat God en die gees van die waarheid in ons is.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Ek bely vandag dat ek nie aan die wêreld gewys het dat God in my is nie, omdat ek nie U liefde aan almal rondom my betoon het nie. Ek vra dat U my asseblief sal vergewe, en my sal leer om U liefde te betoon aan ‘n stukkende wêreld rondom my, maar veral ook diegene die naaste aan my. Gee dat hulle wat uit God uit is na my sal luister, en dat ek ook sal luister na diegene wat uit God uit is sodat die wêreld kan sien dat God in ons is. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...