Friday 10 February 2017

Stilte in die stryd


Image result for Egiptenare in Bybel



Hierdie week lees ek weer die verhaal in Eksodus oor die uittog uit Egipte en ‘n splinternuwe ding tref my in die volgende verse:

(Exo 14:4)

En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.

Ons weet almal dat God alles weet, maar wat my opval is dat Moses nie onvoorbereid was op die agtervolging van die Egiptenare nie. God sê hier vir hom dat hulle die Israeliete gáán agtervolg. Hy wil Homself as God ten toonstel en verheerlik voor die vyand. En Israel was bang.

Net so wil Hy dit vandag nog doen in ons lewens. Hy weet van alles wat met ons gaan gebeur. Soms waarsku Hy ons sodat ons voorkomend kan bid, of ons paaie verander. Ander kere sien ons moeilikheid kom en ons weet dit kan ons enige oomblik tref. En dit is waar ons keuse inkom. Gaan ons op God vertrou en fokus en toekyk hoe Hy Homself verheerlik of gaan ons dat vrees ons oorval en begin skarrel vir planne of sommer net oorgee dat die omstandighede ons maar oorrompel?

God wil hê dat ons op Hom moet vertrou en net soos die Israeliete kan ons ook elkeen terugkyk oor ons lewens en sien hoeveel keer God ons wel uitgered het. Ons het genoeg rede om Hom te vertrou. Ons kan net uitroep na Hom.

Die volgende gedeelte het my nog meer gemoedsrus gegee.

(Exo 14:13)

Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.

(Exo 14:14)

Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

As ons in situasies kom waar ons net mooi niks kan doen om teëspoed te verhoed nie, en ons is in God se wil en plan kan ons ook net toekyk hoe Hy dinge gaan bewerk. Hy vra net van ons om nie bevrees te wees nie en om stil te wees. My eerste vraag is: Vader, hoe kan ek stil wees in ‘n worstelstryd? Want ek besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die bose geeste in die lug.

(Eph 6:12)

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

 En Vader kom verduidelik so mooi vir my weer die wapenrusting van God, en Hy staan ‘n oomblik stil by die swaard van die Woord. Ek moet die Woord bestudeer en hardop begin spreek, en sodoende my swaard opneem om daarmee te veg. As ek dit doen kan ek ontspan en stil wees want sien God is die Woord en dus my swaard en as ek die Woord leer en lees en spreek, stel ek my swaard wat God Homself is, in aksie in die worstelstryd. Hy sal dan vir my veg en ek kan Sy oorwinning in my lewe aanskou.

(Joh 1:1)

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

As ons dit kan doen beskerm God ons verder deur ‘n wolk / skadu tussen ons en die vyand te stel sodat ons onsigbaar is vir die vyand in die situasie en hy weet dat hy dan direk met God in ‘n worstelstryd is. Hoe wonderlik is dit nie dat God ons so omvou en Homself verheerlik in wat vir ons soms hopeloos lyk nie.

(Exo 14:19)

En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;

(Exo 14:20)

so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Verder is dit net so wonderlik dat God ‘n gewone man met die naam Moses ‘n eenvoudige opdrag gee om die situasie sigbaar te maak vir die volk. Hy sê dat Moses net sy hande moet uitsteek en die see sal oopkloof. Soms gee God vir ons opdragte. Nie omdat Hy ons hulp nodig het in die situasie nie, maar omdat Hy ons gehoorsaamheid wil toets. Hy gee opdragte binne ons vermoë. Kom ons wees net gehoorsaam aan God se Woord en opdragte en kyk hoe Hy Homself verheerlik. Dan sal ons die vyand nooit weer so sien soos in die situasie nie.

As ons dit self uitspartel en planne maak, sal die situasie himself weer en weer herhaal, al kry ons tydelike oplossings. Dit sal dit net uitstel en die vyand ‘n paar tree terugskuif. Maar as God vir ons stry, is dit permanent omdat Hy die vyand reeds oorwin het en kan ons rus in die wete dat ons meer as oorwinnaars is in Hom wat ons liefhet.

Dankie Here vir U uitkoms in elke situasie en dat U Uself verheerlik teenoor die vyand. U kom toe al die eer. In Jesus Naam. Amen

 (rene short - grs@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...