Monday 27 November 2017

Die wapen wat satan die meeste vrees


Image result for 2 Kor 10:4

2 Kor 10:4 & 5 sê: “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Ons beskik oor ‘n arsenaal van wapens wat nie deur mensehande gemaak is nie, wat gemaak en verskaf word deur God Homself. Dit is nie gemaak vir eie gratifikasie of manipulasie in enige vorm nie maar is spesifieke wapens wat ontwerp is om demoniese vestings te verbreek. Die weerlegging van elke valse argument teen Waarheid. Hierdie wapens het die krag van God om die wapens van die vyand, teen ons geloof te vernietig!

Gebed is een van hierdie wapens en wanneer dit gekoppel word aan die Woord van God, ontsluit dit onoorwinbare krag. Dit is die wapen wat Satan die meeste vrees. Dit is ook waarom die dissipels gesê het; “Ons wy onsself aan gebed en aan die bediening van God se Woord.” Wanneer ons hulle voorbeeld volg, sal ons dieselfde resultate beleef en bereik as hulle.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld uit die Bybel:

Terwyl Josua teen die leermagte van Amalek geveg het in die vallei van Ráfidim, het Moses op die heuwel gestaan met die staf van God in sy hand. Hy het sy hand met die staf omhoog gehou en Josua het gewen in die geveg. Sodra Moses se hand en die staf gesak het, het Josua egter verloor. Aäron en Hur het langs Moses kom staan en het sy hande omhoog gehou en die volk het ‘n oorweldigende oorwinning behaal.

Eks 17:8 - 13  “Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.”

Die oë van God deursoek die aarde om die harte te versterk van díe wat ten volle aan Hom toegewy is, die wat ernstig is oor Sy Woord en gebooie. Jesus sê dat wanneer ons in die binnekamer bid sal Vader ons in die openbaar vergoed. ‘n Voorbeeld hiervan het in Jerusalem gebeur. Die dissipels het in gebed bymekaar gekom en die hele huis is geskud en almal is vervul met die Heilige Gees. Hulle het die Woord van God met durf en vrymoedigheid gepreek, ook in die aangesig van vervolging en dood.

Hierdie kort blik in die Bybel bevestig ook Jak 5:16  “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Gebed ontsluit groot krag, dinamies in sy werking en effektief in sy gevolge. Groot krag wat Goddelike resultate voortbring.

Waarom begin jy nie vandag bid nie? Jy mag net jouself vind waar jy elke dag bid en God antwoord. Jy, geliefde, het in jou hand die wapen wat die meeste deur Satan gevrees word! Gebruik dit.

Gebed: “Here Jesus, leer my ook bid soos U die dissipels geleer het. Help my deur die Heilige Gees, sodat my gebed nie net woorde sal bly nie maar ‘n kragtige wapen sal word. Ek vra die in die Naam van Jesus Christus van Nasaret. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...