Tuesday 28 August 2018

Weet jy dat jy gered is?


Image result for person praying to god

(Romeine 10:9,10) – “Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

My vraag aan jou vandag is, wéét jy dat jy gered is?

Maak nie saak waar en hoe jy grootgeword het nie, in die kerk, of buite die kerk nie. Want dit is ‘n baie belangrike punt om ‘n antwoord op te hê, aangesien die ewigheid vir ‘n ieder en elkeen van ons wag. En die ewigheid is te lank om ‘n kans te waag dat ek dalk nie die antwoord ken nie.

Kan ons regtig weet dat ons die ewige lewe sal hê? Beslis ja, volgens 1 Johannes 5:13:

“Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Dit is dus NIE waar dat ons “nooit werklik kan wéét” of ons die ewige lewe het, soos sommige mense beweer nie. Maar hoe word ek dus gered? Duidelik dus nie deur te glo dat, omdat ek as babatjie gedoop is is ek gered, of omdat my ouma en my ma Christene was, is ek gered, nie. Wat leer die Bybel ons in die bogemelde teksvers?

1. Ek moet met my mond die Here Jesus BELY, wat beteken ek moet daaroor PRAAT dat ek Jesus as Koning in my lewe het, en

2. Ek moet met my hart glo dat God Jesus uit die dode opgewek het.

Dan SAL ek gered word. Maar daar is ‘n verdere vraag wat ons hier moet by vra, naamlik: HOE het God vir Jesus uit die dood opgewek, fisies, metafories, geestelik of simbolies? Want uit die aard van die saak is dit ook bepalend vir my redding, want oor die eeue is daar al baie teologiese debatte gevoer oor die vraag of Jesus fisies of net geestelik of metafories uit die dood opgestaan het.

Kom ons kry die duidelike antwoord uit die Woord, die aand nadat Jesus uit die dood opgestaan het, in Lukas 24:36-43:

“En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.  En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.”

Hier sien ons dus dat Jesus se dissipels óók gemeen het dat Jesus net geestelik opgestaan het. Maar dan antwoord Jesus die vraag baie duidelik deur vir hulle Sy hande en voete te wys en te sê dat hulle aan Hom moes VOEL, want ‘n gees het nie vlees en bene soos hulle kon sien dat Hy het nie. En verder het Hy vis en heuningkoek geëet, en ons weet dat ‘n gees nie kan eet nie.

Dit beteken dus, dat om werklik gered te word, moet ek die Here Jesus met my mond bely, en ek moet met my hart glo dat God Hom FISIES uit die dood opgewek het. Indien ek DIT nie glo nie, plaas ek inderwaarheid my ewigheid op die spel.

Vriend/vriendin, wéét JY vandag dat JY gered is?

Gebed:

“Vader ek kom bely vandag dat ek ‘n sondaar is en dat ek ‘n Verlosser nodig het, en ek vra U om asseblief al my sondes te vergewe. Here ek bely verder dat ek glo Jesus Christus is self ook God, dat Hy vlees geword het en op aarde kom loop het en aan ‘n kruis gesterf het, ook vir my. Verder weet ek en glo ek vandag dat U vir Jesus fisies uit die dode opgewek het om te kom sit aan U regterhand in die hemele. Daarom bely ek vandag dat ek Jesus Christus aangeneem het, of in hierdie oomblik aanneem as my enigste Koning, Here, Saligmaker en Verlosser. Nou bid ek dat U my sal vervul met U Heilige Gees, en dat U my elke dag op ‘n pad van heiligmaking, geregtigheid en heiligheid sal lei deur U Heilige Gees. Dankie Jesus dat ek U nou ook kan bely met my mond, en U my Koning kan noem, in alle ewigheid. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...