Wednesday 16 May 2012

Die vals profete:

Apostle Silas
Apostle Silas (Photo credit: Wikipedia)


Jer 23 : 16 - 17
16 So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie.
17 Hulle hou aan om vir dié wat My minag, te sê: Die Here sê daar sal vrede vir julle wees. Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle: Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie.

Jer 23 : 25 - 32
25 Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!
26 Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee?
27 Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het.
28 Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here.
29 My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.
30 Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom.
31 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: Die Here sê so.
32 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

Ek wil 'n baie sensitiewe ding sê (vergewe my). Ek hoor so dikwels dat mense 'n gewoonte aankweek om dinge te sê soos: "Toe sê die Here vir my ……" of "Die Here het vir my gewys ……." "Ek sien in jou …..".
Natuurlik kan dit so wees. Maar is dit altyd? Jy sien, tot valse profete het dinge gesê wat korrek klink. Vers 17 "Die Here sê daar sal vrede vir julle wees". Dit klink so reg. Maar …. "Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie."
Hand 16 : 16 - 19
16 Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien.
17 Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.
18 Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.
19 Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep.

Jitte, het sy enigiets verkeerd gesê? Nee, maar die motief was verkeerd. Sy het geld gemaak vir haar eienaars. En Paulus en Silas is selfs in die tronk gegooi daaroor. Kan jy sien hoe ontsettend belangrik dit is dat ons ongelooflike goeie onderskeidingsvermoë moet hê. As iemand iets sê, moet ons eintlik vra "sê wie?" Is dit God wat regtig gepraat het, of nie? Is die motief selfgedrewe, of om God se Koninkryk uit te brei?
Daar is 'n groot verskil tussen wat die leuenaar - satan - doen en vals profesië. Maar, ek glo die bose sit agter albei. Want vals profesie kan so reg klink, en mens kan so maklik dit aanvaar asof van die Here af, maar dalk is dit nie.
Vals profete. Nou hoe dan nou gemaak? Het mense vandag die gawe van profesie? Verseker, definitief. Dis een van die pertinente genadegawes wat die Here vir mense gee. 1 Kon 12 : 10 (ou vertaling) Die gawe van profesie - nuwe vertaling praat dit van "die gawe om God se boodskap te verkondig". Dus, om te sê wat God sê. Hoe weet ek dan waarna ek moet luister?
1. Ondersoek jou eie motief oor hoekom jy iets wil hoor. Is dit tot jou eie voordeel? Materialisties van aard? Of regtig om uit te vind wat jy moet doen?
2. Ondersoek die motief van die persoon wat profeteer. Is dit dalk op een of ander manier vir sy eie gewin? Status, geld, eer.
3. Kyk eerlik of daar 'n element van waarsêery in is. Wil jy regtig weet wat die toekoms inhou? Wat in jou besigheid gaan gebeur wanneer die lotto gaan uitbetaal? Of wat die nommers is? Indien wel, is jy ook lus om te weet of 'n geliefde oor 'n week in 'n ongeluk gaan sterf?
4. Gaan toets die woord wat oor jou gespreek is. Toets dit aan die skrif, aan 'n mentor, met tyd. Gaan bid daaroor en wag vir bevestiging.
5. Ons wil so graag iets "hoor", of "sien". Wat van hierdie een? Is jy bereid om die Here te vra wat jy moet gaan doen? Hoeveel geld - en vir wie - moet jy hierdie maand weggee. Met wie moet jy gaan praat oor sy/haar geestelike lewe?
Dis moeilike goeters hierdie, maar as ons alles gaan toets aan motief, gaan ons reeds 'n groot element van valse profesie uitwis.
En weet jy, daar is wonderlike beloftes wat saam met profesie gaan.
Jes 1 : 18 "Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol."

Enhanced by Zemanta

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...