Sunday 26 March 2017

Hoe bly ek kalm onder druk?


Image result for peaceful person in nature


Hierdie is ‘n onderwerp waaroor daar baie boeke geskryf is. Baie deur groot en erkende sielkundiges en geleerdes. Ek self het baie van hierdie boeke gelees en dit het baie kennis bevat wat ek nie verstaan het nie en daar is ook nie gesê hoe ek dit prakties kon toepas nie. Ek as persoon is baie meer geneig om te luister na die raad of wenke van iemand wat sukses behaal het in die gebied waarin hy my van raad bedien. Dít wat hy vir my sê om te doen het in sy lewe gewerk en hy het sukses daarin behaal. Dit is nie maar net ‘n klomp woorde en saamgeflansde opinies nie.

Die Bybel sê vir ons in 2 Timotheus 1:7 “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Hierdie teks gebruik ons so baie maar hoe maak ek dit prakties? Wanneer ekself of iemand anders in desperate omstandighede is gaan woorde alleen nie help nie. Ek gló dat God sê dat ek nie ‘n gees van vreesagtigheid het nie, ek gló en weet dat God sê dat ek nie moet vrees nie maar hoe oorwin ek die verlammende vrees en bekommernis as ek in moeilike omstandighede is?

Ek het onlangs ‘n artikel hieroor raakgelees. Die opskrif was: “Hoe om kalm te bly onder druk – Drie geheime deur ‘n bom onskadelikmaking ekspert”. Ek het onmiddelik besef dat hier iets is waarna ek kan luister, hier praat iemand wat in verskeie situasies was waar hy spanning, druk, vrees moes hanteer of sy lewe verloor het. Die artikel is geskryf deur Eric Barker.

Hier is ‘n onderhoud gevoer met iemand wat in ‘n leiers posisie was in die vloot se afdeling wat uiter gevaarlike toestelle onskadelik stel. Toestelle soos lewendige torpedo’s onderwater, biologiese wapens, chemiese en selfs kernwapens. Iemand wat ontplooi was is gevaarlike oorlogsones waar daar nie baie tyd beskikbaar was waarin die toestelle onskadelik gestel kon word nie. Iemand wat vrees moes hanteer!

Hierdie persoon het drie belangrike dinge genoem:

Eerstens: Vermy die “gat” en doen ‘n bedreiging evaluasie.

Iets gaan verkeerd. Jy raak bekommerd en jou gedagtes begin rond hardloop. Jou ou “vriend” vrees en paniek begin ‘n houvas kry en beheer oorneem. Jou brein begin vra, “Wat as dít gebeur?, Wat as dát gebeur?, Hoe gaan ek uit hierdie situasie uitkom? Wat as? Wat as? Wat as?

Ons vriend verwys hierna as die “gat” Indien jy in díe gat val gaan dinge baie vining baie sleg raak. Hy sê: “Met enige toestel wat aangepas of verander is praat ons van “die gat” Jy kan in die “gat” ingaan deur te dink, Wat as hulle dít ingesit het? Wat as hulle ‘n ander skakelaar ingesit het? Wat as hulle só ’n tipe sneller ingesit het? Die opsies van versteekte meganismes is menigvuldig en almal kan geldige argumente wees.

Jy moet hierdie “gat” vermy en ‘n bedreigings evaluasie doen. Dit beteken om objektief na die situasie te kyk en te vra: “Wat se problem is dié? Dink aan ‘n vorige soortgelyke situasie waarin jy was. Hoe het ek dit hanteer? Wat het gewerk? Miskien was jy nog nooit van tevore in só ’n situasie nie maar dit is ook reg. Veralgemeen. Jy het moontlik al gedeel met iets wat naastenby soos hierdie situasie lyk of het gesien hoe iemand ander ‘n soortgelyke situasie hanteer. Daarom sê die Here in 2 Kor 10:5  “terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Om die beskikbare kennis en ondervinding te benut is wat hierdie manne in staat stel om kalm te bly en ‘n uiters gevaarlike situasie op te som. Wat se ingesteldheid het ek nodig om kalm en gefokus te bly voordat ek optree of die rooi draad knip?

Tweedens: Benadruk die positiewe en fokus of dit wat jy kan beheer.

Ons vriend se bevelvoerder het hom vertel van ‘n situasie waar hy ‘n onderwater myn moes onskadelik stel en besef het dat hy verstrengel geraak het in die drade en kabels. Hy was so vasgedraai dat hy nie sy hande of voete kon beweeg nie. Wat was die eerste gedagte in sy kop? “Ek haal nog asem, so dit is goed! Wat is daar nog wat in my guns tel?” Dit is om na die positiewe kant te kyk. Daar is vele onderhoude gevoer met mense wat uiterste omstandighede en situasies oorleef het. Almal het een ding in gemeen – OPTIMISME!!

Deur met die positiewe te begin, realisties na die feite te kyk het die bevelvoerder in staat gestel om kalm  en gefokus te bly op dit wat hy kon beheer. So kon hy stappe neem om uit die situasie te kom. So kan ek beheer neem deur klein positiewe stappe te neem. Ek fokus op die positiewe en vermy die “gat” van negawiteit. Is die situasie nog ‘n krisis? Ja dit is maar dit is net ‘n krisis as ek nie ‘n oplossing vind nie.

Indien ek fokus op dit waaroor ek beheer het is daar ‘n oplossing. Stap vir stap word die krisis afgeweer.

Dit is vreesaanjaend om teen 120 km/h op ‘n beton muur af te peil!! Maar as daardie beton muur ‘n skeiding, op ‘n draai,  tussen twee bane op die snelweg is en ek die stuurwiel net effe na links kan draai, sal ek nie vrees nie. Ons doen dit in elk geval daagliks as ons bestuur. Nie ‘n krisis nie.

Nou moet ek die bul by die horings pak en optree.


Derdens: Weet wat die volgende stap is.

Ons almal is tot ‘n mate bang vir die onbekende. Want dit is daar waar jy begin spekuleer en bekommerd raak. Daar waar ons so maklik is die “gat” val. Die geheim om kalm en gefokus te bly is om te besluit wat jy volgende gaan doen. Dit verhoed dat die gat van spekulasie en bekommernis oopmaak. Wanneer ek op iets konsentreer sal my gedagtes gefokus bly ten spyte van wat rondom my gebeur. Ek weet wat moet gebeur, wat die volgende stap is!

Ek bly gefokus op die volgende stap.Miskien is dit net ‘n klein stappie, dit is doodreg. Miskien is die situasie só dat ek moet vra vir hulp, geen problem daarmee nie! Dink spesifiek voor jy die volgende stap neem. Ons vriend vertel van ‘n situasie waarin hy homself bevind het. Hy was 40m onderwater toe die elektronika is sy asemhalings toerusting ingee. Dit het hom nie meer die suurstof, om te lewe, voorsien nie. In alle opsigte het hierdie gekwalifiseer as ‘n krisis. Hy het egter geweet dat daar ‘n metode is om die elektronika te omseil en self suurstof te voorsien. Dit was nie meer ‘n krisis nie. Wanneer jy deur die situasie kyk en sien wat werklik aangaan is dit baie makliker. Ek fokus nie op die onsekerheid nie maar op “wat is die volgende stap?” Vermy negatiewe emosies deur op die proses (stappe)  te fokus en nie op die resultaat  aan die einde nie!

Nou kan jy ook vra, Cobus ek weet nie wat die volgende stap is nie, hoe bly ek kalm? Ons vriend was ook in só ‘n situasie. Hy vertel dat hy voor ‘n bom was en fokus op die volgende stap verloor het. Die toestel was baie gevaarliker as wat hy verwag het en hy was nie voorbereid vir ‘n ergste situasie nie. Vrees het hom beetgepak, nie net oor homself nie maar ook vir die veiligheid van sy span. Hoe het hy dit hanteer? Hy moes homself afvra: “ Help hierdie gedagtes my of nie?” Hy het besef dat hierdie gedagtes hom na die “gat” sleep. Hy het ‘n besluit geneem en dit was: Kry hulp in.” Dit is geen vernedering om te vra vir hulp nie.

Dit is medies bewys dat besluitneming verminder bekommernis en vrees. Besluitneming verander jou persepsie van die wêreld en die vind van oplossings kalmeer jou senu stelsel. Die oomblik wat ek kalm en rustig word is dit soveel makliker om die leiding en stem van die Heilige Gees te hoor. Dan sal Hy my oprig en versterk.

Gebed. “Here Jesus, help my asseblief om my gedagtes gevange te neem, ook in moeilike situasies. Help my om op U gefokus te bly en gee my U vrede in hierdie tye. Ek wil die sagte stem van die Heilige Gees hoor soos Hy my lei. Amen”

 (cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...