Saturday 3 February 2018

Die jaar 2018


Image result for 2018



Joh 9:1 – 14 “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie? Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek. Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien. En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie. Hulle bring hom na die Fariseërs—die man wat vroeër blind was. En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.”


My liewe vriend en vriendin. Ons het reeds die eerste paar weke van die jaar 2018 agter die rug. Ons het die jaar begin met nuwe voornemens en nuwe hoop. Baie van ons het hierdie voornemens reeds verbreek en opsy gesit en ons gaan aan op ons manier.


Ek het Joh 9:14 vir ‘n vriend van my gekry “En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.” Dit het nie vir my sin gemaak totdat ek die voorafgaande stuk ook gelees het nie. Ek wil hierdie gedeelte ook vir jou gee want ek weet dat dit Vader se “nuwejaars voorneme” vir my en jou is.


Toe Jesus en Sy dissipels by die blinde man verbygaan vra hulle: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus antwoord onmiddelik: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” Ons kyk soveel keer in moeilike situasies na ons self of ons ouers om ‘n antwoord te probeer vind vir wat gebeur! Vir my persoonlik wat 2017 glad nie ‘n maklike jaar nie en ek weet dat vir baie ander was dit ook so. As ek kyk na 2018 uit ‘n wêreldse oogpunt gaan dit ook nie ‘n beter jaar wees nie. Die Bybel sê ook dat dit moeiliker gaan word hoe nader ons aan die einde kom. Jesus sê egter dat die werke van God in die blinde man geopenbaar moet word. Só moet die werke van God ook in my en jou openbaar word.


Hierdie man was egter blind en kon nie sien nie, ook nie die rigtings wat vir hom uitgelê was nie. Ons sien ook nie die rigting aanwysers voor ons nie omdat ons ook blind is. Soos Jesus die man se blindheid raakgesien het sien Hy ook ons blindheid raak. Hy spuug op die grond en maak klei wat Hy aan die blinde se oë smeer. Nadat Jesus dit gedoen het was die man steeds blind. Ons vra hoeveel keer vir ‘n aanraking vanaf God maar bly steeds blind en sien nie die rigting nie. Nadat Jesus die klei aangesmeer het gee Hy ‘n opdrag: “Gaan was jou in die badwater Silóam.” Hierdie blinde man moes gehoorsaam wees. Hy is blind daar weg op pad na Silóam. Hy het seker op pad ‘n paar keer geval en moes gesukkel het om daar te kom. Eers nadat hy hom gewas het, het die deurbraak in sy situasie gekom – hy kon sien!! Ons vra God se aanraking en verwag dat die deurbraak dadelik moet kom. Ons is baie keer ongehoorsaam en gaan nie na ons “Silóam” nie. Ons bly rondval met die klei op ons oë.


Kyk ook wat “Silóam” beteken – UITGESTUUR. As iemand uitgestuur word beteken dit dat daar ‘n aksie moet wees. Hy moet iewers heen gaan en kan nie op dieselfde plek bly staan nie.


Dan kom ons by vers 14: “En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.” Dit was Sabbat, die laaste dag van die week, die sewende dag. Op die sewende dag het die blinde sy sig gekry, sy visie om God se rigting te kon sien. Kyk ook na Gen 2:2 & 3 “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” Op die sewende dag is die werk van God in Sy skepping voltooi. Alles was gereed om te begin werk vanaf die agtste dag, die eerste dag van die nuwe week.


Die vorige jaar het op die syfer sewe geëindig. Hierdie jaar eindig op die syfer agt. As ek na die bogenoemde tekse kyk ervaar ek dat Jesus die klei aan ons oë gesmeer het en ons die opdrag gegee het om ons by Silóam te gaan was sodat Hy ons kan UITSTUUR. Die keuse is by ons of ons gehoorsaam gaan wees en dit doen. Indien nie, gaan ons bly sukkel en voortploeter soos ‘n blinde. Indien ons egter kies om gehoorsaam te wees sal ons Sy rigtig sien en gereed wees om uitgestuur te word sodat die werke van God in ons openbaar kan word.


Die keuse bly joune.

 “Vader, dankie vir die aanraking van Jesus.  In die Naam van Jesus kies ek vandag om gehoorsaam te wees en my te was soos die blinde man. Dankie dat U Heilige Gees my lei tot by die water en dat U my sig herstel. Ek verklaar my bereid om uitgestuur te word sodat U werke in my openbaar kan word. Vervul my opnuut met U Gees. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...