Wednesday 23 August 2017

Gebed van 'n regverdige het groot krag!


Image result for Jak 5:16


Wanneer ons praat oor verdeeldheid, sal menige kind van God onmiddelik dink dat daar na die eenheid in die liggaam van Christus verwys word. Daar is egter 'n ander plek waar verdeeldheid 'n baie groot wapen in die arsenaal van die vyand is...en dit is binne ons eie huisgesinne! Menige kere as daar 'n argument of meningsverskil tussen die lede van die gesin plaasvind, is die partye maar baie traag om mekaar te wil vergewe en vryspreek...tenminste tot op die punt waar die “eie ek” eers weer loop lê het.

Min word dit egter besef dat hoé langer ons uitstel om te vergewe en vry te spreek, hoé meer steel, slag en verwoes die vyand in ons laer...deur onvrede, siektes en krankheid, finansies, ens. Terwyl die Bybel ons baie duidelik waarsku dat ons nie die son moet laat ondergaan op ons toorn nie. om sodoende dan nie die vyand 'n plek te gee in ons lewens nie!

Ef 4:26  Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;
Ef 4:27  en gee aan die duiwel geen plek nie.

Ons almal weet en verstaan dat as daar verdeeldheid in ons laer is, dan is daar gewoonlik 'n groot klomp gemors en wynig vrede tussen die lede. Die waarheid is: dat as daar verdeeldheid is, dan is daar ook geen krag nie!

Jak 3:14  Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.
Jak 3:15  Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;
Jak 3:16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Kyk bietjie mooi waarteen waarsku Jakobus in hierdie deel: hy verwys na: “die selfsug in julle hart!” Die waarheid is: dat as jy nie bereid is om te vergewe en vry te spreek nie, dan is jy selfsugtig en verhef jy jouself bo Christus! Jakobus waarsku verder dat daar 'n geweldige wanorde sal wees in jou huis en ook menigte gemene dade! En wie van ons het dit nie al ervaar dat dit só gaan in ons huise nie, net omdat ons te hardkoppig is om “sorry” te sê?

Kol 3:13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

As ek aan getroude man of vrou sou vra of hulle werklike hulle gesinne liefhet, glo ek dat ek 'n baie defnitiewe en sekere “ja” antwoord sou kry. As ek egter sou vra of hulle mekaar elke keer onmiddelik (of ten minste voor die son sak) vryspreek en vergewe, dan glo ek sal die antwoord heelwaarskynlik anders klink in baie se gevalle. Dan is my volgende vraag: het ons dan werklik ons gesinne só lief soos ons beweer as ons dan bereid is om hulle vir die wolwe van Satan te gooi om te verslind?

Vergifnis is nie altyd maklik nie, maar dit bly steeds 'n keuse wat net jy kan maak. Die realiteit is, dat hoé vinniger jy kies om dit te doen, hoé vinniger kan jy die dolk uit Satan se hand vat!

Jak 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Hieride genesing wat Jakobus van praat, is nie net die fisiese genesing aan jou liggaam nie, maar geld ook vir figuurlike genesing in o.a. jou verhoudings, ens. Dit is dus altyd tot jou voordeel om só vinnig as moontlik die keuse te maak om te vergeef en vry te spreek!

Gebed:

Here Jesus, ek bely vandag dat ek sóveel kere nou al myself bo U verhef het deur nie te wil vergeef en vry te spreek soos U my volkome vergeef het nie. Vader ek het teen U gesondig deurdat hierdie dade baie keer ook teen my geliefdes was waarmee U my geseën het en dat ek die Satan 'n wettige reg gegee het om ons lewens en liggame aan te val. Vergeef my nou asseblief soos ek ook kies om my geliefdes nou te vergeef en gee my die kag om elke keer die keuse te maak om te vergeef en vry te spreek en help dat die son nie sal ondergaan oor my toorn nie...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met die toestemming van Tiaan Gildenhuys




Monday 14 August 2017

Die pot vol kokende suur


Image result for big pot cooking


“Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.”
Job 33:14 – 18

Ek het eenkeer gelees van iemand wat die volgende droom gehad het: “In ‘n droom het ek ‘n engel sien staan met ‘n groot pot in sy hande. Die pot was gevul met wat soos kokende suur gelyk het. ‘n Man het voor die engel kom staan en die engel het begin om die kokende suur op die man se hoof uit te gooi!

“Wat doen jy?! Het ek uitgeroep.

Die engel het voortgegaan terwyl hy na my kyk en met ‘n somber stem sê, “Hierdie is die vloeke waarmee hy ander vervloek het. Dit word nou op sy hoof uitgegiet!”

Die gesig was so skokkend en skrikwekkend dat ek wakker geword het en stil in my bed gelê het. Is hierdie man miskien ek?, het ek gewonder en dadelik almal waaraan ek kon dink, begin seën!

Volgende wonder ek of dit wat ek in die droom gesien het, waar kon wees. Dit was dan sô wreed en verdoemend. En tog was daar sô ‘n ontnugterende gevoel van Goddelike geregtigheid daarmee saam. Ek het dadelik opgestaan en die Skrifte begin ondersoek op soek na ‘n antwoord. My soektog was nie vrugteloos nie. “Ja, hy het die vloek liefgehad en—dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en—dit het ver van hom af gebly. Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en—dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.” Ps 109:17 & 18.”

Wat is die les wat Vader ons leer? Die persoon wat ander vloek en vervloek, sal self vervloek word! Jesus sê: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” Matt 7:1 & 2.

Soos dit of vloeke van toepassing is, is dit ook op seëninge van toepassing. Hy wat ander seën sal self ook geseënd wees. Met watter mate jy meet sal daar ook vir jou gemeet word. In ‘n ander teks sê Jesus “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;” Matt 5:44.

Kan dit wees dat die seën wat ons uitspreek teenoor die wat ons vervloek ten doel het om ons daarvan te weerhou om onsself te vervloek? Ek dink so. Hoe ontnugterend om te dink dat vloeke wat ek teenoor ander uitspreek eintlik teen myself gerig is! Kyk na die bevestiging in Spr 26:2 “Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is ‘n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie.” Waarheen vlieg die swaweltjie weg? Terug na sy eie nes toe!

Maar dan, hoe wonderlik om te glo en te weet dat deur ander te seën, ontvang ek sélf ook die seëning! Ten spyte van die vreeslike beelde van hierdie droom, is daar een ding seker, sedert ek hierdie les geleer en die waarskuwing ontvang het, is ek baie versigtig met my woorde!

Ék en mý huis, ons sal ander seën, dat ons ook seëninge kan beërwe.

“ABBA Vader, ek dank U vir hierdie les. Here ek bely dat ek mense vervloek het en negatief oor hulle gespreek het. Vergewe my asseblief. Here help my van vandag af om te seën en dankie dat ek weet, omdat ek seëninge uit liefde uitspreek, sal ek ook geseënd wees. Ek vra die in die Naam van Jesus Christus. Amen.”

 (cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




Monday 7 August 2017

Geen vuil woord!


Image result for cursing


“Laat daar GEEN vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efesiërs 4:29)

Mense en selfs menige Christene is so gou geneig om "klein" vloekwoordjies goed te praat, of die mening te huldig dat die betrokke woord "nie so erg is nie". En daardeur neem hulle glad nie kennis van hierdie baie duidelike teksvers in die Woord nie. Want myns insiens beteken die woord "geen" nog altyd niks anders as "geen" nie. Nou wat is 'n "vuil woord" dan? Is dit noodwendig net vloekwoorde, of wat kan ook as "vuil woorde" uitgewys word? Die Griekse woord daar is: "sapros" wat ook beteken: "rotten, worthless (literally or morally), bad, corrupt" volgens Strong's Greek Dictionary. Dit beteken enige vrot of waardelose of slegte of korrupte woorde tel dus ook daaronder.

As ons dus ophou om ons sondes goed te praat of te probeer regverdig, gaan ons besef dit verwys ook na vuil grappe, skinder en waardelose gesprekke. Want niks van daardie tipe goed stig die mense wat daarna luister of gee genade aan die wat dit hoor nie. Inteendeel, alhoewel die mense rondom so 'n persoon wat vloek en skel, of vuil grappe vertel of skinder oor andere of sommer net waardelose goed uiter, kamtig sal saamlag of sommer net selfbewus sal giggel oor iets wat die persoon gesê het, weet hulle gees wat deur God geskape is diep binne dat dit nie reg is nie en dat dit nie so hoort nie.

Hoekom nie? Want God se Woord is duidelik dat sulke tipe gesprekke niemand stig nie en nie genade gee aan die wat dit hoor nie. En tog skuil sulke persone baie kere agter hierdie "masker" van vloekwoorde of vuil woorde of vuil grappe met 'n non-chalante: "EK gee nie om wat ander van MY dink nie, dis maar wie ek is, 'what you see is what you get'". Maar intussen weet sy eie gees (wat deur God geskape is) ook dat dit eintlik nie reg is nie, juis omdat die Heilige Gees almal van ons oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, volgens Johannes 16:7,8: "Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster (Heilige Gees) nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel..."

As ons as kinders van die Here dus gehoorsaam wil lewe aan ons Vader se Woord, kom ons hou op om ons sondes te regverdig, en kom ons begin doen wat die Bybel sê, deur eerder woorde te uiter wat die mense rondom ons stig en wat genade gee aan die wat ons hoor. Kom ons bid almal elke dag eerder die woorde van Psalm 19:15: "Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!" Want jy sien, as ons woorde spreek en dinge in ons hart bedink wat vir God aanvaarbaar is, dan sal dit sonder enige twyfel ook dinge wees wat die mense rondom my stig en aan hulle die genade gee van God se Woord wat oor my lippe kom.

Wat moet my hart dan bedink? Die antwoord vind ons in Filippense 4:8: "Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit." En as ek daardie dinge bedink, wat gaan met my mond gebeur? Daardie antwoord vind ons in Lukas 6:45: "Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond."



Interessant, dit beteken dat dit wat uit daardie persoon se mond uitkom, 'n bewys is van dit wat in sy hart aangaan. As ek as kind van God dus die dinge van Filippense 4:8 bedink, sal presies dit oor my lippe stroom, en geen vuil, slegte of waardelose woorde nie. As ek my hart en my gedagtes daagliks vul met God en Sy Woord, is daar geen twyfel dat die woorde wat by my mond gaan uitkom woorde gaan wees wat die mense rondom my gaan stig en opbou nie. Liewe mens, wat kies JY om hierdie week met jou mond te doen?


Gebed:
“Vader vergewe my asseblief waar ek ENIGE vuil woorde oor my lippe laat gaan het. Leer my van nou af om in oorwinning daaroor te kom sodat die woorde van my mond en die oordenkinge van my hart vir U aanvaarbaar sal wees, elke dag van my lewe. Leer my ook deur U Heilige Gees dat my woorde net stigting sal gee aan diegene rondom my en dat dit genade sal gee aan diegene wat my hoor. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Wednesday 2 August 2017

Hoe lyk die ark wat JY moet bou..........???


Image result for noah's ark


Noag was ñ gewone mens, maar hy het geglo. Punt. Hy moes bou sonder dat daar sprake was van reën of vloede. Jy sien, Noag het nie die toekoms probeer sien nie, want hy het geweet dat God die toekoms sien.

Noag het dalk self getwyfel, maar die voordeel van die twyfel vir die Here gegee. Hy het ook nie eers net 'n "dingy" gebou, en gesê hy gaan eers die water toets nie.

Ons maak soms so: pak ons ark so bietjie op klein skaal aan, ons sit nie alles in nie. As Noag dit gedoen het, sou hy van waterloop by Petrus moes gaan leer het.

Noag het waarskynlik ook nie eers 'n paar e-posse en sms'e aangestuur nie - jy weet mos: "Stuur vir 10 mense, moenie hierdie ketting breek nie, want dan versuip ek".

As die Here 'n opdrag gee, en ons hoor Sy Stem duidelik, is dit tyd vir pik, planke en maste. Al is daar nie 'n wolkie so groot soos 'n man se hand nie. ñ Vriend het eendag vir my gesê: "As ek die Here se stem hoor, doen ek onmiddellik. Voor ek tyd kry om te dink".

Bou jou ark - begin vandag........!!!

Wat is jou ark? Jy weet mos, daardie opdrag wat telkens weer opduik. Dalk is jou ark groot, dalk is dit 'n klein dingetjie, maar die Here wil ark-grootte dinge daardeur bereik. Miskien lyk dit vir jou of jou ark net oor jou gaan, maar God weet hoe die storm gaan lyk.

Miskien moet jy in jou ark klim, en gaan vrede maak met jou familielid wat besig is om onder te gaan. Nie wanneer nie - vandag nog!

Jy weet nie wat gaan gebeur as die waters eers gekom het nie. Dit sal te laat wees as die vloed verby is. Trane van spyt by 'n graf is só onnodig. Dalk is jou ark 'n gesprek met iemand wat jou laaankal pla.

Jip, 'n geestelike gesprek. Dalk is jou ark iets wat geld kos. Weet wel dat Noag nie geskrik het vir die onmoontlike nie. Noag het roekeloos vertrou. En die uiteinde? Wel, was dit nie vir Noag se geloof nie, was die aarde weer soos daar in Genesis 1 - woes en leeg.

Bou jou ark. As jy vir God "ja" sê, gee Hy selfs die mates, elke stukkie detail, die planne en middele. Alles. God vra net 'n ark-bouer. Wat sê jy? Soek jy al jou hout?

Mag hierdie dag vir jou propvol seën, liefde en hoop wees in Jesus Naam

Skrywer: Johnny Johnson

Outoriteit in Christus


Image result for Jes 55:11



Hierdie is een van die areas wat ek glo, Vader redelik ernstig besig is om met Sy kinders te werk in die tye waarin ons lewe vandag. Nie almal verstaan wat die volheid is van die outoriteit wat ons het in dit wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis nie en baie van dié wie wel weet, benut dit nie tot volle potensiaal nie.

Om 'n behoorlike begrip te kry van hoé om in outoriteit te wandel, moet ons gaan kyk na hoe Jesus dit gedoen het, aangesien Hy volkome mens was net soos ons en ook aan dieselfde versoekings blootgestel was, as ons.

Heb 4:15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

In Matt 4 en Lukas 4 lees ons dan ook van Jesus se versoekinge deur die duiwel en sien ons dat Jesus elke keer die duiwel weerstaan het met God se woord. Hoéveel te meer moet ek en jy dit dan nie doen nie, want God se woord sal nooit verander nie en die Bybel is duidelik dat God geen aannemer van die persoon is nie! God se woord is lewendig en kragtig, maar as dit net in my en jou gedagtes is of op die blaaie van ons Bybel, dan beteken dit absoluut niks nie en dan is dit kragteloos vir ons.

Heb 4:12  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Iewers in ons stryd teen die bose aanslag, moet ons die woord van God in ons mond kry (en as dit in die begin is, soveel te beter) en dit begin spreek en dan ook vasstaan daarop, totdat die deurbraak vir ons kom. Want van die begin van die skepping af, het alles tot stand gekom deur 'n woord wat gespreek was en God het dan ook vir ons daardie mag in ons tong gegee!

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Ons lees ook in die Bybel dat ons gewaarsku word dat die duiwel listig is en altyd op die uitkyk waar hy kan steel, slag en verwoes en die lewe vir ons só onsmaaklik moontlik wil maak. Ons word dan ook duidelik vermaan om waaksaam te wees.

1Pe 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

In Lukas 10 lees ons waar Jesus 70 dissipels aanstel en hulle uitstuur met die spesifieke opdrag om duiwels uit te dryf en siekes gesond te maak. Met hul terugkeer, was hulle só verheug oor al die dinge wat met hul gebeur het op hulle sending en doen hulle dan ook verslag met groot opgewondenheid. Dan maak Jesus die volgende stelling:

Luk 10:19  Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
Met ander woorde, elke wedergebore, Geesvervulde kind van God het reeds hierdie mag ontvang en dit is nie iets wat jy eendag in die toekoms sal ontvang nie. Jesus het reeds die vyand aan die kruis oorwin en ons het nie nodig om dit te doen nie. Ons moet net weet en besef wat Jesus gedoen het en dit wat God in ons hand geplaas het, gebruik in die stryd teen die bose magte om ons.

Kol 2:13  En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,
Kol 2:14  en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
Kol 2:15  nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

Al wat ons dan as kinders van God dus hoef te doen, is om ons wandel voor Christus skoon te hou en ons aan God te onderwerp deur weg te draai van die sonde af en 'n heilige lewe te lewe. Ons moet ook die duiwel weerstaan wanneer hy met sy aanvalle kom deur die woord van God te gebruik in plek van sy leuens. En dan natuurlik 'n wag voor ons monde te plaas, sodat ons nie negatief of dood spreek oor ons omstandighede nie.

Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

1Joh 5:18  Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.

Wat ons ook moet onthou, is dat ons hierdie stryd net geestelik kan benader, omdat dit nie 'n vleeslike stryd is nie en Jak 4:7 is baie duidelik dat “jy” die vyand moet teenstaan! As jy dit in die vlees gaan benader, het jy reeds die stryd verloor en moet ons absoluut die Gees vertrou om ons hierin by te staan.

2Kor 10:3  Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
2Kor 10:4  want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
2Kor 10:5  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

Sag 4:6  Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

Een van die grootste beloftes wat ons het, is dat God getrou is en dat Hy absoluut getrou is aan Sy woord! Hy is ook geen aannemer van die persoon nie en daarom kan ek, op grond van wat Jesus gedoen het, met vrymoedigheid tot Hom nader.

Jes 55:11  so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

Gebed:  Here Jesus, baie dankie dat U reeds meer as 2000 jr gelede die vyand oorwin het deur U bloed aan die kruis en dat U terselfdertyd die skuldbriewe teen ons aan die kruis vasgenael het. Dankie dat daar nou vergifnis is vir ons talle oortredinge, omdat U bloed die perfekte offer was daarvoor. Vergeef ons ook nou dat ons die vyand sóveel plek gee in ons lewens, terwyl ons losgekoop is om aan U te behoort. Help ons en leer ons om te staan in die outoriteit wat ons reeds het in U naam en U woord...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...