Monday 20 February 2017

Soet soos heuning


Image result for honeycomb


My boeta en sussa in Christus, wat is die smaak wat God se woord deesdae in my en jou mond het? Is dit steeds soet soos heuning soos die begin dae van ons wandel saam met die Here, of het dit al só 'n af-smakie soos yogurt of melk wat al sy vervaldatum bereik het?

Eseg 3:2  Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet
Eseg 3:3  en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.

Toe Jesus deur die duiwel versoek is, op die berg na sy doop, om brood van die klippe te maak sodat Hy in Sy vleeslike behoefte kon voorsien, was Sy onmiddelike antwoord dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat uit God se mond gaan!

Deu 8:3  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

Dit is dus duidelik dat dit my en jou eie verantwoordelikheid is om self die Skrifte te ondersoek dat ons dit mag ken, sodat ons kan staande bly teen die leuens en verleiding van die vyand! Want dan sal ons ook soos Jesus kan antwoord: “Satan, daar staan geskrywe...”

Hand 17:10  Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
Hand 17:11  En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

Satan het geweet dat Eva slegs tweedehandse kennis gehad het oor wat God se opdragte was, want toe God vir Adam opdrag gegee het om nie te eet van die boom wat in die middel van die tuin staan nie, was Eva nog nie uit Adam se rib gevorm nie.  Die vyand kom dus by haar en verlei haar op 'n subtiele wyse en sy gaan met dieselfde leuen na Adam toe en omdat hy nie in outoriteit bly staan deur gehoorsaam te wees aan God se opdrag nie, word die mens en die hele aarde verderf deur die sondeval.

Een van die grootste sondes van die kerk vandag, is dat mense hulle meer steur aan wat ander, sogenaamde geleerde mense, oor die woord van God sê as wat hulle self die Skrifte gaan ondersoek om te sien of dit die waarheid is wat verkondig word.

Deu 6:6  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
Deu 6:7  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.

Jos 1:8  Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

So baie kere maak ons die verkeerde besluite of gaan gebuk onder die vyand se aanslae net omdat ons nie die Woord ken nie, of omdat ons nie weet hoé om God se stem te hoor nie. Op een van ons besoeke aan Israel, het vriende van ons 'n boks melk gekoop wat suur geword het, maar omdat hulle nie die Hebreeus op die boks kon lees nie, het hulle bloot gedink dat hulle 'n foutjie gemaak het en per ongeluk “drinking yogurt” gekoop het. Só het hulle dan nou dit maar as yogurt gedrink om dit nie te vermors nie. Toe hulle egter een keer by ons kom koffie drink en sien dat die boks waaruit ons melk gooi, presies lyk soos die een wat hulle gekoop het, het hulle eers hulle ou regte “foutjie” besef.

Dit is presies wat met die kind van God gebeur as jy nie Sy woord bestudeer nie of leer om na Sy stem te luister nie...dan vind jy jou dalk naderhand met 'n suur smaak in die mond, omdat jy nie die heuning van die Woord geneem het nie!

Almal van ons weet en besef dat ons in die laaste dae leef en die Bybel is baie duidelik dat mense vir hulself predikers gaan uitsoek wat hul gehoor sal streel, omdat hulle nie wil hoor dat sonde nogsteeds sonde is by God nie. Die vraag is: wie gaan jy kies om te wees en waarmee gaan jy jouself vul?

2Tim 4:3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2Tim 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Mag die Heilige Gees my en jou 'n nuwe honger gee vir die ware, ongeveinsde woord van ons Here Jesus Christus!

Vrede en seën vir elkeen vir hierdie week!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...