Friday 6 November 2020

Rus in vrede


Die bogenoemde opskrif, is iets wat ons baie kere op grafstene geskrywe vind, asof dit moet impliseer dat almal na ons afsterwe, in vrede sal wees. Tog is die Bybel baie duidelik dat daar geen vrede vir die goddelose sal wees nie en dat die vuur in die hel nooit sal geblus word nie:

Jes48:22  Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!

Mar 9:44  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

Tog is die Bybel ook baie duidelik dat daar vir ons 'n rus wag waarin ons kan gaan en het ek self ook al baie gewonder oor of dit werklik verwys na die ewige lewe hierná en of dit dalk moontlik is dat ons nou alreeds die rus van God kan binnegaan, soos dit in Hebreërs 4 genoem word.

 Heb 4:1  Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.

Hiérdie gedeelte verwys dan ook na die Israeliete in die woestyn wié nie God se rus kon ingaan nie, omdat hulle nie wou glo nie. Die deel gaan dan verder en praat van 'n sabbatsrus en ook dat dié wie Sy rus ingaan, ook sal rus van hulle werke. Nou aanvanklik maak dit nie sin dat ons moet rus van ons werke nie, juis omdat ons gered is sodat ons die evangelie kan verkondig en dissipels gaan maak...en dan moet die siekes nog genees word, die dooies opgewek word en die demone uitgedryf word...wel, dit klink vir my na werk! Só, hoé moet ons dan rus?

Heb 4:10  want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

 As ons egter na hiérdie deel gaan kyk uit die hoek van die wette versus genade, dan begin dit dalk 'n klein bietjie meer sin maak as daar verwys word na: “rus van sy werke”. Een van die beste maniere om dit dalk meer duidelik te maak, is om terug te gaan na die tabernakel / tempel toe.

Die Hoëpriester was die enigste persoon wie eenmaal per jaar by die Allerheiligste kon ingaan om versoening te doen vir die volk. Hy moes homself behoorlik heilig voordat hy daar kon ingaan en het ook klokkies aan die onderkant van sy kleed gehad, sodat die ander priesters wié net tot in die Heilige deel kon kom, hom kon hoor beweeg. Hy het ook 'n tou aan sy voet gehad sodat hulle hom kon uitsleep as hy dalk om een of ander rede deur God neergevel sou word, terwyl hy die versoeningsoffer bring.

Verder was daar ook geen stoel in die Allerheiligste waarop hy kon gaan sit nie, want sy werk was nooit volkome afgehandel nie. Met Jesus se kruisiging, was daar ook geen “mercy seat” aan Sy kruishout nie en kon Hy ook nooit “rus” van God se werk waarvoor Hy aarde toe gestuur is nie. Dit was eers nadat Hy opgevaar het en gaan sit het aan die regterhand van die Vader, dat Hy kon rus van Sy werke.

Jesus is dan die Hoëpriester wat voor God se troon verskyn het en finaal die mens weer met God versoen het en daarna het Hy gaan sit op Sy troon en aan ons die belofte gegee het dat ons ook nou alreeds deel aan Sy rus kan hê. En daardie rus verkry ons wanneer ons Hom aanneem as Redder en Saligmaker en ons rug keer op die dooie werke wat deur die wette gekom het. 

Heb 4:6  Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,

Heb 4:7  bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

 Heb 4:9  Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God;

Heb 4:10  want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

Heb 4:11  Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

Dit is egter hartseer dat sóveel kinders van die Here in vandag se tyd, wil terugkeer na die werke van die wet, wat voorgeskryf word deur menigte dwaalleringe wat só 100 persent korrek klink. Terwyl Paulus (deur die Gees) dit baie duidelik stel dat sulkes van die genade verval en hulself losmaak van Christus af.

Gal 5:3  En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

Gal 5:4  Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Gal 5:5  Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

Rom 3:20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 

Onthou altyd, dit wat ons uit die geloof vir Jesus doen, is OMDAT ons gered is, en nie SODAT ons daardeur gered kan word nie!

GEBED

Here Jesus, baie dankie dat ek kan weet dat U die werk van Vader op aarde voltooi het en dat U ook nou rus van U werk. Dankie dat U ook aan my deel gegee het aan hiérdie rus en my verlos het van dooie werke deur die wette toe U my aangeneem het as U kind, omdat ek U aangeneem het as my Redder en Saligmaker....amen!

Geskryf deur: ernest phillipson

(ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...