Wednesday 27 May 2015

Hoe moet ons geloof wees?


Image result for jesus christ 



2 Kor. 13:5 sê:

"Ondersoek julleself en stel julleself op die proef of julle in die geloof lewe." Paulus sê Kyk of jou verhouding met die HERE  nog reg is!
Bely ons dus nie Jesus Christus voor die mense nie, dan bely Hy ons nie voor die Vader nie, met die geval dat ons onsself beroof  van seëninge.
Geloof is ‘n gawe wat jy by die Wedergeboorte ontvang het. Deur die Woord in jou hart te bêre en as lamp vir jou voet te gebruik, bou jy jou geloof uit.

Efes 6:16  “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.”  

Wat moet ek glo?  Moet ek net glo dat God bestaan?

Ek moet glo dat Jesus Christus vir my aarde toe gekom het, vir my sonde aan die kruis  gesterf het en dat God die Vader Hom uit die dood opgewek het. Dat Hy opgevaar het na die Hemel en vandag sit aan die regterhand van God as my Middellaar en Verlosser.  En dat Jesus die Heilige Gees gestuur het as Trooster vir ons nadat Hy na die Vader gegaan het.

Ons moet dus glo in die Drie-eenheid, God die Vader, God die Seun, Jesus Christus en God die Heilige Gees.

1 Joh 5:7“Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord (Jesus Christus is die Woord) en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.”  Hierdie is die enigste waaragtige en lewende God.

Is dit al wat van my verwag word? Dat ek net moet glo? Nee jy moet dit ook bely met jou mond!  Sodat satan dit kan hoor en kan weet dat jy ‘n Kind van God is, sodat hy jou nie kan kom oortuig dat jy nie ‘n geredde persoon is nie. Onthou satan sal alles probeer om ons te laat wankel in geloof, hy is die vader van leuens en wil jou potjie en seker maak dat jy nie die ewige lewe be-erwe nie.

Rom 10:9 & 10 sê  “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

Jesus sê self: As julle My voor die mense bely, dan sal Ek julle voor die Vader bely.
Jy het geen professionele opleiding nodig om jou getuienis uit te dra nie, en jy mag nie weier om dit uit te dra nie.

Jak 2:19 & 20 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder”  (20) Maar wil jy weet o nietige mens, dat die geloof sonder werke dood is?
Met die bogenoemde vers sien ons, dat ons nie net moet glo nie, maar ook moet leef soos Christene, soos duur gekoopte, skoon gewaste, Heilige Gees ingeworpe kinders van God. Reeds met die verbond met Abraham het Jesus verklaar dat Hy bereid is om die prys te betaal, al was Hy onskuldig.

Rom 14:23  “…en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” 

God het met Abraham ‘n verbond  aangegaan, wat my en jou beïnvloed.
In Gal 3:7-9: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.”  

Wat is geloof ?

Rom 10:17: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God.”  So deur te luister, en te doen wat die Woord van God sê…… kom geloof.
!!! Heb 11: 1 sê: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” 

As ons sê dat ons gelowiges is, of Christene is moet ons met ‘n vaste vertroue glo in dit wat ons nog nie kan sien, beleef, ervaar nie. Ons kan nie na God gaan met ons probleme en dan wankel in geloof dat God dit vir ons gaan oplos, of voorsien, of help nie!
Ons kan ook nie ons probleme vir God gee, en dan self ‘n oplossing soek nie, want dan glo ons nie met ‘n vaste vertroue dat Hy dit vir ons gaan doen nie, dan staan ons nie in geloof met ‘n vaste vertroue in God en Sy Woord nie!

: Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” 

Ons moet God behaag deur geloof, ek moet Hom vertrou en ook glo dat Hy ‘n beloner is, want as ons nie doen nie staan ons skuldig voor God.

1Tim 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.” 
in Mat 17:20, Jesus sê: “…voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” 

Wie gaan die berg (probleem) skuif, nie jyself nie!! Nee God gaan die berg skuif, jy moet net die geloof van ‘n mosterd saad hê dat God dit wel vir jou sal doen!

Jer 39:18  “Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ‘n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE.” 

Dan sê Jesus Christus aan ons, soos wat Hy aan die dissipels gesê het: “Waarom is julle so bang? Het julle dan geen geloof nie?.”

Trek die volle wapenrusting van God aan sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die bose. (Efes 6)

Jesus Groete

Indien jy geestelike berading of gebed benodig, kontak my, belindapaar@gmail.com

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...