Wednesday 1 April 2020

Die voetspore wat jy agter laat


Tydens 'n onlangse bedieningsnaweek in Kimberley, het Vader heeltyd met ons gepraat oor die voetspore wat ons sou agterlaat wanneer ons daarvandaan weer sou huistoe keer. Selfs terwyl ons op reis was vanaf Mosselbaai na Kimberley, was ons konstant herinner deur Heilige Gees om bedag te wees op ons optrede, sodat ander Jesus deur ons sou kon sien, al het ons nie 'n woord gespreek nie.

Ef 5:2  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.

Terwyl ons nie geweet het wat op ons wag in Kimberley en hoé Vader presies die aflewering gaan doen nie, het Heilige Gees dit heeltyd op ons hart gedruk om net die liefde van Jesus te leef. Ons vergeet só maklik dat ander mense ons met 'n arendsoog dophou om te sien of dit wat ons verkondig, waarheid in ons eie lewens is. Mense het moeg geword vir lippetaal en wil die vrug sien van dit wat ons verkondig.

Mat 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
Mat 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
Mat 7:18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
Mat 7:19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
Mat 7:20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Dit is baie maklik om aan 'n ander die Woord voor te hou of die beginsels van Christenskap te wil leer, maar watter reuk laat ek agter wanneer ek gaan en watter voetspore het ek gelaat dat ander daarin kan wandel wanneer ek nie naby is nie?

Die Bybel sê dat ons dié wat buite is, moet jaloers maak op dit wat ons het en dat ons altyd moet gereed wees om rekenskap te gee oor die hoop wat in ons is!

Rom 10:19  Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ‘n onverstandige volk.

1Pe 3:15  Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

Mag ons werklik elkeen in hiérdie week Christus voluit begin lewe in elke treë van ons handel en wandel, sodat ander werklik jaloers kan wees oor die liefde en opregtheid van 'n lewende Jesus in en deur ons!


GEBED:

"Vader vergewe ons dat ons só baie kere 'n stank agterlaat, omdat ons nie let op die vrug wat ons dra nie. Help ons, Heilige Gees, om werklik U onvoorwaardelike liefde uit te leef en dieselfde genade te gee as wat ons elke oomblik van die dag ontvang...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...