Saturday 11 July 2020

Berei die weg

'Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel moet wegsak; en die krom draaie, sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke, gelyke weë. En alle vlees sal die heil van God sien.'
[Lukas 3:5-6]

Naas die tien maagde-gelykenis, raak hierdie gedeelte van die evangelie-dokter, my nog die meeste. Hy skryf oor Johannes die doper, wat bedien en die saligheids weg 'marineer' vir die koms van die Messias. Hy was Jesus se VOORLOPER. Dit was sy grootste mandaat. Ongelukkig moes sy kop rôl daarvoor, maar sy verbasende toewyding, was een vir die boeke.

Johannes was 'n voorloper vir die eerste koms van die Messias. Vandag is EK en JY, Johannes-voorlopers vir Sy tweede koms. Ons moet ook daagliks profeteer: 'Berei die weg van die Here voor en maak Sy paaie gelyk. Hy is oppad!'

Wanneer 'n koning in die bybelse tyd, 'n sekere landstreek of 'n stad besoek het, dan het hy 'n voorloper met sy span voor hom uitgestuur, om die paaie, wat lei na die beplande bestemming toe, te gaan skoonmaak en te beveilig vir die koning se veilige aankoms. Die weg moes voorberei word. Niks moes in die pad gekom het, wat die koning se besoek sou belemmer nie.

Johannes gebruik hiér in Lukas, dieselfde parallel, sodat die mense hulle harte moet voorberei en oopmaak vir die lang-verwagte Verlosser en Sy boodskap. Die Messias-Koning is oppad vir Sy besoek en bediening op aarde en die doper spreek vier teikengroepe aan in vers 5. Hy bevestig eers die Ou Testamentiese skadubeeld van Jesaja 40:3-4, om sy aflewering net 'n bietjie meer 'wettig' te maak vir sy bystaande fariseër-gehoor. [Die addergeslag mos.]

Dieselfde opdrag van Johannes is egter nog steeds toepaslik vir elke siel vandag nog.

1. Lukas 3:5.. 'Elke dal moet opgevul word..'

Hier praat Johannes met dié, wat as gevolg van hul sonde-las, nie WAARDIG genoeg voel, om deur 'n Koning of Sy boodskap ontvang te word nie. Onwaardigheid of minderwaardigheid is egter nog steeds 'n vorm van hoogmoed en sonde, aangesien jy nog steeds 'n intense fokus op jouself het en nie die kosbare waarde omhels, waarmee Christus jou ten duurste, aan die kruis gekoop het nie. Dit was 'n duur transaksie, geliefdes.

Gun my ook om te sé, dat daar nie 'introverte' bestaan in die koninkryk van God nie. Daardie dal van 'not-worthy-enough', moet opgevul en gelyk gemaak word met 'n oorwinnings-en waarde identiteit in Christus, sodat jy die Messias kan ontmoet, wanneer Hy weer kom. Lig jou hoopvolle verwagting in Hom, BO jou aardse hindernisse van onwaardigheid.

2. Lukas 3:5.. 'en elke berg en heuwel moet wegsak..'

Hiér spreek Johannes die wetgeleerdes en fariseërs van sy dag aan, wat nou weer op hulle beurt, openlik MEERDERWAARDIG gevoel het bo hulle naaste met die gereëlde op-die-neus-afkyk, Skrif geleerdheid en subtiele beheer.

'Geestelike hoogmoed' is die groot boosheid, wat sommer vinnig 'n Vrystaat heuweltjie of 'n Kaapstad berg kan word in jou hart. Altwee is ewe gevaarlik. Met hierdie hindernis in jou hart, gaan jy nooit die ware Messias kan raaksien of ontmoet, wanneer Hy hier is nie. MAAK DAARDIE HOOGMOED GELYK, is die opdrag. Opregte bekering met belydenis van meerderwaardigheid en hoogmoed, is natuurlik 'n goeie begin vir jou tot oorwinning; en dra dan die vrug, wat by jou bekering pas. [Lukas 3:8]

Dit sluit ook eie-geregtigheid in, geliefde. Kom ek spel hom vir jou uit: Eie-geregtigheid is wanneer jy heeltemal op jou eie insigte, vermoëns, kragte en hulpbronne staat maak en nie Christus jou ENIGSTE toevlug en vertroue maak nie. Hy sny bitter fyn. Ondersoek maar gerus jou hart.


3. Lukas 3:5.. 'en die krom draaie, sal 'n reguit pad word..'

Johannes sonder ook nie die tollenaars van sy dag uit nie. Hy spreek hulle sterk aan en maak dit duidelik, dat hierdie wit kraag skelms, hulle 'krom draaie' van korrupsie, diefstal en oneerlikheid moet laat staan en hulle paaie gelyk maak, as hulle wil hê, die Messias moet hulle ontvang. Volg gerus ons eie Matthéüs se radikale voorbeeld. Hy was mos ook 'n tollenaar. Dit is baie kommerwekkend vir my, hoe sekere kinders van God nog steeds skelm kan bly en nie wegdraai van hulle wêreldse weë nie!

Ek ken Christen miljoenêrs, wat geen geheim daarvan maak, dat hy éérs 'n besigheidsman is en dan 'n Christen. Ek sien dit elke dag in my besigheid. Hy praat 'Christianese' baie vlot, tot ons by die besigheid kom. Jy het nog nie eers die transaksie mooi deurgetrap nie, dan het hy al klaar die fynskrif verander, toe jy jou rug draai.

Of meer; dit is net hoegenaamd nie binne hulle vermoë, om 'n belofte te kan hou nie. 'Kom ons hou Christus uit hierdie transaksie uit, broer, want kyk, ons is mos nog IN hierdie wêreld en dit is eintlik die bedryf, wat die status quo bepaal - nie die Bybel nie.' Ek is nogal nuuskierig, oor wát presies jou verweer gaan wees, wanneer jy eendag voor die troon van God moet staan?

4. Lukas 3:5.. 'en die skurwe plekke, gelyke weë.'

Hiér het hy met die Romeinse soldate gepraat, wat gereëld die publiek met rowwe humeure en geweld gehanteer het, met die doelgerigte poging, om gesag af te dwing. En, hulle was nogal suksesvol daarin. Hy sê vir hulle, dat hulle 'skurf' geword het in hul benadering tot die samelewing. Dit is hoegenaamd nie naaste-liefde nie. Jy kan 'n soldaat én 'n Christen wees, sonder om terug te graviteer na die barbaarse-en rowwe taktieke van Rome.

Só is daar vandag nog mans en vrouens, wat dieselfde doen met hul geliefdes en naaste. Narsiste en bullies, noem ons hulle. Die opdrag is baie duidelik, om daardie skurwe humeur te laat vaar; dit gelyk en glad te maak, soos skuurpapier oor 'n growwe stuk hout. Bely daardie woede, as sonde voor God en dra dan die vrug van jou bekering. [Lukas 3:8] En stop dit dan. Dit vernietig mense, broer! En suster. En indien jy nie vinnig daarmee gaan deel nie, gaan jy ook nie die Messias-Koning kan ontmoet nie. As jy nie regkom met oorwinning nie, soek bevryding, asb. Kontak ons gerus.

Lukas 3:6.. 'En alle vlees sal die heil van God sien.'

Johannes bring alles saam in 'n wonderlike belofte. Wanneer jy alle hindernisse hierbo genoem, aangespreek het in jou lewe en die pad gelyk maak vir jou Koning, gaan jy ook binnekort die 'heil van God' sien - jou Bruidegom, Jesus Christus! Maranata!

GEBED:

Vader, openbaar aan my, as daar nog enige hindernisse in my hart is, wat keer dat ek die volheid van wie U is, kan insien, asseblief. En gee my die bevryding, om dit te laat vaar. In die Naam van Christus Jesus van Nasaret. Amen.


 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...