Saturday 3 February 2018

Die vrug van jou lippe


Image result for people talking

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.


Een van die grootste struikelblokke in kinders van die Here se lewens vandag, is dit wat by ons monde uitkom! Terwyl ons veronderstel is om die kennis te hê en die voorbeeld te stel, is baie besig om liewer saam met die wêreld te gesels en om die negatiewe woorde van mense te herhaal, eerder as om aan die woord van God vas te hou en dit in ons monde te hê. Spreuke 18: 21 is baie duidelik dat die mag van dood of lewe lê in die woorde wat ons spreek.  Ons kan dus lewe spreek in ons omstandighede in of ons kan dit dood verklaar en die woord van God kragteloos maak in daardie spesifieke situasie.


Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Die Bybel leer ons dat ons moet anders wees in ons handel en wandel en dat ons nie soos die goddelose mense moet lewe en doen nie.


Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


Ons word duidelik opdrag gegee dat ons vernuwe moet word in ons gemoed en om nie gelykvormig aan die wêreld te wees nie. Dit beteken dus dat ons hele denkwyse en spraak in lyn gebring moet word met dit wat die Woord van God ons leer. Tog kies sóveel om eerder te glo wat die dokters, politici of die ekonome sê en vergeet hulle dat die woord van God magtiger is en dat God aan ons die reg gegee het as Sy kinders, om Sy woord te mag gebruik om die leuens van die vyand te kan teenstaan.


Toe Jesus deur die duiwel versoek is na Sy doop, het Jesus elke keer die woord van God aangehaal om die vyand te weerstaan en die duiwel het van Hom af weggegaan, nie omdat Hy die Seun van God is nie, maar omdat Hy op daardie stadium die seun van die mens was wat die Woord geken en kwoteer het! Die duiwel ken die Bybel beter as enige mens en hy weet dat daar sekere Goddelike beginsels vasgelê is daarin, wat God nooit sal verander nie. Só weet hy ook dat God die outoriteit op hierdie aarde, aan die mens oorgedra het om daaroor te heers. Daarom dat Satan vir Adam en Eva belieg het, sodat Adam die outoriteit aan hom kon afstaan.


Gen 1:26  En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Gen 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.


Jesus vat ook later die Fariseërs aan en maak dit duidelik dat dit wat uit mens se mond kom, kom direk uit die hart. Dus moet mens baie versigtig wees oor die dinge wat jy toelaat om jou hart te vul, want dit wat jy glo, sal bepaal wat jou optrede gaan wees.


Mat 12:34  Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

Mat 12:35  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

Mat 12:36  Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

Mat 12:37  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

 Daarom dat die Woord ons ook duidelik waarsku om ons harte te bewaak:


Spr 4:23  Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.


Jesus self het ook gesé dat Hy net gedoen het wat Hy die Vader gehoor sê het en wat Hy die Vader gesien doen het. As ons dan navolgers van Christus wil wees, dan beteken dit tog dat ons dieselfde moet doen en dan seker maak dat wat oor ons lippe kom, slegs God se woord en planne moet wees!


Joh 12:49  Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.

Joh 12:50  En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.


Tog sukkel menige kinders van die Here om die oorvloedslewe te hê wat Jesus vir ons losgekoop het en sien ons dat dit heel dikwels is as gevolg van die dood en negatiewe spraak wat só maklik oor ons lippe rol. Die negatiewe woorde wat ons spreek, word dan letterlik vir ons 'n struikelblok en maak dit God se Woord oneffektief in ons lewens.


Psa 59:12  Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.


Wanneer ons besluit om op die woord van God te staan vir ons oorwinning, moet dit ook dan natuurlik in geloof wees, anders sal dit geen krag hê nie en sal ons ook nie ontvang waarvoor ons gebid het nie. Dus moet die woorde van ons lippe ooreenstem met dit wat ons glo volgens God se woord en waarvoor ons gebid het!


Jak 1:6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Jak 1:7  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—

Jak 1:8  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.


Ek kan onthou dat my ma altyd as kinders vir ons gesê het dat die Here ons twee ore gegee het en net een mond en daarom is dit beter om stil te bly en te luister as om heeldag 'n klomp gemors te babbel. Hierdie waarheid is beslis baie goeie raad vir enige kind van God, want as jy minder tyd spandeer om negatief te spreek, sal jy dalk net Vader se stem beter hoor!


Vul jou hart dus met God se woord en verklaar dit eerder met jou lippe, as om vir jouself 'n gat te grawe met die woorde van die vyand!


Gebed: Vader, plaas asseblief 'n wag voor my mond en 'n deur voor my lippe en help my dat ek slegs U woord in my mond sal hê, sodat ek die leuens van die vyand kan weerlê. Laat die woorde van my mond, voortaan welbehaaglik wees voor U troon...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...