Monday 4 September 2017

Reg bid, of verkeerd bid?


Image result for Person praying


Mense is baie keer geneig om te bang te wees om te bid tot die Here, want: “Sê nou net ek bid verkeerd, dan gaan my gebed nie verhoor word nie!” Dit is wel so dat die Bybel ons leer dat ons verkeerd kan bid en dan nie sal ontvang waarvoor ons vra nie.
“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jakobus 4:3)

Wat sien ons hier, wat is die rede waarom die Bybel sê ons “verkeerd bid”? Omdat ons bid vir die bevrediging van ons eie wellustige begeertes en nie noodwendig volgens God se wil vir ons lewens nie. Dit help nie om te bid vir ‘n rooi sportmotor met silwer wiele en groot uitlaatpype sodat ek my vriende daarmee kan beïndruk, maar my kinders het nie kos om te eet nie. Daardie gebed sal nie beantwoord word nie.

Gou is die reaksie egter: “Maar Jesus het dan gesê alles wat ek die Vader in Sy Naam vra, sal die Vader vir my gee!” Ja, mits dit in lyn is met God se Woord. Bid eerder vir die Vader se voorsiening vir jou familie want dit is in lyn met Sy Woord. Die Vader sal nie vir jou iets gee as dit net gebid is sodat jy jou eie vleeslike begeertes daardeur kan bevredig nie.

Sjoe, nou hoe kan ek dan sekermaak dat ek reg bid as ek wonder oor wat ek moet bid? Eintlik is dit baie maklik, vra vir die Heilige Gees. Vra Hom WAT om te bid en ook HOE om te bid. En as ek steeds nie seker is nie, dan vra ek die Heilige Gees om NAMENS my te bid – en ek bly in daardie oomblikke tjoepstil. Kyk hoe mooi stel Romeine 8:26,27 dit:

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”

Wow! Nou kan ek weet dat my gebed REG sal uitkom, want die Heilige Gees bid dan namens my VOLGENS DIE WIL VAN GOD! Daar is geen sprake dat daardie gebed “verkeerd” sal wees nie.

Gebed:

 “Vader, dankie dat U Heilige Gees vir my sal intree as ek nie weet wat om te bid in enige gegewe situasie nie. Leer my asseblief om altyd deur U Heilige Gees gelei te word, in my persoonlike lewe en ook in my gebedslewe, sodat ek daardeur al hoe nader aan U kan kom. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...