Thursday 23 July 2020

Waarna soek jy?



Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Hierdié is sekerlik een van die mees gekwoteerde skrifgedeeltes uit die Bybel en die klem word meestal op twee dele daarvan geplaas...”soek die koninkryk” en “alle dinge sal bygevoeg word”. Die woordjie “koninkryk” het dan ook vir baie mense 'n verskillende betekenis in lyn met hul afsonderlike openbaring daaroor.

Een ding wat dit verseker nie beteken nie, is dat dit verwys na die hemel, aangesien die Griekse woord wat hier gebruik word, die woord: “basilea” is, wat in eenvoudige taal beteken om te heers soos 'n koning in sy koninkryk. In kort beteken dit vir my dat mens jou identiteit in Christus moet vind, want dan sal jy dinge uit 'n posisie van heerskappy benader!

Dié deel wat egter meestal nie na verwys word nie, is om ook God se geregtigheid te soek en dit verwys daarna dat ons Sy manier van dinge doen, moet navolg...want dit is die tweede vereiste vir alles wat dan sal volg.

Joh 8:32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Wanneer iets vir jou oopbreek en dit 'n openbaring word, dan word dit vir jou waarheid en het dit die potensiaal om jou vry te maak van wat dit ookal is wat jou gebind het. Daarom wanneer jy die waarheid van jou identiteit en outoriteit in Christus besef, dan is daar reeds 'n paar leuengeeste wat die pad vat.

Omdat ons in Christus is en Hy in ons en Hy ook nou aan die regterhand van Abba sit, beteken dit dat ek ook alreeds in hemelse plekke sit en dat my posisie van outoriteit is soos wat dit in die hemel is. Daarom leer Jesus ons ook om te bid dat die koninkryk hiér op aarde moet kom net soos wat dit in die hemel is. Ons is daardié gesante van God wat hiérdie outoriteit op aarde moet laat manifesteer deur die Heilige Gees wat in en deur ons werk!

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
2Kor 5:18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,
2Kor 5:19  naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
2Kor 5:20  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.

As ons Mattheus 6 vanaf vers 25 lees, dan sien ons dat om besorgd te wees oor die wêreldse dinge, dat dit die dinge is waarna heidene soek en oor besorgd is. Ons hemelse Pappa weet egter wat ons nodig het en wannéér...en Hy belowe dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie...veral ook in hiérdie onseker tye van Covid-19 waarin ons leef en al die finansiële implikasies wat dit tot gevolg het.

Dié vraag bly dus:...”Waarná is jy op soek in hiérdie laaste dae waarin ons leef?


GEBED:

Hemelse Vader, help ons deur U Heilige Gees om die dinge te soek wat daar bó by U is en om ons identiteit en outoriteit in Christus te besef en te vind, sodat ons in volle heerskappy kan leef en waardige gesante vir U kan wees vir die werk wat U deur ons wil doen om ook U koninkryk hiér op aarde te laat kom...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...