Tuesday 7 March 2017

Jy hoef nie te vrees nie


Image result for person stressing




“Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.” (Psalm 91:4-8)

Die afgelope paar maande sien ek hoedat mense in totale vrees en verwarring begin ingaan oor wat besig is om in Suid Afrika te gebeur. Een whatsapp of e-pos boodskap wat meehelp om vrees, verwarring en veral ook rassisme by mense aan te hits, word opgevolg deur een wat selfs meer opruiend van aard is.

En die ergste van alles is dat dit juis Christene is wat daaraan meedoen. Soos wat die whatsapp boodskappe by my verbykom, ervaar ek sommer die vrees, verwarring en ook rassisme wat in die verskillende boodskappe vervat is. Dan wonder ek hoe gebeur dit dat mense wat hulleself uitgee as kinders van die Here, in hierdie lokval inval? Is dit bloot maar steeds omdat hulle dwaal omdat hulle nie die Skrifte EN GOD SE KRAG ken nie, volgens Mattheus 22:29?

Want ek persoonlik glo my God het nog nooit verander nie, en dat die woorde van Psalm 91:4-8 steeds op Sy kinders van toepassing is. En wat beteken dit dan vir ons?

1. Dat ons NIE HOEF TE VREES NIE, omdat ons onder Sy vleuels skuil.
2. Dat Sy trou ‘n skild en pantser vir my is, waardeur NIKS kan dring nie.
3. Dat selfs al val daar duisend aan my sy en tienduisend aan my regterhand, na my toe sal dit NIE aankom nie.
4. Ek sal die goed rondom my sien gebeur en ook die vergelding van die goddelose sien.

En omdat ek glo dat my God steeds die Almagtige Skepper van hemel en aarde is, en dat Sy Woord steeds vandag nog fisies waar is, neem ek nie deel daaraan om daardie boodskappe aan te stuur om nog meer vrees in mense se harte aan te wakker nie. Ek verkies eerder om mense te herinner aan die woorde van Psalm 91:4-8 en hulle te leer om hulle oog op hulle God gefokus te hou, eerder as op die omstandighede wat vrees in hulle wil opjaag.

“Vader, baie dankie dat ek as U kind mag weet, ek hoef nie te vrees vir enigiets wat rondom ons gebeur nie. Ek kies om my oë elke dag eerder op U te hou as op die omstandighede rondom my, want ek weet U Woord leer my dat al val daar duisend aan my sy, en tienduisend aan my regterhand, na my toe sal dit nie aankom nie. Ek kies om eerder die waarheid van U Woord te glo, as die sieninge en opinies van mense. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys





1 comment:

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...