Tuesday 29 January 2019

Wanneer is dit die Einde?



Hoeveel keer vra ons tog nie vir onsself hierdie eenvoudige vragie nie? Soms vir ietsie eenvoudigs, maar soms vir iets wat selfs ons saligheid kan raak. Hoe kan ek dit sê?

Wel, kom ons sê jy speel byvoorbeeld in ‘n rugbywedstryd en jy is aan die verloorkant, erg. Jy kan dan nie meer wag totdat die spel verby is nie en jou gedagtes sing met: "WANNEER IS DIT DIE EINDE?" al het jy wel ‘n horlosie om op te werk en te sien hoeveel tyd is nog oor.

Netso in dieselfde wedstryd speel jy aan die wenkant, en jy sal ook sê: "WANNEER IS DIT DIE EINDE?" maar sonder kommer want die horlosie sal jou wys hoe lank voor jy kan seëvier in jou span se oorwinning.

Dieselfde geld vir ons geestelike wandel in die lewe ook.

Wanneer iemand dalk erg aan die verloorkant is van die lewe is dit maklik om te vra: "WANNEER IS DIT DIE EINDE - want dan is die seer nie meer daar nie?", of so vermoed baie mense.

En wanneer ons aan die wenkant of aan geestelike groei floreer, vra ons ook met opgewondenheid: "WANNEER IS DIT DIE EINDE?" want ons kan nie wag om by ons Skepper en Koning te wees tot in alle ewigheid nie.

So, die vraag is altyd, altyd, daar. In beide goeie tye en slegte tye van die lewe.

Dit hang wel van onsself af wat die antwoord is op hierdie eenvoudige vragie. Beide in die fisiese en in die geestelike.

In die fisiese, bepaal jou gemoed hoe die vraag beantwoord sal word en as jy lewe in die geestelike groei soos bepaal deur die Woord van God in Romeine 12:2 sal die fisiese gemoed deur die geestelike versterk word om beslis die positiewe te kan beantwoord.

Romeine 12:2  "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."

Solank ons ons oë hou op Jesus Christus van Nasaret wat vir my en jou sondes gesterf het, opgevaar het na die Hemel, en huidiglik (ek is seker) ook nie kan wag om die antwoord op "WANNEER IS DIT DIE EINDE?" finaal te kan volbring nie.

Dis dalk wel moeilik om die antwoord vir hierdie vraag te kan bedink wanneer die vervolginge en verdrukkinge nou hier op aarde plaasvind, veral in daardie oomblikke van seer en moeilikheid, maar tog sal God ons deurdra deur alles!

Deuteronómium 4:31  "Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie."
Nou die vraag in die geestelike, "WANNEER IS DIT DIE EINDE?"

Alle aanvalle in die geestelike hier op aarde kom van satan af en as dit erg raak en hierdie vragie kom in ons koppe op, moet ons moed hou want ons weet dat Jesus self ‘n klomp tekens aan Sy dissipels genoem het wat moet plaasvind, voordat die einde sal kom.

Beide in Matthéus 24:6 en Markus 13:7 sê Jesus persoonlik aan Sy dissipels “...maar dit is nog nie die einde nie” en Hy verwys na die eintlike ware vraag wanneer is DIT die einde? wat in ons almal se gedagtes ronddwaal.

DIT verwys tog sekerlik na die hartseer, wreedheid, bose wêreld van vandag, ens. en slegs God die Vader weet wanneer DIT die FINALE einde sal wees!

So elke dag wanneer die vragie in jou gedagtes opkom, beide in jou geestelike groei (van Jesus se kant af) en miskien in jou mismoedigheid (van satan se kant af), kan jy steeds WEET met ‘n blye hart dat God steeds in beheer is en Hy alleen weet WANNEER DIT DIE EINDE IS!

Matthéus 24:36  "Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen."

Hierdie is ook die begin van ‘n nuwe jaar, so beslis is dit nie die einde nie, maar ‘n nuwe begin wat ons kan opdra aan Jesus Christus, en waar ek kan weet die jaar wat voorlê het geen struikelblokke vir my wat ek nie kan oorwin nie, want my God is aan my kant.

Filippense 4:13  "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."

Gebed:

"Almagtige Vader wat in die Hemel is, Skepper van Hemel en Aarde, U is die Alfa en die Omega, U is die begin en die einde, U alleen weet wanneer dit die einde sal wees. Help my asseblief om elke dag te waak en bid soos U Woord my sê om te doen sodat wanneer ek dalk wonder oor die einde, ek sal weet, U is in beheer en U weet alles en gee my dan asseblief die krag om my gemoed te versterk deur U Woord sodat ek die vyand kan oorwin deur U Heilige Gees.Ek bid dit in Jesus Naam.
Amen."

Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...