Sunday 17 December 2017

Wanneer alles platval - Kyk op!


Image result for Psalm 5:3


In Psalm 5:3 is geskrywe: “In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.” Die King James bybel stel dit egter so: “My voice shalt thou hear in the morning, O LORD; in the morning will I direct my prayer unto thee, and will look up.”

Jy ken die ritueel – dit gebeur elke oggend. Eerstens, word wakker. Volgende, staan op. Waarom voltooi ons nie die proses nie en KYK OP. Die is die beste manier waarop jy ‘n dag kan begin. Veral wanneer dinge rondom ons in ‘n afwaartse spiraal is. Jy kán opkyk wanneer dinge afgaan. Jy MOET!

Maar wat doen soveel van ons egter? Eerstens, word wakker. Dan voordat jy opstaan, gryp jou “smart” foon – kyk wat jy gemis het deur die nag op “facebook” en ander sosiale media platforms, kyk na die nuus en ekonomiese blaaie, word ontsteld oor wat gebeur het, staan op en pak die dag aan!

Dit is ‘n bewysde feit dat mense die rigting inslaan waarin hulle kyk. Dit is sowel letterlik as figuurlik waar. Stop en bedink vir ‘n oomblik; wat is dit waaraan ek die meeste tyd spandeer om na te kyk? Jou oë sien dit, jou gedagtes bedink dit, jou verbeelding speel daarmee, jou siel begeer dit – en uiteindelik doen jy dit.

Waarom gee ons nie hierdie patroon die kans om op die manier te werk waar die die meeste saak maak nie?

Kyk op na Jesus in die oggend, terwyl jou gedagtes vars en gefokus is en jou energie vlakke hoog is. Hoor wat Hy vir jou sê en sien jouself dan doen wat Hy gesê het. Indien jy hierdie eenvoudige gewoonte aanleer, hierdie geestelike dissipline, sal jy vind dat jy doen wat Jesus van jou verwag.

Aan die ander kant, indien jy afkyk en jouself oorwonne en depressief sien, sal jy sekerlik die dag in ‘n gat van wanhoop deurbring. Kyk af en jy gaan af – Kyk OP en jy gaan OP!

Die Bybel sê in Psalm 34:5: “Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.” Jesaja stel dit as volg in Jesaja 60:4 & 5: “Slaan jou oë rondom op en kyk—hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.” Jou hart sal swel van vreugde.

Een van die mooiste liedere oor tyd vat dit so mooi saam: “Turn your eyes upon Jesus, look full in His wonderful face. And the things of earth will grow strangely dim in the light of His glory and grace.” (Helen H. Lemmel, 1922)

My liewe vriend / vriendin, kyk op. Wanneer alles om jou uitmekaar en inmekaar val – kyk op. Wanneer jy opkyk, sal Jesus jou oplig. So KYK OP!

Ek sien jou bô!

Gebed: “Here Jesus, ek kies vandag om op  te kyk, na U te kyk. Al is dinge hoe donker om my, by U is uitkoms en lig. Help my deur die Heilige Gees om elke oggend reg te begin deur na U te kyk en U stem te hoor. Ek kyk met ‘n verwagting uit na hoe U my lewe gaan verander en gee volle toestemming aan U om dit te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...