Friday 15 April 2016

Hoekom moes Jesus vlees word?



Image result for Jezus op aarde

Toe die sondeval (Adam en Eva) gekom het, het die mense outomaties onder die doodstraf gekom. Daar het ‘n verwydering gekom tussen mens en God.

Jesus moes mens geword het om die mens te red. Die mens word gebore met ‘n sondige natuur, wanneer jy wedergebore is, verander jou siel en gees na heiligmaking, maar jou vlees het nogsteeds ‘n sondige natuur. Ons lees in die Skrif dat die loon vir die sonde dit dood is.

Rom 6:23 want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here

In die tydperk wat Jesus op die aarde was het Hy meer gepreek oor ons saligheid en om te verseker dat ons na God gaan as enige iets anders. Hoekom? Omdat Jesus ons gewaarsku het dat as ons nie verander en Hom aanneem as ons Verlosser en Saligmaker nie, gaan ons hel toe. Dus sien ons dat hel bestaan! Jesus se self “Ek het gekom sodat jy kan lewe!”

Ons almal het ‘n afspraak met die dood. Niemand gaan hierdie afspraak kan kanselleer nie, maar waarheen gaan jy wanneer jy die dag sterwe? Ewige lewe ,na Jesus of ewige lewe na die hel?

Image result for Jezus op aarde

Kom ons kyk waarom vleeswording nodig was?

Jesus het mens geword, om te sterwe vir die mens se redding. Jesus was ‘n losprys vir ons!

Matt 20:28 “net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” lees ook1 Kor 15:1-4

Jesus moes mens word omdat Hy nie as God kon sterf nie, Hy moes as mens sterf, Hy moes met ons kon identifiseer deur menslike dinge te beleef, soos hartseer, honger, moeg, frustrasie, ens. Om te verstaan hoe ons voel. Jesus kon nie as God sterf nie want God is onsterflik, daarom moes Hy die gedaante van ‘n mens aanneem.

Hy moes sterf om as Middelaar te kon optree tussen mens en God. 1Tim 2:5-6 (verkort) Jesus het gesterf vir die sondaar. Lees ook Job 9:2

Om as Hoë Priester ons offers na God te bring Heb 7:15-17 En nog duideliker is dit as daar ‘n ander priester opstaan na die ewebeeld van Malgisedek, een wat dit geword het nie kragtens die wet van ‘n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe, want Hy getuig: U is Hoë Priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek. Lees ook Heb 7:4-5 Heb 10:5 Heb 10:14

 Om Koning te word op aarde. God het ‘n belofte aan Dawid gemaak dat uit sy nageslag ‘n Koning gebore sou word wat tot in alle ewigheid Koning sou wees. Die belofte moes vervul word. Lees Luk 1:32&33

Om ons te kom leer van God se Koningkryk, hemel en hel. In die Ou Testament kon profete net vertel wat hulle gehoor het, Jesus kon getuig omdat Hy God was. Lees Matt 5, Joh 3:1-5 Matt 6:8 Ps 103:13 Jesus leer ons van siekte, gebondenheid, duisternis,dood, sonde en hoe om dood te oorwin.

Alhoewel Jesus, God is, was Hy 100% mens op aarde. Jesus het geen wonderwerke gedoen voordat Hy gedoop was nie. Hy was afhanklik van die krag van die Heilige Gees. Hoekom het Jesus wat God is, die Heilige Gees nodig gehad om wonderwerke te doen? Sodat ons as mens kon sien jy moet bekeer, wedergebore (gedoop) word en die Heilige Gees ontvang, om onder die Heilige Gees se kragte te kan opereer.

Jesus moes mens word, sodat ons die Evangelie kon glo, dat daar getuienis kon wees om te sien en te leer van God se Almag. Jesus het die losprys kom betaal sodat ons vandag gered kan word, sodat almal wat in Hom glo die ewige lewe kon be-erwe. Sonder Jesus is ons almal bestem vir die ewige hel!

Fil 2:6-11 Hy wat die gestalte van God was, het dit geen roof geag, om aan God gelyk te wees nie (7) maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk te word (8) en in ‘n gedaante gevind as ‘n mens, het Hy homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis (9) Daarom het God hom ook uitermate verhoog en Hom gegee ‘n Naam bo alle name (10) Sodat in die Naam van Jesus, sou buig elke knieg van die wat in die hemel en die wat op die aarde, en die wat onder die aarde is (11) en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader
.
Jesus is die weg, die waarheid en die lewe!

Indien u geestelike berading of gebed benodig kontak my belindapaar@gmail.com

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...