Thursday 16 April 2020

Gees van vrees vs Corona

Melaatsheid


Die huidige impak van die Corona-virus wat die hele mensdom paniekbevange rondjaag oor die hele aarde, het ook nou sy kloue in ons land kom inslaan. Orals is mense deur vrees gebind en hardloop rond om hulle kaste op te vul en die nodige maskers en handreinigers by die liters aan te skaf, om te probeer verseker dat hulle en hul gesinne “okay” gaan wees gedurende die tydperk van hierdie aanslag op die mensdom.

Baie kinders van die Here is ook in vrees vasgevang en is die betekenis van die naam, “Corona”, in Hebreeus dan ook: “crown of fear”. Tog leer die Bybel dat ons met eer en heerlikheid gekroon is en nie met vrees nie en dat ons nie 'n gees van vreesagtigheid ontvang het nie!

Psa 8:4  wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
Psa 8:5  U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.
Psa 8:6  U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:

2Tim 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

So waarom het hiérdie pessiekte dit reggekry om soos melaatsheid van ouds, die hele mensdom in rep en roer te hê, terwyl die sterftesyfer rondom 3% is en terwyl ander siektes baie meer mense doodmaak? Het ons in Suid-Afrika maar net te gewoond geraak daaraan dat peste, hongersnode en droogtes net in ander dele van die wêreld gebeur? Tog het ons land gebuk gegaan onder die ergste droogte in dekades en is sommige dele steeds gebind deur droogte. En só wrintiewaar...daar daag Corona ook op en staan ons voor die deur van 'n Nasionale -”lock down”.

Baie sou graag die duiwel hiervoor wil blameer, maar wat daarvan as ons dalk net besig is om te beleef hoé die Bybel en Jesus se voorspellings, in ons geslag aan die uitspeel is? Is hiérdie dalk die skudding wat in Hebreërs van gepraat word?

Heb 12:25  Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.
Heb 12:26  Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.

Ek is vas van oortuiging dat dit nou die tyd is, meer as ooit tevore, dat die wêreld die kinders van die Here nodig het en dat ons dít wat ons glo, ook kragtig moet begin lewe! En ons kan sommer begin om op te hou vrees en vir ander 'n struikelblok te wees met ons negatiewe en vreesbevange gesprekke. As hiérdie 'n saak van God is, sal NIEMAND dit in elkgeval ontvlug nie...vraag is: wat gaan die impak wees en hoe gaan ons dit hanteer?

Nog 'n vraag is: Hoé staan ons saak met die lewende God, Jesus Christus van Nasaret en wat gaan ons hê om te toon as ons voor Sy troon staan? Gaan ons in hiérdie tyd te lig bevind word as ons geweeg word, omdat ons te veel met die wêreld besig is, soos Paulus dit gestel het?

2Tim 3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
2Tim 3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
2Tim 3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
2Tim 3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Mense, hiérdie mag dalk na 'n baie harde woord klink vir hiérdie tyd waarin ons is, maar dalk net het Vader 'n “lock down” gereël, sodat ons 'n slag ons lewens en in die besonder ons verhouding met Jesus, in oënskou kan neem, sodat ons kan terugkeer na ons Eerste liefde voordat dit te laat is...en ons as “lou” bevind word en uitgespoeg word!

My gebed vir elkeen van ons, is dat ons in Sy vrede sal gaan rus en Sy woord in ons hart en mond sal vasmaak, terwyl ons werklik weer sal terugkeer na Jesus met ons hele hart, krag en verstand, sodat ons kan staande bly in die tye wat nog oor hierdie aarde sal kom...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...