Hoeveel keer het die Here nie na jou en my geroep om ons te gebruik om diensbaar te wees vir ander, of om ons miskien te stuur met ‘n spesifieke opdrag of boodskap nie en dan het ons die antwoord gehad van: “ek kan nie nou nie”? En dit omdat daar altyd iets “belangriker” is wat eers aandag moet kry of ons dalk nie bekwaam voel nie!
Ek lees die volgende gelykenis wat deur Jesus self voorgehou word:
Luk 14:16 Maar Hy antwoord hom: ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
Luk 14:17 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
Luk 14:18 En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
Luk 14:19 En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
Luk 14:20 En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
In Gen 24 lees ons dat Abraham sy dienskneg stuur om vir Isak 'n vrou te gaan by sy familie en hy laat hom belowe om nie na ander nasies te gaan nie. Oppad na Mesopotamië, vra die dienskneg God se hulp en hy vra vir sekere tekens, sodat hy sal weet dat dit die regte vrou is. Nadat die dienskneg vir Rebekka ontmoet het en sy opdrag aan haar familie oorgedra het, wou hy onmiddelik die volgende oggend vertrek, maar Rebekka se familie wou haar nog terughou. Abraham se dienskneg het sy opdrag só ernstig opgeneem dat hy aangedring het om te gaan. Hulle het toe vir Rebekka gevra of sy wou saamgaan en sy het onmiddelik “ja” geantwoord...en sy het gegaan saam met 'n man wat sy skaars ken om die vrou te word van iemand wat sy glad nie ken nie! En só het sy ook dan deel gekry aan God se beloftes aan Abraham.
Toe die Here besluit om Sy volk uit die hand van die Egiptenare te verlos, roep Hy vir Moses in die woestyn om hom te stuur as segsman by die Farao en om die volk uit Egipte te lei. Onmiddellik begin Moses met ‘n klomp verskonings en hy minag homself as geskik te wees vir diens in die hand van die Here.
Eks 3:11 Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?
Eks 3:12 En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.
Soveel kere weet ons met sekerheid dat die Here aan ons ‘n sekere opdrag gegee het, maar dan is ons vol verskonigs omdat ons dink dat ons nie bekwaam of goed genoeg is om dit te gaan doen nie. Terwyl Hy uitdruklik in Sy woord sê dat ons nie uit eie krag moet probeer om dinge te doen nie of na ons eie vermoëns moet kyk nie, want Hy maak ons sterk en Hy maak ons geskik vir die taak!
Sag 4:6 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.
Ons almal weet en besef dat die tye besig is om bitter vinnig uit te loop, maar nogtans rus ons op ons louere en vergaan daar ‘n magdom mense rondom ons, omdat ons nie die vrugte van die bekering dra nie of bereid is om te gaan as die Here ons wil stuur nie!
Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.
Die realiteit is dat God deur mense, met mense werk en dat ek en jy nie gered is net vir onsself nie, maar ook sodat God ander mense se lewens kan aanraak! Tereg sê die Woord dat ons nie deur werke alleen die ewige lewe sal beërwe nie, maar óók dat as jou geloof nie in werke omsit nie, dan is jou geloof dood!!! (Jak 2: 17-18)
Baie kere beteken dit om maar net jou getuienis van die dinge wat jy deurgemaak het, met ander te deel. Selfs die getuienis oor jou diepste seer behoort nie aan jou nie, maar aan Jesus! Die wyse waarop jy vertroosting gevind het, help dalk net iemand anders om vrede te vind oor een of ander traumatiese gebeurtenis in hulle lewe!
2Kor 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting,
2Kor 1:4 wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.
2Kor 1:5 Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.
Liewe kind van God, wie is daar naby of rondom jou wat vandag God se aanraking en liefde nodig het? ...waag dit bietjie om toe te laat dat Vader jou onbekwaamheid gebruik om “Jesus” vir iemand te wees vandag!
Gebed: Abba, dankie dat U die een is wie ons bekwaam maak vir elke taak en dat U juis die “afvlerk” kinders gebruik om instrumente in U hand te wees vir ander. Dankie dat U die een is wie ons reeds vertroos het, sodat ons ander na dieselfde mate kan vertroos..amen.
Vrede en seën in Christus Jesus!
(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
No comments:
Post a Comment