Monday 16 March 2020

Bewaar Sy Woord


Psalm 119:17-24: "Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is ‘n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.  U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my—u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne."

Ons sien hierdie week in Dawid se woorde die versoek dat die Here aan ons goed sal doen sodat ons kan lewe, wat dan daartoe lei dat ons Sy Woord wil bewaar. Natuurlik is dieselfde versoek ook in elkeen van ons as God se kinders se harte. Maar ongelukkig is daar nie vreeslik baie mense wat meer God se Woord wil bewaar nie, want hulle wil Hom dien slegs op hulle eie voorwaardes.

Die punt is egter dat slegs die Here ons oë kan open om die wonders uit Sy wet raak te sien. Daarom moet ons daagliks die Here vra om Sy gebooie aan ons te openbaar deur Sy Heilige Gees, sodat dit nie vir ons verborge sal bly nie.

En elke kind van die Here wat in 'n intieme persoonlike verhouding met Jesus Christus is weet ook wat dit beteken dat ons siele "vergaan van verlange" na ons God se verordeninge want ons liefde vir Hom veroorsaak dat ons graag gehoorsaam wil lewe daaraan.


Ons sien ook 'n waarskuwing wat ons leer dat die Here die vermeteles wat van Sy Woord afdwaal, dreig as gevloektes. Hierdie is 'n baie ernstige waarskuwing vir enigiemand wat van Sy Woord afdwaal, en daarom is dit beter om in 'n intieme verhouding met Hom te bly en Sy Woord in ons daaglikse lewens te bewaar.

As ons Sy Woord en Sy gebooie bewaar kan ons Hom ook vra om smaad en veragting van ons af te wentel, m.a.w. enige skandes en disrespek wat die vyand so maklik teen ons gebruik in die wêreld daarbuite. Die volgende deel van die teksvers bevestig dit dat mense geneig is om te sit en planne maak teen ons, hetsy om ons skade aan te doen, of skande in ons lewens te veroorsaak, maar ons moet ons nie daardeur laat afsit nie, ons moet steeds  God se Woord oordink, en Sy getuienisse bewaar.

Want doen ek dit op 'n daaglikse basis, dan begin ek agterkom dat God se Woord en Sy getuienisse effektief my "raadsmanne" word wat my lei op die regte paaie van die lewe. Maar juis daarom moet ek tyd spandeer met God en Sy Woord op 'n daaglikse basis, en luister na Sy "raadsmanne" in Sy Woord, en dan word die Here se Woord en Sy instettinge, getuienisse en opdragte, my verlustiging, iets wat ek daagliks kan begin geniet in my verhouding met Hom.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om dieselfde dinge te doen as wat Dawid ook geleer het om te doen en vir ons in hierdie teksverse neergepen het.

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief ook om soos Dawid U Woord te bewaar, dit te ondersoek en uit te leef tot U eer. Leer my ook om te sien wat U my wil leer Here, ongeag wat ander mense rondom my doen. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...