Wednesday 29 October 2014

Dit word van ons verwag om te saai...


 
Matt 13:18-23: "…by wie daar op goeie grond gesaai is, …dra inderdaad vrug en lewer 'n oes…" (vs. 23).
 
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog was 'n aantal Poolse soldate naby die woning van Alex Allan by East Fife ingekwartier. Alex en 'n vriend wou graag die Poolse soldate met die Evangelie bereik. Hulle was albei 16 jaar oud. By 'n sendingorganiseerder, eerw. McGregor, kry hulle 'n aantal traktaatjies en Nuwe Testamente in die Poolse taal. Die twee seuns kry verlof om die Poolse soldate te besoek. Die soldate was baie ingenome met die leesstof in hulle eie taal.
 
Byna 30 jaar later, in 1958, vertel 'n vriend van Alex, wat 'n sakebesoek in Poland afgelê het, van 'n aktiewe, evangeliese pastoor wat hy in Poland ontmoet het. Hy word kragtig deur die Here gebruik om sy landgenote na die Here te lei. Die pastoor het vir dié vriend van Alex vertel hoe hy tot bekering gekom het. Hy en 'n aantal ander Poolse soldate was naby East Fife ingekwartier. Hulle was almal moedeloos oor die verloop van die oorlog en hulle het hartseer huis toe verlang.
 
Twee "kinders", vertel hy vir Alex se vriend, het een dag by hulle kamp opgedaag en evangeliese leesstof en Nuwe Testamente aan hulle uitgedeel. 'n Paar dae later is hy, die huidige pastoor, na die front opgeroep. Nog voor die gevreesde oproep gekom het, het hy reeds deur die lees van die traktaatjies en die Bybel wat hy gekry het, die Here gevind.
 
Dwarsdeur die tragiese verloop van die oorlog vir Poland, het die geloofslewe wat in sy hart gekom het, hom in stand gehou. Hy het steeds die traktaatjies en die Nuwe Testament wat hy daardie jare by die sestienjarige Alex en sy vriend gekry het. Alex self het later 'n gevangeniskapelaan geword, wat kragtig deur die Here gebruik is om prisoniers na Hom te lei.
 
Alex is gelukkig dat hy kon hoor van iemand wat 'n vrug was van saaiwerk wat in swakheid gedoen is. Die lewenskrag is egter nie in die hande van die saaier nie, maar in die saad self.
 
'n Traktaatjie met 'n evangeliese boodskap wat na die kruisdood van Christus wys, God se liefde na vore bring, vertroue in die werk van die Heilige Gees vertel en die erns van die ewigheid beklemtoon, kan 'n vrugbare saadjie wees om in iemand se hart wedergeboorte te laat ontkiem. "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike saad: die Lewende en Ewige Woord van God" (1 Petrus 1:23).
 
GEBED: Here, vandag  en elke dag wil ek ook saai. En as jy dit weens omstandighede nie self kan doen nie, ondersteun dan ander aksies wat saai.-Sjibbolet

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...