Thursday 2 April 2020

Wêreldwye Nagmaalfees op 10 April 2020



Meer as twee biljoen Christene wêreldwyd sal op Goeie Vrydag 10 April 2020 saam die Nagmaal vier. In die meeste gevalle sal almal nog ingeperk wees en gesinne sal in afsondering die grootste Nagmaalfees in die geskiedenis van die mensdom vier.

            Een van die organiseerders, die bekende prediker Jimmy Evans, sê: “Ek glo dit kan die katalisator wees  om die COVID-19 te vernietig wanneer miljoene Gelowiges wêreldwyd eendragtig by die Nagmaal aansit en die Nuwe Verbond deur dier liggaam en bloed van Jesus te gedenk.

Die intiemheid van die Nagmaal

“En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Matt 26:39

Asook strofe 42: “Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.”

Watter beker het Jesus na verwys?

Neem in ag dat Jesus ‘n Jood is wat volgens Joodse tradisies en kultuur grootgeword het.

Die Joodse tradisie destyds by ‘n Joodse troue, was dat die vader van die verloofde seun vir die bruid betaal en die huwelikskontrak (Ketuban) opstel. Hand 20:28; 1 Kor 6:19-20; 1 Kor 11:25; Efes 5:25-27

By die verlowing word die huwelikskontrak gelees. Die verloofde drink dan wyn uit ‘n kelkie  en dit word aan sy verloofde gegee om ook te drink. As sy sou weier, was daar geen huwelik nie. As sy die wel wyn drink het sy die kontrak en huweliksaanbod aanvaar en is die verlowing ‘n verbond wat nie verbreek mag word nie.

Die verloofde gee dan aan sy toekomstige bruid geskenke en keer terug na sy vader se huis en  bou ‘n woonplek aan by sy vader se huis vir hom en sy toekomstige bruid. Joh 6:62; Joh 14:2; Hand 1:9-11

Die toekomstige bruidegom sal na sy verloofde terugkeer wanneer hy hulle woonplek voltooi het en wanner sy vader sê hy kan haar gaan haal. Sy het geweet hy kom terug, maar nooit geweet wanneer nie. Dit kon ‘n jaar na twee jaar duur. Matt 24:36

Wanneer sy vader gesê het hy moet die verloofde gaan haal, het niemand geweet die bruidegom is op pad nie. Sy aankoms was aangekondig met ‘n wekroep en die blaas van die shofar (ramshoring). Joh 14:3; 1 Thes  4:13-18

Die bruid wis nie wanneer die bruidegom sou kom nie, maar sy had haar lamp en klere gereed. Haar diensmeisie had ook hulle lampe en olie gereed.

Die bruid moes ‘n reinigingsritueel ondergaan. 1 Kor. 3:12-15; Openb 19:7-8. Dan vind die huweliksbevestiging plaas. Openb 19:7

By die huwelik het die bruidegom weer wyn uit ‘n kelkie gedrink en die bruid moes die res drink. Na die kelkie geledig is, het die bruidegom dit op die vloer aan flenters getrap.

Die Jode sê vandag nog dat met die stukkend trap van die kelkie gedenk hulle die verwoesting van die Tweede Tempel.

Vir ons beteken dit eerder die verguising van die Messias se bebloede liggaam, want Jesus het vooraf gesê die tempel sal afgebreek word en oor drie dae herbou word. Dit laat mens wonder of Christene nie ook soos die Jode moet trou nie, juis vanweë die sterk simboliek.

Daarna volg die Bruilof. Matt 22:1-14; Matt 25:1-13; Luk 12:36. Sommige hou die Bruilof elke aand sewe dae lank. By die huwelik word ook sewe keer rondom die bruidegom geloop, onder meer om die sewe seëninge van die huwelik te gedenk.

Die Huwelikskontrak word, nadat dit gelees is, aan die Bruid oorhandig vir bewaring (In ons geval is die Bybel ons kontrak). Sy mag dit wegbêre, of sy mag dit raam en in die huis vertoon.

Die Wedergeborenes se eerste stap na die huwelik met Christus, het reeds plaasgevind. Ons is nou in ‘n verbond met die Messias. Ons gedenk die bloedverbond tussen die Messias en onsself vir sovele kere as ons die Nagmaal gebruik. Nagmaal gaan nie net oor wat op Golgota gebeur het nie, maar wat elke keer gebeur tot by die Hemelse huwelik wanneer ons dit saam met ons Bruidegom sal nuttig.

Toe Hy vertrek het, het hy ons ook die Heilige Gees en al sy gawes (geskenke) gegee.

Sy smeekbede oor die beker in die Tuin van Getsémané, was die prys wat hy moes betaal vir ons, sy Bruid. Dit was ‘n bitter duur prys in die vorm van ‘n bloedverbond.

Na Sy opstanding sê Jesus (Hy het die prys vir sy Bruid betaal) hy gaan nou na sy Vader se huis om vir ons ‘n plek te berei en wanneer hy klaar is, sal die Vader hom stuur om ons, sy Bruid, deur middel van die Wegraping te kom haal.

Jesus se Tweede Koms na die aarde het niks met die verhaal hierbo in gemeen nie. Ons Bruidegom kom ons haal en die Bruilof sal sewe jaar lank in die Hemel duur. Vir die Gelowiges, die Bruid van die Messias, is Jesaja 54 besig om in vervulling te gaan.

            Luister: “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

            “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

            “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.

            “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

            “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle Ewigheid. Amen.” 1 Pet 4:7-11 – Wekroep



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...