Tuesday 13 February 2018

Waar wandel ons?


Image result for bybel verse oor dankbaarheid



(1 Johannes 1:5-10): “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

Geen mens kan twyfel dat daar geen duisternis in God is nie, want Hy is liefde, Hy is lewe, Hy is lig, Hy is alles wat met lig en lewe te doen het, en nie met duisternis of die dood nie.

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.”

Eina! Hierdie vers is darem maar baie duidelik. En tog is daar baie “Christene” daarbuite wat vir almal loop en vertel dat hulle Jesus ken en met Hom in verhouding lewe, en tog getuig hulle lewens net van ‘n “duisternis wandel”, van hoer en rumoer, van rook en van drink, van skel en vloek, van veroordeel en kritiseer, van korrupsie en bedrog, van twis, tweedrag en skinder. En wat sê hierdie vers van daardie mense wat die dinge doen? Hulle lieg en doen nie die waarheid nie.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

En net hier word die teenoorgestelde wandel, die “wandel in die lig” aangetoon. As ons in die lig wandel soos God in die lig is, met ander woorde NIE MEER daardie bogemelde dinge van die duisternis doen nie, DAN het ons gemeenskap met mekaar, want Jesus Christus se bloed reinig ons van alle sonde.

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”

Hierdie vers is nogeens so baie duidelik, en tog is daar baie mense wat sê: “Omdat Jesus se bloed ons reinig van alle sonde, soos ons in die vorige vers gesien het, DAAROM het ons nie meer sonde nie!” En wat sê die Bybel van daardie siening? Ons mislei dan onsself en die waarheid is nie in ons nie.

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

 Wat moet ons dus volgens hierdie teksvers doen? Ons moet ERKEN dat ons wel nog sonde het, ja ons moet ons sondes BELY. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “bely”, beteken ook: “to acknowledge, confess and profess”. En wat gebeur in daardie oomblik? Hy vergewe ons daardie sondes en Hy reinig ons van alle ongeregtigheid. Hoekom? Want Jesus Christus se bloed reinig ons van alle sonde.

 “As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Wat meer kan ek sê wat hierdie vers nie reeds duidelik gesê het nie? Is jy bereid om dit te waag om God tot leuenaar te maak?

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Here, ek bely nou dat ek nie altyd in die lig gewandel het soos U in die lig is nie. Ek bely dat ek by tye gespreek het dat ek met U gemeenskap het, terwyl ek inderdaad toe in die duisternis gewandel het. Ek bely dat ek gesê het dat ek geen sonde het nie, dat ek myself mislei het en dat die waarheid nie in my is nie. Ek bely ook dat ek gesê het dat ek nie gesondig het nie, en U daardeur tot ‘n leuenaar gemaak het. Ek bely nou al hierdie sondes voor U en ek vra U om my nou te vergewe en van alle ongeregtigheid hieroor te reinig. Dankie Vader ek weet dat U getrou is aan U Woord en dat U my nou so vergewe en nooit weer daaraan dink, volgens Hebreërs 8:12 nie. Ek aanvaar U vergifnis met ‘n dankbare hart. In Jesus Naam.
Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...