Saturday 11 July 2020

Verantwoordelikheid teenoor skuld

Fakture tyd

Hier is ons in die "lock-down" by nog ‘n maand einde. Dinge was moeilik en ons kon nie almal werk nie. So pluk menige hulle faktuurboeke uit en begin dink wie skuld hulle nog iets, vir wie het hulle iets gedoen of verkoop wat nog nie betaal het nie? Dit is nou ‘n goeie tyd om daardie agterstallige skuld te betaal sodat jy ook jou verpligtinge kan nakom. Dis mos hoe dit werk? Een hand was die ander.

Andere probeer nou ook om alle oortollige goed te verkoop wat darem iets werd is sodat hulle ook ‘n faktuur kan uitskryf. Sien my werk kan my nie betaal nie of my besigheid staan stil, maar iemand moet my net iets skuld sodat ek my begroting kan uitwerk.

Sommige wil selfs tot vir God ‘n faktuur of twee skryf want Sy Woord leer ons mos ‘n paar dinge soos:

Mal 3:10  Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Inskrywing 1 – ek gee gereeld my tiende so U skuld my.......

Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Inskrywing 2 – ek het in goeie tye goed gesaai so U skuld my ‘n goeie oes...

En so kan ons aangaan met ek het dit gedoen so ek verdien dat. Ons moet vandag een ding besef en dit is dat God ons niks skuld nie. Elke faktuur wat jy vir Hom wil uitskryf is reeds betaal. Dit is volbring.

Hy sou vandag ‘n hele boek fakture vir my kon skryf want ek skuld Hom my lewe. Jesus het duur betaal vir my. Hy het Sy lewe gegee vir my. Tog is daar geen hemelse faktuurboek nie, maar ‘n Bybel vol beloftes van wat alles myne kan wees.

Ek gaan net een psalm neem en uitwys hoeveel Hy vir ons kan en wil doen. Dit vra net een ding. Erken Hom as jou Herder.

Psa 23:1 ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
·         Die Herder lei sy skape na plekke waar hulle kan eet en drink en rus en veilig is.
Psa 23:2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
·         As jy nie by groen weivelde en waters waar rus is, is nie, is jy nie waar Hy jou gelei het nie.
Psa 23:3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
·         Jou siel sal vars gedagtes van vrede kry sodat ook jy ‘n hoopvolle toekoms sal hê.
·         Hy leer ons Sy manier van dinge doen in elke situasie en as ons dit so doen soos Hy leer sal dinge werk want Sy Naam is daarby geteken.
Psa 23:4 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
·         Al gaan dinge soms moelik en lyk alles om ons donker en gevaarlik, as ons agter Hom bly en net volg waar Hy lei en Hom vertrou sal Hy die gevaar hanteer, Hy sal ons beskerm en vertroos.
Psa 23:5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
·         Hy gaan ons nie wegneem van die wat teen ons is nie, Hy gaan ons toerus met soveel dat Sy salwing ander ook sal bereik.
Psa 23:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
·         As ek oor my skouers kyk sal ek net goedheid en guns agter my sien aankom as ek agter Hom is waar Hy lei. As ek in Sy Huis bly is dit soos ‘n Pa wat vir Sy kinders sorg en hulle beskerm. Hy neem die verantwoordelikheid.

Ons probleem is dat ons nie wil wag om te sien waar Hy ons lei nie. Ons wil verby die Herder hardloop en google, ander media en mense vertrou om te sien watter pad en plek en manier die veiligste lyk en ons eie pad soontoe uitwerk met ons faktuurboeke.

Dan vat jy ook jou eie verantwoordelikheid en moet maar op ‘n stadium wakker skrik en sien jy het die groen weivelde en waters waar rus is gemis omdat jy jou eie voetpad gekies het. Jy het nie agter die Herder aangeloop nie want jy het gesien Hy gaan deur moelike plekke loop.

Ons moet besef ons is in hierdie wereld en dus gaan sy probleme gebeur. Ons kan nie verby alles wil gaan nie. Ons moet net agter ons Herder bly dan sal ons veilig daardeur gaan. Soms sal daar dood en trane en gevare wees maar ons sal veilig anderkant uitkom.

Maak toe jou faktuurboek en gee oor. Volg jou goeie Herder.

Exo 14:14 Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

Gebed:

"Here Jesus, vergewe my dat ek U verantwoordelik gehou het vir enigiets en gedink het U skuld my iets terwyl ek nie eers is waar U my lei nie. Ek kies van vandag af om rustig agter U aan te loop tree vir tree en U te vertrou vir alles en met alles. Dankie vir U Vrede wat alle verstand te bowe gaan.
In Jesus Naam.
Amen."
 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...