Thursday 25 September 2014

Moet ons die Evangelie tydig en ontydig verkondig?




2 Tim. 4:1-5: "…verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig…" (vs. 2)

In die laat tagtigerjare het 'n kreupel vrou, Irma Jansen, in 'n hospitaalsaal in Kaapstad gelê. Vir die soveelste keer was sy in die hospitaal. Sy dink nie oor haar eie probleme nie. 'n Belangriker saak verg haar aandag. 'n Siek vrou is so pas ingebring en aan die anderkant van die saal op 'n bed neergelê. Sy is duidelik baie siek.

Irma is dadelik oor haar besorg. Is sy gereed om te sterf? Self is sy te siek om na die vrou toe te gaan. Sy lê nog en prakseer hoe sy die vrou kan bereik, toe versleg die vrou se toestand en sy word haastig na 'n privaatkamer gestoot, waar net die familie by haar toegelaat word. Sy is besig om te sterf.

Opnuut aangedaan deur die onverbiddelikheid van die dood wat nie van uitstel weet nie, bid Irma in haar bed vir die vrou wat nou buite haar fisiese bereik lê.

'n Verpleegster kom haastig na Irma se bed toe. Omdat sy so dikwels in die hospitaal beland, ken die verpleegpersoneel haar al goed. Hulle weet sy is 'n Christen. "Kan ons tog jou Bybel leen," vra die verpleegster. "Die familie wil graag aan hulle sterwende moeder uit die Bybel voorlees." Die verpleegster gee 'n skewe glimlaggie. "Ek weet jy het al die belangrike verse onderstreep."

Ure later bring die verpleegster die Bybel terug. Die vrou het heengegaan.

'n Paar dae later bring die vrou se seun vir Irma 'n ruiker. Hy kom dankie sê vir die gebruik van haar Bybel. Hy is seker dit het sy ma getroos om na die Here se Woord te kon luister. Maar eintlik wil hy oor iets anders praat. Met hóm het iets gebeur. Hy het nooit veel vir godsdiens omgegee nie, maar toe hy daar voor die werklikheid en finaliteit van die dood vir sy ma die onderstreepte tekste voorlees, het hy die verlossing van Christus begryp. Geloof het in sy hart wakker geword en hy het vir haar kom vertel hy is nou Wedergebore.
 "Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie" (Pred.11:6) "'n Saaier het uitgegaan om saad te saai …die saad is die Woord van God …(die) wat in goeie grond val dui op dié (hoorders) wat die Woord met 'n opregte hart hoor en …vrug dra" (Mat.8:5,11, 15).

GEBED: Here, vandag, more, oormore, altyd,  wil ek getrou wees en  U Woord aan iemand oordra.-Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...