Tuesday 30 September 2014

Hoe hou ons die Heilige Gees aan die werk in ons lewens?





Hou die vuur brandend... Geskryf deur Past Johann De Villiers

2 Tim. 1:3-11: "...(onthou) dat jy die genadegawe wat God jou gegee het...soos 'n vuur weer moet aanblaas" (vs. 6).

Genl. William Booth, stigter en leier van die Heilsleër (beter bekend as die Salvation Army), het vir sy offisiere en manskappe gesê: "Jongmanne, pas die vuur in julle harte op, want dit is geneig om dood te gaan." Toe maak hy 'n paar vergelykings, dat hulle met die geestelike vuur in hulle harte net so moet werk as wat 'n mens 'n vuur op die vuurherd brandend sal hou.

Eerstens moet vuur genoeg lug kry, die vensters moet oop wees, sodat daar 'n trek kan wees. Windstilte laat vuur smoor en doodgaan. "'n Hemelse lug, die werking van die Heilige Gees, moet gedurig deur die venster van gebed invloei." Jesus het die werk van die Heilige Gees vergelyk met die wind wat waai: "Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaankom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met...die Gees..." (Joh.3:8).

In Handelinge word die werk van die Heilige Gees met wind en vuur vergelyk: "Skielik was daar 'n geluid uit die Hemel soos van 'n geweldige stormwind... Hulle het iets soos vuur gesien wat... op elkeen van hulle gekom het." (Hand.2:2,3). Ons weet wind wakker vuur aan, maar die wind kan net deur oop vensters in die huis inkom. Gebed is die vensters vir die inkom van die werk van die Gees in ons harte.

Tweedens moet die ou as gereeld verwyder word, anders smoor die vuur. "Deur selfondersoek en belydenis van sondeskuld moet die vuurherd van die hart skoon gehou word anders sal die vuur doodsmoor." "... as ons, ons sondes bely – Hy is getrou...Hy vergewe ons, ons sondes en (boonop) reinig Hy ons van alle ongeregtigheid" (1 Joh.1:9).

Derdens moet daar gereeld nuwe brandhout op 'n vuur gesit word. "Deur die Woord van God te lees en te oordink word die geestelike vuur in ons harte gevoed en brandend gehou."

GEBED: Here, vandag sorg ek vir U vuur in my lewe...

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...