Thursday 9 April 2020

Lewend gemaak na Sy Woord

Psalm 119:25-32: "My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart."

In die lig van die huidige "lockdown" dwarsoor die wêreld, is dit vir my net weer interessant om op te let hoe ewiglik bly God se Woord waar. Want hierdie woorde wat Dawid ongeveer 3000 jaar gelede geskryf het, is vandag steeds van toepassing in hierdie baie unieke tyd waarin ons ons bevind.

As ons kyk na baie van die boodskappe en videos wat tans rondgestuur word, kan ons sien dat baie mense se siele kleef ook aan die stof, want hulle is vreesagtig en verward oor die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur. Maar wat moet ons doen om oorwinning daaroor te kry?

Ons moet lewend begin raak na God se Woord! Dis NOU die tyd om die Woord van God te bestudeer, in te neem, met Hom in gesprek in te gaan by wyse van gebed, en wat sal gebeur? Die Here sal luister na ons gebed en Hy sal ons Sy insettinge leer om aan vas te hou in hierdie tye.

Want baie mense se siele "drup weg van kommer" oor wat besig is om in die wêreld te gebeur. En dit is ook niks snaaks nie, want Jesus self het in Lukas 21:26
gesê dit is presies wat sal gebeur net voor Sy tweede koms.

Maar wat is die oplossing? Ons moet die Here vra om ons op te rig na Sy Woord, dat ons Sy Woord sal begin verstaan, ook rondom die tye waarin ons leef, sodat ons ons kan gereedmaak vir Jesus Christus se koms!


Ons moet die Here ook vra om die weg van die leuens van ons te verwyder, en Sy wet aan ons te leer in hierdie tyd. Want daar is vandag soveel "fake news" en leuens wat ook versprei word, dat baie mense naderhand nie meer wat wat om te glo, en wat nie. Daarom moet ons Hom ook vra om ons meer onderskeiding te gee rondom wat is waarheid, en wat is leuens.

Ons het die vrye wilskeuse om ook soos die Psalmdigter die weg van waarheid te kies en God se Woord en Sy opdragte en Sy verordeninge voor ons te stel, m.a.w. dit aktief in te neem, te leef en te bestudeer. En as ons Sy getuienisse in Sy Woord werklik ons eie maak, en dit aankleef, sal ons ook nie beskaamd staan nie, sal ons nie in dieselfde verwarring gevang word as waarin die wêreld tans vasgevang word nie.

En wat sal die uiteinde ook dan vir ons wees? Dat ons op God se weg sal wandel en dit sal ook ons harte opvrolik, ongeag wat besig is om rondom ons te gebeur.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om werklik tyd met God en Sy Woord te spandeer, Sy Woord te bestudeer en dit te deel met ons mense rondom ons, want een ding is verseker, ons Koning Jesus is op pad terug, en ons moet gereedmaak!

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief deur U Heilige Gees om nie bevrees en bevange te raak oor die dinge wat oor die aarde kom nie. Maar dat ek werklik 'n nuwe honger sal kry vir U en U Woord, en dat dit dan ook my hart sal verruim en opgewek en vrolik maak, ongeag die dinge wat besig is om rondom my te gebeur. Leer my om te alle tye my vertroue slegs in U te plaas. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...