Wednesday 15 November 2017

Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?


Image result for john 10 10

Heel aan die begin van hierdie artikel, wil ek dit net baie duidelik stel, dat ek nie bedoel om ‘n klinklare antwoord te gee oor hierdie vraagstuk nie, maar om bloot ‘n bietjie lig te werp op die realiteit dat geen mens gevrywaar is teen die aanvalle van die Satan nie...nie eens getroue en gehoorsame kinders van die Here nie…en dat God nie dood maak nie!

Die heel eerste vraag wat só dikwels gevra word is: “hoekom het God dit toegelaat?” As ons dan sulke getroue en gehoorsame kinders van God is, hoekom laat Hy toe dat die Satan ‘n geliefde kind se lewe neem, of ons aanval met siektes en krankhede, of die plaasaanvalle toelaat? Só dikwels word die verhaal van Job dan aangehaal en word daar gesê dat God ons geloof wil toets. As ek egter die verhaal van Job lees, sien ek duidelik dat God juis by Satan gespog het oor Job se geloof. Hy het dus nie nodig gehad om Job se geloof te toets nie, want Hy het presies geweet dat Job Hom nooit sou verloën nie!

Job 1:8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.

Die volgende vraag wat onmiddelik opkom is, wat is die “oop deure” in ons lewens wat die Satan ‘n reg gegee het om aan te val. En tereg IS dit Satan wat hier op aarde is om te steel, slag en verwoes!

Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die dief na wie Jesus hier verwys, is Satan homself. Ons sien dit ook  in ander aanhalings waar Jesus die gelykenisse gee van die goeie herder en die skaapkraal, waar hy dan sê dat die dief nie by die deur van die skaapkraal inkom nie. Die goeie herder verwys natuurlik na Jesus homself en so is Hy ook die deur (Weg) waardeur die skape (gelowiges) in die kraal kom. Die blote feit dat ek en jy kinders van God is, maak die duiwel briesend en maak ons teikens van sy aanslae! Daarom is geen kind van God gevrywaar van die duiwel se aanvalle net omdat ons nou  “onder die Bloed” is, nie.

 Opb 12:12 Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.

Dit is tereg egter ook só dat “oop deure”  verseker die vyand ‘n reg sal gee om ons te kan aanval en moet ons voortdurend onsself voor God verootmoedig en Sy Heilige Gees vra om aan ons die areas uit te wys waar ons in ongehoorsaamheid leef teenoor Sy woord. Só dikwels bind die vyand ons só vas met ‘n besige lewensstyl of met ons oog gevestig op die wêreldse dinge, dat ons verhouding met Jesus skade lei en dan hoor ons nie die stem van Sy Gees wanneer Hy ons waarsku teen die aanvalle wat die vyand teen ons beplan nie.  Ek is ook van oortuiging dat Jesus hom nooit sal laat “outgive” deur die vyand nie en dat Hy altyd eerste is met ‘n waarskuwing of ‘n antwoord.

Die feit van die saak is, dat selfs Jesus nie gevrywaar was teen die aanvalle van die vyand nie en het Satan hom voortdurend aangeval tydens Sy 33-jarige leeftyd hier op aarde! Ek wil dus hê dat mense moet besef dat dit verkeerd is om die oortuiging te hê dat daar ‘n oop deur MOET wees, wat Satan reg gegee het om te kom steel, want dit is nie altyd die geval nie. As ons dan ook weer na Job se verhaal gaan kyk, dan sien ons duidelik dat dit juis was oor hy só vroom en Godvresend was, dat die vyand lus gehad het om hom aan te val.

Heb 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

En dit bloot omdat Jesus in alle opsigte mens was net soos ek en jy vandag:

Joh 1:10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
Joh 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Joh 1:13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Satan se aanslae teen Jesus was só erg, dat hy selfs die hele wêreld aan Hom beloof het, as Jesus hom net sou aanbid…en dit alles nog voordat Jesus één wonderwerk gedoen het. Jy sien, want hy het geweet dat as Jesus aan God in alle opsigte gehoorsaam sal wees tot die einde toe, dan het hy, wat Satan is, GROOT probleme! Want Jesus het nie net gekom om te sterf vir die mens se sonde  en só versoening tussen mens en God te bring nie, maar ook om die heerskappy, wat van die begin af aan die mens gegee is, te kom terugvat uit Satan se hand. Hierdie heerskappy is in die tuin van Eden deur Adam aan die vyand weg gegee toe hy aan die vrug geëet het.

Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Kol 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

Jesus het die oorwinning vir ons behaal en daarna het Hy ons mede-erfgename gemaak van hierdie oorwinning.

Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

Ek sien egter ook dat die Woord duidelik meld dat Jesus aan ons die mag gegee het oor al die “krag van die vyand”:

Luk 10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.

Ons kan dus met sekerheid weet, dat ons in die krag van Jesus, kan staande bly in hierdie stryd teen die vyand.
Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Tereg sê die Bybel dan ook dat ons in ‘n stryd teen die vyand is hier op aarde, al het Jesus hom reeds oorwin. Die harde waarheid is dat hierdie ‘n stryd is tot die dood toe en dat ons, óf bloedbelope daarvan sal afkom, óf in die geveg gaan omkom as ons dit nie in die krag van Jesus aanpak nie.

Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Weereens bevestig hierdie stuk dat, die vyand hier op aarde, Satan homself is en omdat ons hom nie kan sien nie, kan ons hom nie in die vlees baklei nie! In die brief aan die Korinthiërs, stel Paulus dit duidelik dat ons nie met vleeslike wapens kan baklei nie.

2Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Beteken dit dan nou dat ons nie mag hartseer wees as die vyand een van ons geliefdes kom steel nie? Nee, verseker nie! God het die mens gemaak met emosies en dit is een van die dinge wat aan ons gegee is, sodat ons kan uitting gee aan die seer en kwaad wat binne ons woed, sodat daar ook met verloop van tyd, genesing kan kom. Die voorwaarde is net dat die kwaad teenoor die vyand gerig moet wees en nie teenoor mense of selfs God nie. Baie keer word God verkwalik omdat Hy dan nou “kwansuis” die aanval of verlies toegelaat het of dit voel vir die persoon asof God nie daar was om hul te beskerm nie. Die feit is dat God die outoriteit om te heers, aan die mens gegee het en dat dit van die begin af Sy skeppingsopdrag was. Omdat Hy dan tot op die laaste komma en punt, getrou is en sal wees oor Sy woord, sal Hy nie inmeng nie, al kan Hy ook.

So hoekom dan word mense op wreed wyse gemoor en gemartel as hulle dan getroue kinders van die Here is wat veronderstel is om deur die bloed van Jesus beskerm te word terwyl Hy ook Sy engele opdrag gee oor Sy kinders? Ek dink die antwoord kry ons in Jesaja 57:

Jes 57:1  Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid.

Jesus het ons baie duidelik gewaarsku dat hierdie laaste dae sal wees soos in die dae van Noag, voordat God besluit het om die die hele mensedom (behalwe 8 siele) te verwoes met die groot vloed. Die Woord waarsku ook dat die wat sleg is nog slegter sal word.

Die vraag is egter of ons as kinders van God, die tekens raaksien rondom ons en besig is om ons voor te berei vir Jesus se koms? Is ons ook besig om te verseker dat ons huismense die Here ken en Hom dien, dat wanneer dit tyd is vir hulle om hierdie tentwoning te verlaat, dat hulle in die paradys ontvang sal word?

Die verval en die toename van die duisternis in hierdie lewe, is 'n werklikheid en kan nie vermy word nie, want dit is die vervulling van God se woord, maar is ek en jy as Sy kinders, gereed om ons Skepper te ontmoet?

Gebed: Here Jesus gee ons die krag om in hierdie dae wat ons beleef en dit wat ook nog sal kom, staande te kan bly in U sterkte en om onsself voor te berei vir U koms. Gee ons ook die krag om te kan vergewe en vryspreek en om die stryd in die gees te voer en nie in die vlees nie. En Vader genees asseblief waar daar wonde van bitterheid en seer is wat veroorsaak word deur die aanslae van die vyand...In Jesus Naam. Amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...