Wednesday 13 June 2018

Kyk nie angstig rond nie


Image result for Jesaja 41:10


Jesaja 41:10:  "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand."

Dalk begin jy hierdie week met ‘n bekommernis of selfs ‘n vrees oor iets wat vir jou voorlê. Dit kan dalk die moontlikheid wees dat jy jou werk kan verloor, of daar lê ‘n dagvaarding op jou tafel wat jy nog nog nie weet hoe jy dit gaan hanteer nie, of jy verwag doktersuitslae wat dalk jou en jou familie se hele lewe kan verander.

Wat dit ookal mag wees, hierdie week wil ek jou bemoedig met ons lewende God se eie woorde in die bogemelde teksvers. Hy sê dat jy nie bevrees moet wees nie en nie angstig moet rondkyk nie. Hoekom nie? Want Hy is jou God wat jou versterk, jou help en jou ondersteun met Sy regterhand. Moet dus nie beangs raak deur jou omstandighede nie, klou net met alles wat jy het vas aan die Here Jesus Christus en weet dat Hy jou nooit sal laat gaan nie.

Slegs in Hom vind ons ons krag en daarom leer Filippense 4:13 ons dat ons tot ALLES in staat is deur Christus wat ons die krag gee. VRA Hom daarom elke oggend in jou gebede om jou die krag te gee om te kan hanteer wat dit ookal is wat hanteer moet word in hierdie week.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Ek bely dat ek bevrees begin raak het as gevolg van my omstandighede en beangs begin rondkyk het Here, vergewe my asseblief daarvoor. Ek kies vandag om oor my omstandighede te verklaar dat U my God is en dat U my versterk, my help en my ondersteun met U reddende regterhand, en ek dank U nou dat U my sal deurdra, in Jesus Naam! Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...