Tuesday 15 January 2019

Moenie agtertoe kyk nie!



Ek wens al ons lesers 'n baie mooi en geseende 2019 toe, mag die vrede van God met julle wees elke dag van 2019, voorspoed, geluk en vrede wens ek julle toe in Jesus Naam.

Groete en seen
Belinda



Lukas 9:62: "En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie."


Hier aan die begin van 'n nuwe twaalf maande tydperk volgens die wêreldse kalender, is ons as gelowiges tog so baie kere geneig om heeltyd te wil terugkyk na die vorige twaalf maande. Ons kyk terug na verkeerde besluite wat ons gemaak het, of ons kyk terug na verhoudinge wat ten einde geloop het, of ons kyk terug na 'n loopbaan wat tot 'n einde gekom het...

En wat veroorsaak daardie terugkyk in die meeste gevalle? Hartseer, of swaarmoedigheid of moedeloosheid, in sommige gevalle selfs vrees, of onvergifnis en bitterheid. Maar van waar kom al daardie negatiewe dinge? Van niemand anders as satan nie!

Want hy ken die Bybel en hy weet wat Lukas 9:62 bepaal. Daarom sal hy gedagtes in ons koppe plaas om ons heeltyd te laat terugkyk na "gister", want daar kan hy ons vasbind. En juis daarom sê Jesus self in Lukas 9:62 ons MOENIE agtertoe kyk nie, want dan is ons nie geskik vir die koninkryk van God nie.

En die woordjie "koninkryk" in Grieks is "basileia" en beteken: "to rule, to reign, or have dominion". Met ander woorde, as satan ons kan kry om heeltyd terug te kyk na gister, is ons nie geskik vir God se geestelike outoriteit in ons lewens nie. En satan weet dit ook.


Daarteenoor is die Here se plan vir ons die volgende:

Jeremia 29:11: "Want ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee."

Hier sien ons waarom God nie wil hê dat ons agtertoe moet kyk nie, want Hy wil hê ons moet daagliks in ons geestelike outoriteit lewe in Sy Koninkryk, en Hy het gedagtes van vrede vir ons en nie van onheil nie. So, al daardie onheil wat my dalk in 2018 getref het, was beslis nie van Hom nie. Daarom leer Hy ons verder in Sy Woord in Filippense 3:14:

"Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus."

Kom ek en jy leer dus om sommer vroeg in hierdie nuwe jaar reeds klaar te maak met alles wat agter is, deur te vergewe en vry te spreek soos die Here my leer in Sy Woord, en om my dan uit te strek na die dinge wat voor my is, sodat ek en jy kan instap in daardie hoopvolle toekoms wat ons liefdevolle Hemelse Vader vir ons het.

GEBED: 

"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Vader, ek kies om klaar te maak met die dinge van die verlede, help my asseblief om dag vir dag almal te vergewe wat my tenagekom of seergemaak het, en leer my ons my uit te strek na wat voor is en die hoopvolle toekoms wat U vir my het, ook in 2019. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...