Tuesday 7 March 2017

Deur die Here ingesluit.


Image result for moses

Gen 7:16  En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos God hom beveel het. En die HERE het agter hom toegesluit.

Baie mense het sekerlik al gewonder hoé Noag dit reggekry het om só 'n groot skip te kon bou, oor só 'n lang tydperk, met die beperkte toerusting en middele wat hulle in daardie tyd gehad het. Nie net moes dit drie verdiepings hoog gewees het nie, maar dit moes ook 'n reuse vrag kon vat en op die waters kon dryf vir meer as 150 dae, sonder om te sink of water in te neem.

Ek dink dat die antwoord daarin lê dat dit spesifiek en noukeurig volgens God se instruksies gebou moes word en dan ook in die kern van die vers hierbo wat sê dat God self hul ingesluit het, nadat almal in die ark was. Dit was nie maar net 'n deur wat Noag moes toetrek en daar gaan hulle nie...God self het dit geseël met Sy heilige teenwoordigheid!

Net só het God baie jare later, vir Moses baie duidelike instruksies gegee oor hoé die Tabenakel gebou moet word en nadat die werk noukeurig volgens Sy instruksies uitgevoer was, het Hy die Tabernakel gevul met Sy heilige teenwoordigheid!

Net só kan ons as kinders van God, vandag nog staatmaak op Sy beskutting en beskerming as ons leef volgens Sy instruksies (die Bybel). Ons lees in Job dat hy 'n baie vroom en Godvresende man was en dat die duiwel self moes erken dat Job deur God self “ingesluit” was.

Job 1:9  En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?
Job 1:10  Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.

Ons lees ook baie duidelik in Ps 91 hoé groot en kragtig God se belofte is vir beskerming vir dié wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit. Die probleem in vandag se lewe is dat die kind van God sy vertroue in sóveel ander stelsels en goeters begin stel het, dat hul vertroue nie meer volkome is by die God bo alle gode nie. Wanneer daar dan dinge met hulle gebeur, dan vra hulle gou die vraag: “waar was God se beskerming dan?”

Die Bybel is baie duidelik dat God nie verander het nie en dat Sy woord nooit leeg na Hom sal terugkeer nie en dat dit steeds net só lewendig en kragtig is soos toé Jesus dit gebruik het om die heelal te skep of soos toe Hy self hier op aarde gewandel het!

Die probleem lê dus by ons as kinders van God en in die wyse waarop ons vandag glo. Ons is vinnig met argumente dat die mensdom nou baie meer boos is as in die tyd van die Bybel en dat die duiwel se aanslae nou meer intens is. Tog sê die Woord dat daar niks nuuts op hierdie aarde is nie en dat alles wat nou is, alreeds was. En in Noag se tyd, het God die aarde verwoes as gevolg van die boosheid. Is ons argumente dan nou regtig só waterdig soos wat ons dink?

Die feit is dat God nooit sal verander nie en ook nie Sy woord nie! Daarom moet ons dus begin om selfondersoek in te stel om te sien of ons werklik glo soos wat ons sê ons doen? Paulus stel dit só:

2Kor 13:4  Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God.
2Kor 13:5  Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!

Mag elkeen van ons opnuut in 2017 ervaar dat Jesus Christus steeds die Almagtige God is wat nog nooit verander het nie en absoluut getrou aan Sy woord is!

Vrede en seën in Christus Jesus van Nasaret

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...