Thursday 6 April 2017

Spore van geregtigheid


Image result for psalm 23 in afrikaans

“Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van GEREGTIGHEID, om sy Naam ontwil....” (Psalm23:1-3)

Ons almal ken hierdie baie bekende woorde vanuit Psalm 23:1-3. Ek wil vandag net bietjie konsentreer op die sinnetjie wat sê: “Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil…”. Ek het ook ‘n DVD op die mark met die titel: “Wat is Geregtigheid?” Met die opstel daarvan het die Here my gewys dat ‘n losse definisie vir “geregtigheid” is: “God se manier van dinge doen.” Ongelukkig is die woord “geregtigheid” in van die nuwer Afrikaanse Bybelvertalings vervang met die woord “vryspraak”.

Die punt wat daardeur verlore gaan en wat mense dan nie verstaan nie, is dat vryspraak iets is wat ons ONTVANG VAN God, terwyl geregtigheid iets is wat ons DOEN VIR God. Daar is 322 tekverse in die 1933/53 Afrikaanse vertaling van die Bybel wat oor en oor bewys dat geregtigheid iets is wat ons moet DOEN, NADAT ons uit Sy genade gered is.

Om terug te kom na die teksvers waarop ek die week wil fokus, wys dit vir my dat God ons lei in die spore van “God se manier van dinge doen” om Sy Naam ontwil. Wat beteken dit dus vir ons? Dat indien ons lewe volgens Sy leiding in Sy Woord en Sy dinge begin DOEN, begin TOEPAS in ons lewens, dan word Sy Naam in ons lewens verheerlik.

Want dan kan mense na ons kyk en sê: “Waarlik, ek kan sien jy is ‘n kind van God, want jy tree anders as die wêreld op, jy tree op soos God.” Ons kan dus geregtigheid doen in alle aspekte van ons lewens, in ons huwelike, in ons verhoudings met ons kinders, in ons verhoudings met ons werksmense, in ons finansies, ensomeer. Ons moet net deurlopend vir God vra waar doen ons nog nie Sy geregtigheid nie, en deur die sagte stem van Sy Heilige Gees sal Hy stap vir stap vir ons wys op Sy spore van geregtigheid.

Almal van ons was al op die strand by die see. En ons het al almal gesien hoe ‘n pa en sy klein seuntjie op die strand stap, die pa met sy visstok oor sy skouer. Die pa stap rustig, fluit-fluit op pad na waar hy gaan visvang.  Dan sien jy die klein seuntjie agter sy pa, wat tong vasgebyt tussen sy tandjies, met sy kort beentjies van voetspoor tot voetspoor agter sy pa aan spring. Wat probeer hy doen? Hy probeer net in sy pa se voetspore loop!

Nou is my vraag, loop JY al in jou Vader se Voetspore van Geregtigheid? Doen jy al Sy geregtigheid in alle aspekte van jou lewe? Sodat Sy Naam verheerlik kan word in jou lewe?

Kom ons sluit af met die volgende teksvers, en dan vra ons onsself af of ons dit reeds doen?

“My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid DOEN, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af… Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid NIE DOEN NIE, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.” (1 Johannes 3:7-10)

Ons wat dus sê dat ons uit God is, DOEN ons wel al God se geregtigheid? Want indien nie, kan ons volgens hierdie laaste vers nie regtig daarop aanspraak maak dat ons uit God is nie.

Gebed:

“Vader vergewe my my onkunde rakende U geregtigheid. Vergewe my dat ek nie altyd in alle aspekte van my lewe in U spore van geregtigheid gewandel het nie. Leer my asseblief om van vandag af U geregtigheid in my lewe te begin DOEN. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...