Tuesday 29 September 2020

Gooi aan die ander kant


In albei gevalle waar Jesus vir die dissipels gesê het om weer die nette te laat sak, was dit nadat hulle die hele nag op die water spandeer het en niks gevang het nie. Hulle was dus reeds besig met die dinge wat hulle moes doen en gewoond was om te doen en tog het dit geen resultate opgelewer nie.

Tog die oomblik toe Jesus in die prentjie kom, toe is die voorsiening oorvloedig. 

Luk 5:4  En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.

Luk 5:5  En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.

Luk 5:6  En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.

In bogenoemde deel, sien ons dat nadat Petrus geluister het na die preek wat Jesus uit die boot gedoen het, hy tog besluit het dat hy op Jesus se woord sou reageer omdat hy gehoor het dat Jesus met gesag gespreek het.

Jesus se woord is vandag nogsteeds net só kragtig asof Hy dit in hiérdie oomblikke tot ons spreek...die vraag is: “na wié se woorde luister ons in tye van beproewing?” Selfs nou terwyl die “lockdown”-periode verleng is en dit nog 'n veel groter impak op mense se finansies tot gevolg het en ook nog meer vrees by mense aanwakker, na wié se stem gaan jy as kind van God kies om te luister? 

Ons lees dan ook heel aan die begin nadat sonde in hiérdie aarde gekom het en die mens skielik besef het dat hy naak is, dat God ook aan die mens die vraag stel: “wié het jou dit te kenne gegee?” 

Gen 3:10  En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.

Gen 3:11  En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?

Dit is só maklik om God se woord aan te haal in tye wat dit goed gaan of wanneer ons omstandighede gemaklik is en dinge normaal voortgaan...woorde soos: “Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie, God is gister, vandag en tot alle ewigheid dieselfde en niks is by God onmoontlik nie”...maar is dit waaraan jy vashou as jou hele lewe binne een dag omgekeer word?

In die tweede geval waar Jesus die dissipels weer vra of hulle iets gevang het, sien ons dat Hy hulle beveel om op presies dieselfde plek weer die nette in te gooi. Baie dikwels wil ons só graag uit ons omstandighede kom of wil ons hê dat die Here dit verander, maar dan lê ons antwoord eintlik reeds binne ons huidige omgewing of situasie.

Dié antwoord of oplossing lê egter in die antwoord wat Jesus gee: “gooi aan die anderkant”...somtyds verg dit net bloot 'n doelbewuste keuse om anders na 'n situasie te kyk of selfs ons ingesteldheid daaromtrent te verander, wat dan die deurbraak bring.

Joh 21:6  En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. 

Ken van die groot sleutels tot deurbraak in mense se lewens is dankbaarheid en om vergenoegd te wees met jou omstandighede! 

Fil 4:11  Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.

Fil 4:12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

1Tim 6:6  Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.

1Tim 6:7  Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.

1Tim 6:8  Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.

 Daar is baie dinge in ons lewens, soos die “lockdown”, wat ons niks aan kan doen om te verander nie, maar die wyse waarop ons daarna kyk of dit hanteer, gaan bepaal of dit ons paniekbevange laat en of ons meer as oorwinnaars daardeur sal kom!

 GEBED:

Onse Vader wat in die hemel is, laat U naam geheilig word en laat U koninkryk kom...in die hemel en netso ook op die aarde, gee ons vandag ons dag se brood en laat ons nie in die versoeking kom nie. Pappa, help ons dat ons na U stem sal luister en nie na die geraas van die wêreld nie, juis omdat ons weet dat U woord waarheid is en dat U ons nooit in die steek sal laat nie...amen!

 Geskryf deur: ernest phillipson

(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...