Wednesday, 29 October 2014

Dit word van ons verwag om te saai...


 
Matt 13:18-23: "…by wie daar op goeie grond gesaai is, …dra inderdaad vrug en lewer 'n oes…" (vs. 23).
 
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog was 'n aantal Poolse soldate naby die woning van Alex Allan by East Fife ingekwartier. Alex en 'n vriend wou graag die Poolse soldate met die Evangelie bereik. Hulle was albei 16 jaar oud. By 'n sendingorganiseerder, eerw. McGregor, kry hulle 'n aantal traktaatjies en Nuwe Testamente in die Poolse taal. Die twee seuns kry verlof om die Poolse soldate te besoek. Die soldate was baie ingenome met die leesstof in hulle eie taal.
 
Byna 30 jaar later, in 1958, vertel 'n vriend van Alex, wat 'n sakebesoek in Poland afgelê het, van 'n aktiewe, evangeliese pastoor wat hy in Poland ontmoet het. Hy word kragtig deur die Here gebruik om sy landgenote na die Here te lei. Die pastoor het vir dié vriend van Alex vertel hoe hy tot bekering gekom het. Hy en 'n aantal ander Poolse soldate was naby East Fife ingekwartier. Hulle was almal moedeloos oor die verloop van die oorlog en hulle het hartseer huis toe verlang.
 
Twee "kinders", vertel hy vir Alex se vriend, het een dag by hulle kamp opgedaag en evangeliese leesstof en Nuwe Testamente aan hulle uitgedeel. 'n Paar dae later is hy, die huidige pastoor, na die front opgeroep. Nog voor die gevreesde oproep gekom het, het hy reeds deur die lees van die traktaatjies en die Bybel wat hy gekry het, die Here gevind.
 
Dwarsdeur die tragiese verloop van die oorlog vir Poland, het die geloofslewe wat in sy hart gekom het, hom in stand gehou. Hy het steeds die traktaatjies en die Nuwe Testament wat hy daardie jare by die sestienjarige Alex en sy vriend gekry het. Alex self het later 'n gevangeniskapelaan geword, wat kragtig deur die Here gebruik is om prisoniers na Hom te lei.
 
Alex is gelukkig dat hy kon hoor van iemand wat 'n vrug was van saaiwerk wat in swakheid gedoen is. Die lewenskrag is egter nie in die hande van die saaier nie, maar in die saad self.
 
'n Traktaatjie met 'n evangeliese boodskap wat na die kruisdood van Christus wys, God se liefde na vore bring, vertroue in die werk van die Heilige Gees vertel en die erns van die ewigheid beklemtoon, kan 'n vrugbare saadjie wees om in iemand se hart wedergeboorte te laat ontkiem. "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike saad: die Lewende en Ewige Woord van God" (1 Petrus 1:23).
 
GEBED: Here, vandag  en elke dag wil ek ook saai. En as jy dit weens omstandighede nie self kan doen nie, ondersteun dan ander aksies wat saai.-Sjibbolet

Herlewing in Suid-Afrika




Sien ook"Ach Heer... krijg tog voor mij jammer" inskrywing
 
Deur Ds F.J. Liebenberg

“Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal My
Gees op jou nageslag giet en My seën op jou nakomelinge.”  – Jesaja 44:3
 
SOOS daar tye van verkwikking in die enkeling se lewe kom wanneer hy na lange wag daarom gebid het omdat daar ‘n maerte in sy siel was, net so kom daar tye van kragtige herlewing in die lewe van die Kerk na tye van verslapping en nadat die kinders van die HERE Sy aangesig aanhoudend gesoek het en gewillig was om die prys van selfopoffering te betaal.
           
So het daar in die jare vanaf 1859 ‘n baie kragtige werking van God se Gees in SA plaasgevind, wat die gevolg was van lang, maar ernstige gebedsvoorbereiding deur menige kind van God wat bekommerd gevoel het oor die lae geestelike toestand van sovele in die Kerk van Christus, omdat die Gees van God as’t ware direk tot die kinders van die HERE begin spreek het oor hul sondige toestand.
            Maar ook was die roering in Suid-Afrika tot ‘n mate die gevolg van berigte oor groot herlewings in Amerika en Brittanje in die jare 1857-1858.
            Die kenmerke van hierdie opwekking was dat mense sommer direk vanuit die Hemel deur God se Gees tot oortuiging van sonde gekom het. Die Gees het so kragtig gewerk  dat mense nie hulself kon verhelp om selfs in die openbaar tot God om genade te roep nie!
            Liefde vir verloregaande siele was nog ‘n kenmerk van hierdie opwekking.
            Die herlewing het vinnig opgevlam en uitgebrei en dit het nie lank geduur nie, of die Gees van God het ook in Brittanje, Ierland en Wallis begin werk.
            Hierdie heerlike nuus het SA begin bereik en die kinders van die Here ook in ons eie kerk, het verlang na ‘n dergelike en nodige herlewing.
            In die Kerkbode van Augustus 1859 kom ‘n oproep tot gebed onder leiding van di. Faure, Morgan en Cameron namens die Zuid-Afrikaansche Evangeliese Verbond aan Evangelie-dienaars van alle kerkgenootskappe.
            Onder meer staan daar: Dat ‘n herlewing in die Godsdiens nodig en ernstig te begeer is, is ‘n feit wat niemand in twyfel sal trek nie, wat enigsins bekend is met die geestelike toestand van die kerke in hierdie hele kolonie. Dat sodanige opwekking teweeg gebring kan word alleen deur ‘n oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees en dat die Gawe van die Heilige Gees beloof is in antwoord op gebed, is waarhede wat duidelik in die Skrif geleer word.
            Daar word besluit: Dat ‘n reeks preke gelewer word op agtereenvolgende Sondae oor die Goddelike persoonlikheid, die ampte en die werk van die Heilige Gees, dog, meer besonderhede van die groot behoefte wat daar teenswoordig bestaan aan die ernstige gebed in die binnekamer en in die openbaar om ‘n algemene uitstorting van die Gees op die siele van individuele Christene, op die gemeentes waar hulle aanbid, en op die belydende Kerk van Christus.
            Die redakteur van Die Kerkbode het ses artikels geskryf oor gebed, ‘n verwerking van biskop J.C. Ryle oor die onderwerp. Ook is geskryf oor die uitstorting van die Heilige Gees.
            In Oktober van daardie jaar, verskyn ‘n brief, deur 14 van ons ouere en mees bekende predikante waarin hulle melding maak van die merkwaardige Geestelike opwekking in Amerika en elders, asook: Onder onmiskenbare tekens word die Heilige Gees daar oor duisende uitgestort. Die verbasendste omkerings het plaasgevind.
            Die brief sluit met die volgende oproep:
 
·       “Ons bid u, pleit op die beloftes van God, grond u geloof en u verwagting daarop. Ons wek u ernstig op om gelowig en vuriglik elke week een uur, dit sy saam met andere of in die binnekamer, God te bid dat Hy ook ons land genadiglik mag besoek en ons die seën van die uitstorting van die Heilige Gees mag gee, soos Hy dit op die oomblik besig is om uit te stort op ander dele van die aarde.”
 
            “Om ‘n verslag te gee van die hele verloop van die herlewing in SA, sal te lank neem. Ons berig derhalwe net oor ‘n paar gemeentes om ‘n beeld te gee van hoe die Heilige Gees gewerk het.
            “Die opwekking het net na ‘n Worcester-konferensie met groot krag op Montagu, waar daar toe nie ‘n predikant was nie,  uitgebreek.  Sonder om dit te besef, was hierdie gemeente reeds vir ‘n jaar lank deur die HERE vir die opwekking voorberei. Hier was gewoonlik net drie mense in ‘n biduur.
            “Januarie is ‘n biduur begin wat vroeg op ‘n Sondag plaasgevind het. Die Sondagdienste wat vroeër swak bygewoon was, het dadelik begin verbeter en die belangstelling in die Woord het begin toeneem.
            “Daar was ‘n groter lus om te bid en ‘n groter liefde na God se Woord. Mense het begin stroom na die bidure. Bidvertrekke het spoedig te klein begin word. Daar is toe besluit op afsonderlike bidure vir mans, vroue, seuns en meisies.
            “Bidure is later daaglikse gehou, soms meer as een keer per dag. Daar was ‘n kragtige werking van God se Gees in so baie harte. Mense het in hulle nood uitgeroep:
 
·       Wat moet ek doen om gered te word!
 
“Beraders het dae aaneen gewerk sonder rus. Bejaardes en jongmense, Blank sowel as Bruin, was aangeraak. Daar was haas geen huis op die dorp wat nie betrokke was nie. Bevooroordeeldes is self ook deur die Gees aangegryp. Die hele samelewing het verander, en is letterlik omgekeer.
“Worcester het dit ook belewe. Dit het in die Breërivier en Goudini begin en deurgedring na die dorp en ander wyke van die gemeente. Soms in die eensaamheid en soms in die openbare bidure het daar van die kragtigste werkinge van die Gees geskied. Oud en jonk het gedring gevoel om na die bidure te gaan.
            “Oor wat op die dorp gebeur het, vind ons ‘n beskrywing van in die Kerkbode van 31 Augustus 1905:
            “Op ‘n Sondagaand was ons weer bymekaar, sowat 60 van ons. Ek het ‘n vers laat sing, ‘n gedeelte uit die Skrif voorgelees, ‘n gebed gedoen, en daarna soos ons gewoonte was, geleentheid gegee aan wie ook al ‘n vers wou voorlees en wou voorgaan in gebed.
            “’n Bruinmeisie van 15 jaar het agter in die saal opgestaan en wou sy weet of sy ‘n vers kon opgee.
            “Na huiwering het ek op aandrang van die Gees van die HERE haar toegelaat om dit te doen. Dit was Gesang 39 vers 4.
            “Daarna het sy haar hart in ‘n roerende gebed uitgestort.
“Onder die gebed was dit asof daar ‘n geruis in die verte hoorbaar was wat al luider geword het en al hoe nader gekom het, totdat dit wou voorkom asof die hele saal beweeg word.
            “Met enkele uitsonderings het almal wat aanwesig was begin bid. Dit was  ‘n oorverdowende ‘geraas’.
            “In daardie tyd was ds Andrew Murray predikant op Worcester. Dieselfde Sondagaand het hy ‘n diens by ‘n gemeente in Engels waargeneem. Ouderling Jan Rabie by ons saal  verbygekom en die “lawaai” gehoor. Hy het dadelik vir ds Murray gaan roep.
”Ds Murray het na vore gestap en my laat verstaan dat ek van my knieë af moes opstaan. Hy vra toe wat gebeur het, en het daarna ‘n ent in die saal tussen die mense ingeloop en so hard hy kon gebied:  Mense bly stil!
            “Maar die gebede het eenvoudig aangehou. Weer het hy hardop geroep: Mense ek is julle predikant van God gestuur, bly tog stil!
“Dog, daar was niks aan te doen nie. Die mense het hom nie gehoor nie. Hulle het aangehou met bid en om genade en ontferming geroep. Ds Murray sê toe ek moet ‘n vers laat sing: Help die siel wat radeloos Skrei,  maar dit het ook nie gehelp nie, die biddery het net aangehou.
“Ds Murray sê toe God is ‘n God van orde en hier is alles wanorde, en daarmee het hy die saal verlaat.
“Van toe af is die bidure elke aand gehou. Die bidure het soms tot drie-uur in die more geduur en dan was sommige nog traag om die saal te verlaat. Al singende het hulle dan deur die strate geloop.
“Die saaltjie het gou te klein geword en ons moes na die skoolgebou verhuis. Ook dit het te klein geword toe die mense van buite die dorp begin instroom om die bidure by te woon.
“Die eerste aand in die groter gebou was ds Murray voorsitter. Nadat hy gelees, ‘n paar opmerking gemaak en gebid het, het hy geleentheid vir gebed gegee. Onder die gebed het die gedreun in die verte weer hoorbaar geword en spoedig was die hele vergadering aan die bid.
“Ds Murray het weer onder die mense ingeloop om orde te probeer handhaaf…
“’n Vreemdeling wat by die deur alles gadegeslaan het, het saggies na ds Murray gestap en aan hom gesê: Wees versigtig wat u doen; dit is die Gees van die HERE wat hier werk. Ek het so pas van Amerika af teruggekom en wat hier gebeur is presies wat ek daar met die herlewing gesien het.
“In ‘n ander deel van die gemeente op die plaas Aan De Doorns, het die Here ook so wonderlik gewerk.
“Daar was drie persone wat deur God gebruik was: Mnr Jan Naudé, seun van mnr Dawid Naudé, die eienaar van die plaas, mej. Van Blerk, ‘n susterskind van mnr Dawid Naudé, en ou Saul Pieterse, ‘n Bruinman wat bekend gestaan het as Saul die Profeet.
“Hierdie mense het vir ‘n baie lang tyd ernstig om herlewing gebid.
“Op ‘n sekere aand in hierdie tydperk het die Gees van die HERE sommer skielik op kragtige wyse onder die Bruinmense begin werk. Dit het so erg daaraan toegegaan dat mej. Van Blerk na buite gehardloop het om hulp te gaan soek.
“Sy moes hierna dorp toe weens haar fisiese afgematheid, maar na ‘n week was sy weer terug. Die Bruinmense het haar halfpad gaan ontmoet weens hulle dors na saligheid.
“Bidure was in die Naudé-woning elke maand volgens gewoonte gehou, maar toe begin die mense in die buurt die bidure toe te stroom en wat elders gebeur het, het ook hier gebeur. Die Gees het hom eenvoudig nie laat keer nie!
“Die biduurgangers was Blankes en Bruinmense. Daar was ‘n lieflike gees onder hulle. “Een aand het ds. Murray gekom en probeer om die mense tot orde te roep, maar net nadat hy gepraat en daar weer geleentheid vir gebed gegee was,  het die almal sommer oral in gebed en smeking om genade uitgebreek.
Ou Saul spring toe op en sê aan ds Murray en mnr Naudé: Gooi nou die damwal as julle kan, waarmee hy honend bedoel het: Julle wil mos die Gees keer, doen dit nou as julle kan.
“Op die plaas het feitlik almal tot bekering gekom. Berigte van die herlewing het versprei sodat mense met waens en motors van ander gemeentes na die plaas gekom  het om dit te beleef het. En daar het menigeen vir die eerste keer die Lig gevind.
“Dit word vertel dat mense soms net wanneer hulle aan die deurknop geraak het, so deur God se Gees oortuig geraak het van sonde, dat hulle platgeval en uitgeroep het:
 
·       God, wees my arme sondaar genadig!
 
“Die boerdery moes drie maande lank gestaak word vanweë die toeloop van mense wat gehelp moes word. Hier het wyle ds Rabie ook vir God gevind en besluit om na die Kweekskool te gaan.
“Dit was wonderlike tye hierdie. Vrugte was wonderlik en blywend. Ander plekke waar die HERE ook lieflik gewerk het was Wellington en Calvinia. Lidmate van albei gemeentes wat in daardie stadium ook nie predikante gehad het nie, het die herlewing op  Montagu, besoek en so die herlewingsvuur na hul onderskeie dorpe teruggeneem.
“Waarlik, wanneer die HERE werk dan gebruik Hy diegene wat gewillig is om Hom geheel en al te vertrou en te gehoorsaam.
“Oor die herlewing op Graaff-Reinet, skryf Die Wekker van 1 Mei 1861: Kan u glo dat die opwekking werklik hier is en dat God se Gees waarlik uitgestort word op Graaff-Reinet? Ook hier was die kreet:
 
·       Wat moet ek doen om gered te word!
 
“Die Sondagaand na die Nagmaal het die HERE wonderlik gewerk. Spotters is deur die HERE getref toe hulle bloot uit nuuskierigheid daar aangekom het.
“Die biduur het vanaf Sondagaand  tot Dinsdag 12nm geduur en boere het die middag eers na hul plase teruggekeer.”
            Dan skrywe ds. Liebenberg: Dis is genoeg om u te laat verlang dat God in Sy teerste liefde ook vir ons in hierdie dae opnuut sal ontmoet op ‘n ewe kragtige wyse. En, o, hoe nodig is dit nie! Maar dan sal daar ‘n steeds groter wordende aantal bidders moet opstaan wat bereid sal wees om aan die voorwaardes te voldoen naamlik: Hulle sal moet opoffer en tyd maak vir gebed.
Die antwoord is om by bestaande gebedsvure aan te meld of om nuwes, ja, sommer in u huis, te begin… vandag nog. Ons het ‘n herlewing nodig, meer as ooit te vore. Hierdie keer kan dit in SA begin en soos ‘n kragtige veldbrand deur die wêreld woed!  Dit is wat Suid-Afrika so broodnodig het:  Verootmoediging en herlewing! – Sjibbolet

"Ach Heer... krijg tog voor mij jammer"




Sien ook Herlewing in Suid-Afrika inskrywing
 
Stephanus Hofmeyr is op 3 Junie 1839 gebore.  Hy was die eerste buitelandse sendeling van die NG Kerk en het in die vroeë 1860’s met sendingwerk begin in die Soutpansberg-gebied. Die groep onder wie hy gewerk het, het onder leiding gestaan van Michael Buys, een van die seuns van die bekende Coenrad Buys.
 
Oor sy tyd in Bredasdorp waar hy waarnemende klerk was vir sy pa wat die landdros was het hy die volgende gesê: "Ik was een voorpaard van den Duivel, en bewandelde den breeden weg des verderfs met alle mijne krachten."
 
Aan die einde van 1858 is hy na sy Oom in Prins Albert "om boerdery te leer". Ek haal aan uit W.L. Maree se boek Lig in die Soutpansberg: "Hy het weer begin om sy Bybel gereeld te lees en soggens en saans te bid. Op reis met die ossewa het hy selfs saans by die wa vir die bediendes godsdiens gehou, en as sy oom van die huis af was het hy tuis die huisgodsdiens gelei.
 
Hy sê hy het vroom geword en is gerespekteer, maar hy het diep gevoel dat hy met sy vroomheid verlore gaan, omdat hy onwedergebore was.
 
In 1861 tydens die herlewing is in daardie distrik ook met bidure begin. Stephanus het hom steeds meer oor sy eie toestand bekommer." Die herlewing verwys na die herlewing wat na die Worcester-konferensie van 1860 uitgebreek het.
 
In April 1862 kom hy kragdadig tot bekering terwyl hy in die stookketel op die plaas werk. Hy beskryf dit as volg: "Terwijl ik zoo stond, zeide ik, Ach Heer, wat zal ik doen, ik heb alles geprobeerd en niets helpt, ik kan niet meer bidden of weenen, krijg tog voor mij jammer'.
 
Op dat oogenblik, bliksemsnel was het asof de Hemel en mijn hart tegelijk opensprongen. Een gloed van liefde verwarmde mijne ziel.
 
Ik zeide “Wat is dit? Is dit de liefde van den Heere Jezus?” Alles in mij zeide: “Ja, dit is wat gij al zoo lang zoekt en dat de Heer van eeuwigheid voor u gevoeld heft”.
 
O welk eene liefde gevoelde ik tot den Heiland. Het was asof ik door duizend vuren naar Hem zou kunnen loopen. Ik was aan brand van liefde. De tranen barstten mij uit de oogen. Ik nam den trechter weg, zette de spon op het spongat, bracht den ledigen emmer naar zijn plek en riep: “O, dat ik toch een hoogen berg kon beklimmen en de geheele wereld toeroepen en verzekeren, dat de Heer Jezus zondaars lief heeft!"
 
·       Oral in Suid-Afrika is gebedsgroepe besig om toe te neem in getalle met ernstige voorbidding vir Herlewing. Hierdie skrywe van ds. FJ Liebenberg, oor die Herlewing wat in 1858 begin het,  word opnuut versprei om die gebedsgroepe aan te moedig om voort te gaan met hul Herlewingsgroepe na die Almagtige God.-Sjibbolet

Wednesday, 22 October 2014

'n Verhaal van Geloof




Lukas 11:9-13: "As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!"

Eerw. John Bisango, van Houston, vertel in sy boek, The Power of Positive Praying, dat sy vyfjarige dogtertjie, Melodye-Jan, hom kom vra het om vir haar 'n pophuis te bou. Hy het dadelik instemmend geknik en toe verder gegaan met die boek wat hy besig was om te lees.

Eenkeer kyk hy deur sy studeerkamer se venster en hy sien Melodye-Jan heen en weer tussen die agterplaas en die huis hardloop met arms vol speelgoed, poppe, borde, koppies, totdat sy 'n hoop speelgoed in die agterplaas opgestapel het.

Hy vra sy vrou daaroor. Sy antwoord met 'n glimlaggie: "Jy het belowe om vir haar 'n pophuis te bou en sy het jou geglo. Sy is nou net besig om haar daarvoor in te rig." Hieroor skryf hy: "You would have thought I'd been hit by an atom bomb. I threw aside that book, raced to the lumber yard for supplies, and quickly built that little girl a doll house."

Dan vra hy wat hom beweeg het om so vinnig die pophuis te gaan bou. En hy gee die antwoord, in sy eie woorde: "Her daddy had given his word, and she believed it and acted upon it. When I saw her faith, nothing could keep me from carrying out my word."

JAK 2:17  “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”
JOH 14:12  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal meer werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”-Sjibbolet

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...