Wednesday 26 April 2017

Volg jy My?


 Image result for jesus carrying the cross


Joh 21:21  Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom?
Joh 21:22  Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.

Die hele wêreld het sopas weer paasfees gevier om te herdenk wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Sóveel mense het weer deur baie emosionele oomblikke gegaan tydens dienste wanneer hulle gedink het wat die Here in hulle lewens gedoen het en ander het weer trane weggevee terwyl hul moes luister na die uitbeelding van al die pyn wat Jesus moes deurgaan terwyl hulle Hom gemartel het. En dit alles het Hy uit liefde vir ons gedoen!

Persoonlik dink ek dat die seerste pyn wat Jesus moes deurmaak was toe Hy Godsverlate daar gehang het en moes uitroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat!”  Omdat God sonde haat, kon Hy dit nie verdra om te sien hoé die sonde aan Sy eie seun gehang moes word aan daai kruis nie, en het Hy verkies om liewer Sy aangesig weg te draai van Sy eie kind af!

Tog sê die Bybel dat Jesus dit alles gedoen het “vir die vreugde wat Hom voorgehou is”:

Heb 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Jesus was bereid om Godverlate te wees, sodat ek en jy nooit, ooit Godverlate hoef te voel nie! Hy het die volkome en volmaakte offer gebring, sodat elke mens wie bereid is om Hom as Verlosser aan te neem, met God versoen kan word en ons die oordeel van 'n Heilige God gespaar kan word!

Terwyl ek aan al hierdie dinge dink terwyl ek 'n diens van 'n vriend van my bygewoon het, kom die volgende gedagte by my op: As ons dan 'n Heilige God dien wie tot vandag toe nog die sonde haat, waarom volhard ons dan steeds in die moedswillige sondes? Waarom is ons fokus meer op wat in my mede- broer of suster se lewens aangaan, as wat ek op my eie wandel in Christus fokus? Ons is só geneig om ander te oordeel en kritiseer, dat ons vergeet om die balk uit ons eie oog te haal. Selfs nou in hierdie tye was daar sóveel optogte gehou met plakate wat sê: “weg met Zuma”, maar ek het nie een gesien wat sê: “Here, red sy siel”, nie. Is ons dan nou sonder sonde, dat ons die reg het om te oordeel? Terwyl die Woord sê dat die reddende genade van God aan almal verskyn het!

Tit 2:11  Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
Tit 2:12  en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
Tit 2:13  terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
Tit 2:14  wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Dit is toé dat ek aan die bogenoemde vers uit Johannes herinner word, waar Jesus vir Petrus gesê het: “wat gaan dit jou aan...? Volg JY My!! Ek het toe begin wonder hoeveel mense gaan nog oor 'n week van nou af, steeds só emosioneel aangeraak wees oor wat Jesus vir hul gedoen het, want meeste gaan weer net terugkeer na “life as usual” toe.

Dit is tyd dat ons weer begin om onsself te beproef om te sien of ons nog in die geloof is en om 'n lewe van vrugdra te lewe, sodat ander kan sien dat daar 'n lewende Jesus Christus is wie opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel om die plek op Sy troon weer te gaan inneem!

Vader, vergewe ons dat ons só volhard in die sonde en dat ons die vrees van die Here verloor het. Vergewe ons dat ons meer op ander let as op onsself. Here, lei ons deur U Gees weer terug na U boesem toe, sodat ons 'n heilige lewe vol van die vrug van U Gees sal lewe en ander na U toe sal trek...in Jesus Naam, amen

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...