Thursday 23 July 2020

Tweespalt in die Liggaam

Galasiërs 4:28-29:  "Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook."

Wanneer ek so om my heen kyk na die hedendaagse kerkgangers, maak dit my baie hartseer om die groot kloof tussen gelowiges te sien. Omdat ek in ‘n  ateïstiese ouerhuis groot geword het, het ek self belewe dat die Christelike waardes baie aantreklike waardes is en dit het my in staat gestel om te verstaan wat aan die gang is. Maar nie alleen dit nie, dit het my ook help verstaan waaroor die eienaardige tweespalt wat daar tussen ons bestaan eintlik gaan.

Aan die een kant is daar die wat met hart en siel glo dat die Bybel presies bedoel wat dit sê, en daarom glo ons in die bekering van gees, siel en ligaam, d.w.s. ons glo steeds in die genesing van alle siektes, die uitdryf van demone en die verwydering van vloeke in en deur die naam van Jesus Christus en ons Hemelse Vader. Maar daar is ook ’n ander groep wat ’n soort "intellektuele geloof" beoefen waarin hulle getrou is aan ingewikelde teologieë waardeur hulle na ’n heilige uiterlike voorkoms streef, maar hulle verwerp die geestelike pad van heiligmaking, of die gawes van die Heilige Gees, of die bediening van genesing, of bly so ver weg daarvan as moontlik.

Hulle aanvaar enige boek met die titel “Bybel” as die Woord van God en sal selfs soek tot hulle ’n vertaling vind wat by hulle teologie pas om hul punt te staaf. Dit is dan ook vir my ’n hartseer saak om te sien hoe die twee groepe met mekaar vassit en hewig argumenteer totdat hulle selfs begin twyfel aan die ander se bekering. Alhoewel dit op die oog af lyk of die twee groepe vanuit dieselfde oortuigings hulle leefwyses bepaal, is dit egter net in die fisiese die geval.

Net so was Abraham die pa van Ismael en Isak en dus was hulle in die fisiese broers, maar Isak was ’n kind van die belofte en Ismael was ’n kind van die vlees en so is dit ook met die kerkgangers van ons tyd. Party is mense uit die vlees gebore en hulle het ’n intellektuele verhouding met die Evangelie van Jesus Christus en laat hul intellek toe om hul gedrag te beheer op ’n wyse wat so na as moontlik lyk aan dit wat in hul gekose Bybel vertaling aangedui word en pas by hulle sosiale, ekonomiese en politieke oortuiging.

Hierdie is dan ook die oorsaak van hulle twyfel in die gawes van die Heilige Gees, wat insluit die genesings bediening wat geestelik van aard is, en om tekens en wonders en kragtige dade te laat geskied vir die eer van Jesus Christus. Hierteenoor is daar die Isak groep, die kinders van die belofte, bekeer en deur die waterdoop en belyding van die geloof dat Jesus Christus ons Saligmaker en Verlosser is en daarom die geskenk van die Heilige gees onvang het.

Johannes 3:3:  "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie."

In die praktyk glo beide die bogenoemde groepe heelhartig dat hulle “hemel toe sal gaan” en dit is hier waar die bron van oortuiging belangrik word. Die Ismael groep se vertroue berus op hulle teologieë, doktrines, tradisies en hulle laat hul intellek toe om die oortuiging te bring (ek noem dit sommer “slim praatjies”), en hulle verhoog daardie intellektuele dinge tot die status van die Bybel. Daardie aksie word streng verbied (Openbaring 22:18  Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is) en dit wys ons dan ook dat dit korrek is om hulle as Ismael se volgelinge te beskryf, want hulle wil die dinge van die Gees vanuit die vlees doen, en vervolg die kinders van die belofte wat die dinge van die Gees navolg.

Wat egter van groter belang is, is hoe ons onself as kinders van die belofte kan beskryf en wat dan ook vir ons dit duidelik maak dat ons nie aleen “hemel toe” sal gaan nie maar dat ons inderdaad met die wegraping al by Jesus sal wees. Die rede hiervoor is dat ten tye van die waterdoop en ons geloofsbelydenis begin die Here met die vernuwing van ons gees EN gee hy ons die beloofde geskenk van die Heilige Gees en so word ons dan weergebore.

Dit is juis hierdie gebeurtenis wat die volle verduideliking is van die fundamentele verskil tussen die twee groepe en waarom ons sonder moeite kan glo in wonderwerke, genesing van siektes, die uitdryf van demone en die breek van vloeke in ons lewens.

Dit alles verduidelik nog steeds nie waarom die twee groepe dan so met mekaar haaks is nie. Die rede waarom die “Ismael groep” daarin behae vind om die wedergeborenes af te takel is uiteindelik maar dieselfde rede waarom Ismael sy jonger broer so bespot het. Die oorsprong daarvan lê o.a. in die vloeke wat hulle op hulself bring deur die byvoegings tot die Bybel, en die vloeke gee satan plek om in hulle die gees van jaloesie en die gees van godsdiens te vestig, wat dan die bespotting en vervolginge veroorsaak.

Let egter versigtig op waar ons as wedergeborenes in die stryd staan, en die gevaar waaran ons blootgestel word. Die satan hou nie van ons nie en gaan sy uiterste bes doen om ons teen Jesus te draai. Hy doen dit deur gedagtes in ons te plaas dat ons eintlik baie beter is as die Ismael groep en tensy ons elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Korinthiërs 10:5) kan satan veroorsaak dat ons ook ons saligheid kan verloor.

Is daar dan geen oplossing vir die tweepalt nie?

Galasiërs 4:30:  "Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie."

Daar is wel ’n oplosing en dit begin by Paulus se woorde in Galasiërs 4:30. Die kinders van die vlees wat ons kan uitken deur wat hierbo beskryf is, soos hul ongeloof in die gawes van die Gees en die bediening van genesing, is nie erfgename en broers en susters van Jesus of van ons nie maar is in werklikheid in ’n swakker plek as die ongelowiges.

Hulle is ook geen werklike bedreiging vir ons nie, net soos Ismael nie werklik ’n bedreiging vir Isak was nie. MAAR, maar hulle het ons broodnodig en dit is ons plig om uit te hou deur die liefde wat aan ons gegee is en ons plig in die uitvoer van ons Groot Kommissie, om hulle ook ware dissipels van Jesus te maak.

Broeders en susters in Jesus, ons kan die dringendheid aanvoel om hulle te lei tot bekering omdat ons terdeë besef dat die wegraping naby is en dit is goed so. Ons moet egter ook onthou dat ons net die instrument van die Heilige Gees aan die ongelowiges is maar dat dit hulle gees is wat die Heilige Gees se oortuiging moet aanvaar of verwerp. Ons opdrag is om hulle die liefde van Jesus in ons te laat sien, terwyl ons onthou dat hulle gespot en beledigings ons niks kan aandoen nie en dat hulle in werklikheid betreurenswaardig is sonder Jesus Christus.

Johannes 13:35: "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."

GEBED:

"Hemelse Vader U is die enigste Almagtige, ewige en alomteenwoordige God en ek loof U magtige Naam. Vader ek vra om vergifnis vir al my frustrasies, argumente en trots teenoor die kinders van die vlees. Ek smeek U Vader, reinig my deeglik van al my sonde en ek smeek U vir ’n nuwe invulling van die Heilige Gees en vir gehoorsaamheid aan die opdragte van U Heilige Gees om alle verlore siele te lei na U troon van genade en verlossing. In alle nederiheid vra ek hierdie in die Naam van Jesus Christus my Here en Redder. Amen."

Geskryf deur: sybrand van kwawegen
(sybrand191@gmail.com)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...