In hierdie onseker tye waarin ons leef, is die mense van ons land besig om na sóveel strooihalmpies te gryp en besig om die een aksie en optog na die ander te reêl, om te kyk of ons nie God se hand in beweging kan bring oor ons land nie. In baie gevalle is hierdie dinge waarmee mense besig is, maar baie onstabiele gronde waarop gebou word, want die hart van die mense is bedrieglik. Hoe hou 'n mens 'n gebedsbyeenkoms met braaivleisvure en drank?
Ek glo dat die bedoeling van die mense werklik is om God se aangesig te soek en hulle te verootmoedig voor Hom, maar as ek luister na baie van die video's en stemnotas wat rondgaan, dan kan ek nie agterkom dat daar werklik 'n bedoeling by mense is om weg te draai van die sondige weë nie. Ek hoor baie mense wat sê: “die Here ken ons hart”...en tog hoor ek nogsteeds die hoeveelheid haat en rassisme wat daar onder selfs kinders van die Here is.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Jer 17:10 Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.
Ek hoor in hierdie video's en stemnotas dat mense aangeraai word om ou weermaglede te kry om hulle plase en persele op te pas en toe kom hierdie vraag by my op: “waar vertoef ek en U as ons dan beweer dat ons wedergebore kinders van Jesus Christus is?”
Kom ons kyk wat het die mense van die Bybel gedoen en dan vra ons onsself weer hierdie vraag.
Hand 1:12 Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ‘n sabbatsreis ver.
Hand 1:13 En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus.
Hand 1:14 Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ‘n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.
Ons lees hier dat die dissipels en 'n aantal vroue onmiddelik teruggegaan het na die plek waar hulle gewoond was om te vertoef, nadat Jesus van hul weggeneem was en Hy nie meer fisies by hulle teenwoordig was nie. Hulle het vasgehou aan Sy beloftes en hul besig gehou deur voortdurend, eendragtig, besig te wees met smeking en gebed. Daar was nie verdeeldheid en onenigheid tussen hulle nie. Hulle het vasgehou aan dit wat hulle geweet het sal werk!
Luk 10:38 En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang.
Luk 10:39 En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.
Luk 10:40 Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.
Luk 10:41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge;
Luk 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.
In hierdie deel lees ons weer die verhaal van Jesus se goeie vriendinne. Martha was die een wie haar besig gehou het met die alledaagse dinge en voorbereidings om sekerlik tog te probeer om te sorg dat alles reg moet wees vir hierdie belangrike Gas wie hulle in hul huis ontvang het. Maria het egter by Jesus se voete vertoef om die “brrod van die lewe” by Hom te kry, want sy het besef dat dit baie belangriker is as die liggaamlike behoeftes.
Joh 13:23 En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.
Joh 13:24 Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit kon wees van wie Hy spreek.
Joh 13:25 En hy val op die bors van Jesus en sê vir Hom: Here, wie is dit?
Toe Jesus by die laaste maaltyd saam met Sy dissipels, bekend maak dat een van Sy binnekring vriende Hom sou verraai, het Petrus vir Johannes geknik om vir Jesus te vra wié hierdie verraaier is. Ons sien duidelik uit hierdie deel dat Johannes se liefde vir Jesus baie intens was en dat hy gereeld soos 'n klein seuntjie teen sy Pappa se bors gelê het. Hy wou altyd naby Jesus vertoef en het gesmag na daai liefde van Sy Here om tasbaar deur hom te vloei.
Psa 23:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Psa 27:2 As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.
Psa 27:3 Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.
Psa 27:4 Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.
Psa 27:5 Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots.
Dawid word deur God bestempel as 'n ware man na Sy hart en as ons net na hierdie twee Psalms kyk, dan kan ons sien dat Dawid se begeerte altyd was om naby die Here te vertoef. Hy was sekerlik die een figuur in die Bybel, wie die meeste moes vlug voor sy aanvallers en vervolgers. En tog het hy geweet dat die belangrikste deel van die lewe, is om by die voete van die Here te vertoef. In Ps 51 lees ons ook dat Hy die Here smeek om asseblief nie Sy Gees van hom te weerhou, oor sy sondige dade nie.
Luk 22:39 En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.
Mar 1:35 En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid.
Jesus het ook die gewoonte gehad om stil te gaan word by Sy Vader se voete en tydens Sy bediening rondom die see van Galilea, lees ons gereeld dat Hy die mense weggestuur het en na 'n eensame plek gegaan het om te bid. Omdat Hy volledig mens was soos ons en geweet het waarvandaan Hy kom en weer teruggaan, het Hy geweet hoé belangrik dit is om by Vader te vertoef, sodat ons kan staande bly in hierdie stryd op aarde teen die bose magte en ook om duidelik te kan hoor wat Vader se wil vir ons is.
Hand 2:46 En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet,
Hand 2:47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.
Nadat die dissipels met die Heilige Gees vervul is, het hulle daagliks gemeenskap met mekaar gehad en volhard in aanbidding en lering in die tempel. Dit was nie 'n eenkeer- per-week ding vir 'n uur of twee nie, maar hulle het regtig bemoeienis met mekaar gemaak. Ons het egter só vasgevang geraak in hierdie gejaagde lewe, dat ons nie meer tyd oor het vir ons broers en susters nie, wat nog te sê die bure om ons. Baie keer ken ons nie eers die bure langs ons nie.
Miskien moet ons net weer 'n bietjie tyd maak om te besin oor die dinge waarmee ons onself besig hou en die dinge waaroor ons besorg is. Want ons is baie keer meer besorg oor ons besittings en wêreldse goed en oor ons land, as oor ons buurman wie se siel oppad hel toe is. Baie word gegee vir die bewaring van renosters en walvisse, maar karig word dit gesaai in die koninkryk van God ter wille van siele wat gered moet word en broeders en susters wat verkwik moet word .
Maak tyd vandag en vra jouself die vraag: “waar vertoef ek in hierdie tye?”
Gebed: Hemelse Vader, ons het werklik U hulp nodig in hierdie land en erken vandag dat ons nie sonder U kan lewe nie. Ons bely ons sonde van afvalligheid vandag en dat ons baie kere op verkeerde pekke vertoef het. Wees ons genadig en wys ons weer die pad terug na U boesem en U hart en gebruik ons ook om ander op te help wie geval het en om in vrede met ons medemens,U skepsels, saam te leef. Vergewe ook ons vrese en bekommernis en help ons om weer onder U vleuels te skuil...amen!
(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys